Spesialisasie
Die motor vervaardigings bedryf is
vandag een van die suksesvolste ondernemings op aarde. Dit het wel heelwat meer
as ‘n eeu geneem om die huidige vlak van doeltreffendheid te bereik, maar daar
was sekere ontwikkelings wat die bedryf ‘n hupstoot gegee het. Omdat ek nie oor
die nodige kennis beskik nie, gaan ek nie oor die bydrae van die rekenaar tot
die suksesverhaal skryf nie, hoewel ek weet dat dit fenominaal is. Wat ‘n baie
groot bydrae in die vroeë stadium van die bedryf, tot die sukses bygedra het,
is spesialisasie.
Die eerste motors is individueel met
die hand vervaardig en dit het baie probleme veroorsaak en was ontsettend
tydrowend. Die eerste geniale ontwerper en vervaardiger was ook nie bereid, om
werk aan sy tweede motor te staak, om ‘n onderdeel vir die eerste motor te
vervaardig, wanneer dit vervang moes word nie, dus moes ‘n ander persoon gevind
word om die onderdeel te vervaardig en hy het waarskynlik nie oor die
vaardigheid beskik nie.
Vermoedelik was dit Henry Ford wat die
voordeel van massaproduksie ingesien het en begin het om uitruilbare onderdele
te vervaardig. Nou was dit moontlik om een of meer fabriekswerkers te leer om
slegs een van die groot verskeidenheid onderdele te vervaardig. Op die manier
kon die werker se vermoë ten beste ontwikkel. Minder geniale werkers was in
staat gestel om naby volmaakte onderdele te vervaardig. Selfs met die montering
van die voertuie is dieselfde beginsel toegepas.
Die tragedie in Suid Afrika is die
skokkende toestand, dat onderwys owerhede nou na meer as 100 jaar, nog nie
daardie beginsel begryp nie! Wat uitkomsgerigte onderwys beteken, weet ek nie
presies nie, maar dit lyk nie vir my of dit spesialisasie is nie, want ek sien
steeds hoe leerlinge op skool, se standaard van onderrig verlaag word, sodat so
veel as moontlik in universiteite ingeprop kan word tot die frustrasie van ‘n
intelligente rektor, wat moet sukkel met eerstejaars wat nie kan lees of skryf
nie!
Universiteitsopleiding is duur en tydrowend, omdat dit
gewoonlik ‘n wye veld van opleiding dek. ‘n Ontwikkelende land het vakmanne
nou, of so gou as moontlik nodig, nie oor 3 of 5 jaar nie. Die bevolkings
aanwas in ag genome, laat ‘n probleem ontstaan dat wanneer die huidige
beginners opgelei is, daar weer twee keer soveel beginners opgeneem moet word
op ‘n onveranderde basis, wat beteken dat daar twee keer soveel universiteite
nodig is! Wie gaan die geboue oprig om nie eers te praat van ander
infrastruktuur nie. Die ambagsmanne wat so dringend benodig word, kon met
blitskursusse in spesifieke afdelings van ambagte spesialis opleiding gekry
het, maar baie sit nou misplaas en worstel met ‘n graadkursus, sonder
vooruitsig om die kursus te voltooi, of ‘n waarborg om ‘n betrekking te bekom.
Een manier om balans tussen werksgeleenthede en opleiding te
kry, is om slegs studiebeurse goed te keur in die studierigtings waar tekorte
voorkom. Dis bemoedigend om te sien dat daar privaat ondernemings is wat
blitskursusse aanbied in verskillende ambagte, waar tekorte aan ambagslui
voorkom. Die koste van so ‘n kursus is minimaal in vergelyking met ‘n
graadkursus en daar kan tien vakmanne opgelei word in die tyd wat dit neem om
een gegradueerde op te lei. Die gegradueerde sit na sy opleiding gewoonlik met
‘n massiewe studieskuld wat hy dan moet afbetaal met ‘n kleiner salaris as wat
die spesialis opgeleide vakman verdien, wat met ‘n baie klein studieskuld,
indien enige, opgesaal is.
Nou het die departement van onderwys se dom-siekte versprei
na ander departemente wat met sinnelose wetgewing hulleself in die voet skiet
Hierdie land het ‘n werkloosheidsyfer van 24%. [Volgens
onbetroubare syfers deur die regering] Dus moet elke werksgeleentheid soos goud
opgepas word. Daar word ‘n wet op die wetboek geplaas dat ‘n persoon net as
finansiële raadgewer mag praktiseer as hy ‘n sekere eksamen voor ‘n sekere
datum slaag. Blykbaar is die eksamen baie omvattend en dek alle aspekte van
finansies. Die praktiserende finansiële raadgewers moet dus ‘n uitgebreide
kennis hê oor alle vertakkinge. Die wat die eksamen geslaag het, is minder as
die helfte van die 117,000 praktiserende raadgewers. Wanneer die werknemers van
die raadgewers in berekening gebring word, wat nou ook hulle werk verloor, sal
daar na skatting 100,000 werksgeleenthede verlore gaan. Of die syfers korrek is
kan ek nie bevestig nie, dit is uit ‘n bron oor die radio geneem. Persoonlik
het ek nooit juis ooghare gehad vir die raadgewers nie, want baie van hulle het
raad gegee wat nie so voordelig vir die klieënt was nie, solank hulleself die
beste voordeel kon trek.
Die vraag wat ek graag beantwoord wil hê is: Sou dit nie
beter gewees het indien die eksamen oor verskillende afdelings van raadgewing
gegaan het nie? Almal werk mos nie oor die hele spektrum nie! Indien jy in ‘n
sekere rigting spesialiseer is dit mos voldoende om daardie afdeling op die
punte van you vingers te ken. Indien ‘n persoon ‘n neiging tot onetiese gedrag
het, sal die kennis van die hele spektrum hom eerder tot onetiese optrede
aanspoor as om hom tee te hou.
Om 100,000 werksgeleenthede in ‘n riool af te spoel, laat
beslis wenkbroue lig! Wat is die motief agter hierdie wet? Skakel dit nie maar
net kompetisie uit nie? Indien wel, wat was dit werd? Is hierdie wet nie in
stryd met die wet op kartelvorming nie?
12/01/2016, Suid Afrika kan juig, want een amptenaar in die
departement van onderwys, het besef dat dit sinneloos is om alle skoliere te
probeer gereedmaak vir universitêre opleiding! Daar gaan glo so gou moontlik
met ‘n drie-vlak skoolopleiding begin word. Dit is ‘n ligpunt aan die einde van
‘n donker tonnel!
Na-skoolse opleiding wat oordeelkundig beoefen word, kan
regtig ‘n groot behoefte aan werksgeleenthede vul en ek sal graag wil sien of
‘n werkende gegradueerde beginner, die inkomste kan verdien as bv. ‘n
loodgieter of ‘n elektrisiën en hierdie beroepe bied ook ‘n baie beter
geleentheid vir uitbreiding tot lonende groot ondernemings!
No comments:
Post a Comment