Wie leer van wie?
Professor Kobus v d Walt het
gedurende sy radiopraatjie gesê dat iemand hom per epos daarop gewys het dat hy
'n fout begaan het met 'n stelling in 'n vorige program. Die professor het
erken, dat hy by nadere ondersoek, ontdek het dat hy wel 'n fout gemaak het.
Dis waarom ek so baie respek vir hom het. Hy het nie toegelaat dat hoogmoed die
oorhand oor gesonde verstand kry nie. Dis waarom hy dit so ver gebring het op
sy vakgebied.
Ons kan altyd iets van iemand anders
leer, as hoogmoed ons nie doof en blind maak nie. Dit laat my nou dink aan iets
wat gebeur het, toe my nefie en ek as skoolkinders langs die Vetrivier gespeel
het.
Ons het 'n perdekar hoor aankom
tussen die bosse aan die oorkant van die rivier. Daar was 'n pad, wat 'n paar
honderd tree stroomaf deur die rivier gegaan het. Ons het verwag om die
perdekar tussen die bome te sien verskyn, maar skielik het die geklop van die
draaghout op die disselboom stil geword. Na verloop van 'n minuut of wat, het
die draaghoud weer saggies begin klop en al harder geword en ons het verwag om
binne enkele oomblikke die perdekar te sien. Skielik was alles weer stil en ek
het so 'n effense krieweling in my nekhare gevoel. Toe die perdekar 'n derde
keer weer stil word, sonder dat ons dit kon sien, het my nefie se oopgesperde
oë my vermoede bevestig. Ons het opgespring en wou rieme neerlê huis toe, toe
ons vir ou Andries, die skaapwagter, agter ons sien. Hy het ons benoudheid
gesien en hy het ook die geluid gehoor, wat ons gedink het 'n spookperdekar is,
het hy uit ondervinding herken as die geluid van 'n erdvark wat 'n gat grawe.
Hy het verduidelik dat die erdvark diep onder in die gat 'n klompie grond
losgrawe en dit dan skop, skop, skop tot by die opening van die gat uit. Ons
wou hom nie glo nie, maar hy het volgehou dat die erdvark net weer terug gaan
om die proses te herhaal. Ons gepraat voor die bek van die gat het die erdvark
sy bedrywigheid laat staak, maar ons kon tog die klam vars grond voor die gat
sien, wat net 'n paar tree was van die plek waar ons gesit het.
In ons eie oë was ons redelik
geleerd, met ons standerd twee en standerd drie sertifikate, terwyl die
skaapwagter waarskynlik nog nie die binnekant van 'n boek gesien het nie! 'n
Mens kan altyd iets van 'n ander leer!
'n Sagte manier om 'n sekere toestand
by sekere mense te stel.
Baie mense is te dom om te besef dat
hulle nie so slim is as wat hulle dink hulle is nie.
Die
tragedie vir die sulkes is dat ander mense dit wel kan raaksien, hoe hulle in
hul gekke paradys voortploeter!
Dis baie moeilik om van so 'n
voortvarende, in 'n hoë posisie, ontslae te raak, want in 'n demokratiese
stelsel het die idioot dieselfde stemkrag as die genie, die dwaas het dieselfde
stemkrag as die wyse en die skelm [selfs al sit hy in die tronk] het dieselfde
stemkrag as die eerlike.
No comments:
Post a Comment