Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Geheue



Geheue

            Ongeveer 7 Oktober 1930, volgens die Gregoriaanse kalender, het my siel die materie betree. Toe het ek begin leef, nie soos mense dink, eers 9 maande later nie! Dit was die begin van my relatief kortstondige bestaan as deel van die ‘kroon van die skepping’. [Openbaring van Henog 19:3 “….. Op die oomblik van sy bevrugting, op daardie oomblik is hy gebore ….“].
            Wat was my samestelling? 1) Materie 2) Siel 3) Gees.
1) 'n Wonderbare eenheid wat bestaan uit elemente, samestellings en mengsels in harmonie of disharmonie, maar alles vasgevang in tyd en afstand.
2) My siel met 'n vrye wil, wat uit vrye wil onderneem het om die liggaam volgens goeddunke te beheer, maar dit het my geheue my nie geleer nie, want my siel se geheue was volkome uitgewis met betreding van die materie. Later in my lewe het ek ontdek hoe dit werk. Ek het in die begin van my lewe nie die vaagste benul gehad waarvandaan ek was nie en ook nie waarheen ek op pad was nie.
3) Van my waardevolste geskenk, uit die hand van my Skepper, was ek vir die eerste twee jaar na my geboorte onbewus. Daardie geskenk is Sy Gees.
            Gedurende daardie twee jaar het my liggaam gegroei en my geheue het geleidelik ontwikkel en aktief begin raak. Eers stadig maar later al vinniger.
            Wat is die funksie van die geheue? Die geheue maak dit, wat deur die sintuie waargeneem word in ‘pakkies’ op en bêre dit in die stoorkamers van die brein. Dit is ook sy werk om die ‘pakkies’ te gaan uithaal, indien dit benodig word. Hy is dus die ‘stoorman’. Hy kan egter nie sommer 'n paloeka wees nie, want hy moet 'n ingewikkelde liasseerstelsel baie goed kan hanteer! Die doeltreffendheid van my geheue het sommer gou die doeltreffendheid van my liggaam oortref. Daar is twee stoorkamers; een vir dit wat die siel in samewerking met die materie wil bêre en een vir dit wat die siel in samewerking met die Gees wil bêre.
            Baie jare later het ek ontdek hoe die verhouding tussen die materie, siel en Gees is, met die siel in besluitnemende hoedanigheid, omdat hy 'n vrye wil het.
            Voor my het ek drie glasies gesien. Die middelste was geel met die woord ‘SIEL’ daarop. Aan sy linkerkant was 'n rooi glasie met die naam ‘LIGGAAM’ daarop. Aan die regterkant van die geel glasie was 'n blou glasie met die naam ‘GEES’ daarop. Vanaf die geel glasie het 'n duidelike pyl in die rigting van die rooi glasie gewys en nog 'n duidelike pyl het vanaf die geel glasie in die rigting van die blou glasie gewys.
            Die boodskap was baie duidelik. Ek as lewende siel met 'n vrye wil, het die keuse om te kies wie ek wil aanhang, die liggaam [materie] of die Gees. Die kerk waaraan ons as gesin behoort het, het as gevolg van onverstaanbare en onkonsekwente preke, tot gevolg gehad dat ek hot en haar tussen die rooi en die blou glasies beweeg het. Gelukkig het ek die bestaan van 'n God erken en daar was sover ek kan onthou, altyd 'n uitreiking vanaf die ‘blou glasie’ na my, hoewel ek gedurende daardie tydperk dit nie kon begryp nie en ek vermoed dat ek dit as gewete gesien het, maar ek weet nie of my vermoede reg was nie. Aan die ander kant was die begeerlikhede van die materie so aanloklik, dat ek dit nie altyd kon ignoreer nie.
            Nadat ek die beeld van die glasies gesien het, het baie dinge vir my duidelik geword. Dit het baie studie geverg, maar dit was deur en deur die moeite werd om al die ontdekkings te doen! Dit was wonderlik om myself te leer ken. Hoe om my vrye wil te gebruik en verantwoordelikheid vir my besluite te aanvaar. Om nie verskonings te soek en ander persone die skuld te gee nie. Ek het geleer om nie te sê: ‘Die ou duiwel het my verlei’ nie, want ek het die waarde van my vrye wil leer ken en geweet die duiwel is nie sterk genoeg om daardie eienskap my te ontneem nie. Ook kon ek nie meer sê: ‘Die Voorsienigheid het dit of dat gedoen’ nie, nie omdat Hy nie die mag gehad het om my my vrye wil te ontneem nie, maar omdat Hy Liefde is en indien Hy my vrye wil sou wegneem, Hy my menswees my sou ontneem en my op die vlak van diere sou laat, om volgens instink te handel. Net die gedagte aan Sy barmhartigheid, het my in liefde na Hom laat beweeg waar sy wederkerende Liefde koesterend warm is, soos die van ‘n moeder. Die Gees van Elohim wat in my is, dwing my nooit. Sy tree op as liefdevolle Raadgewer en laat my siel toe om self te besluit. Die materie kan nie geïgnoreer word nie, want ek leef in die materie en het dus 'n verantwoordelikheid, eerstens teenoor my liggaam en ook teenoor die omgewing waarin ek leef. Wanneer my liggaam 'n behoefte aan bv. voedsel, water, kleding of huisvesting het, moet ek as siel aandag gee en my brein opdrag gee om sinvol die liggaam te bestuur tot vervulling van die behoeftes. Dit is volgens die Orde van Elohim. Daar is egter vele begeertes van die liggaam wat kan lei tot dade wat nie in lyn is met die Orde nie en dit is dan die geleentheid wanneer die siel die reg het om 'n beletsel op die daad, woord, of denke van die brein te plaas. Indien die siel onseker oor die saak is, of nie die wil het om die brein teen te staan nie [onthou die siel is nie volmaak nie] kan die Gees elke oomblik van die dag of nag genader word vir raad [die Gees is deel van die Volmaaktheid]. Dit in kort die verhouding tussen liggaam, siel en Gees, soos ontdek na die beeld van die glasies.
            Kom ons keer nou terug na ons stoorman geheue. Soos ek reeds gesê het, daar is twee stoorkamers, maar moet tog nie dink ek bedoel daar is twee plastieksakke in my skedel nie! Wat ek bedoel is dat daar twee vorme van bestaan is, wat deur bykans die hele aardbol se wetenskaplikes ontken word, omdat hulle net die materie erken en die geestelike nie aanvaar nie. Hulle het dus net een ‘stoorkamer’. Die geheue van die geestelik ingestelde mens het sy stoorkamer nommer 2 nodig vir kennis oor die geestelike. Toe ek as baie jong laerskool leerling die naghemel beskou het, het die foutiewe benaming ‘verskietende ster’ my gedagterigting so versteur, dat ek geglo het dat slegs die aarde aantrekkingskrag het, want so het ek geredeneer; daardie ‘ster’ moes tog verby verskeie ander hemelliggame getrek het en is slegs deur die aarde aangetrek. Daardie pakkie is vandag nog in my materie stoorkamer en omdat ek oor die onderwerp wil skryf, het ek vir geheue gestuur om die pakkie te voorskyn te bring, wat ek 71 jaar gelede vir die eerste keer laat ‘liasseer’ het. Die pakkie het nog steeds die biljet Snert op met die datum 12-2-1942 onder aan. Veral langtermyn geheue verweer baie stadig. Die pakkie in my geheue het een feit baie duidelik gedemonstreer, naamlik dat een pakkie vol disinformasie gewoonlik ‘n nadraai van meer disinformasie het! Disinformasie is gevaarlik en so moeilik om te verwyder, soos kougom onder ‘n skoen.
            Geheue maak 'n magdom pakkies op, sommiges sal vergelyk kan word met 'n foto en ander weer met 'n video opname. Soms strek dit oor jare met langer en korter tussenposes, waarvan sommige episodes helder bly en ander vervaag. Tog bly geheue se liassering 'n wonderwerk!
            Pedagogiek het 'n baie groot invloed op die inhoud van die geheue stoorkamers, afhangend van die studierigting, wat bepaal of dit betrekking het op materie of gees.
            'n Goeie pedagoog dra slegs dit aan sy studente oor wat hy sorgvuldig uitgesoek het uit sy eie geheue stoorkamer. Selfs dit is nie voldoende om te verhoed dat die student sy eie stoorkamer moet fynkam om die snert pakkies daar te merk nie. Dit noem ons ontwikkeling, sover dit die normaalweg sintuiglik waarneembare materie aangaan.
            Kom ons gaan kyk hoe lyk dit in die stoorkamer waar die onsienlike gebêre word. In daardie stoorkamer vind ek 'n ongelooflike hoeveelheid snert! Ek ken daardie stoorkamer se inhoud baie goed, want ek het dit van vroeg in my lewe begin bêre, toe my geheue nog baie lewenskragtig was. Die woord geloof is ingehammer sonder dat ek eintlik werklik geweet het wat dit beteken! Daar was duisende pakkies met vraagtekens op, maar ek was volgens die predikante nie veronderstel om altyd 'n antwoord te soek nie. Die vraagteken moes maar in die lug hang! Dikwels het ek die pakkie uitgehaal nadat die predikant se vrou in die kinderkrans-klas my toegesnou het: "Is jy dan 'n heiden?" Toe ek te beskroomd was om hardop te bid. Ek het nie geweet watter opskrif om op daardie geheue pakkie se biljet te skryf nie. Ek weet nou nog nie! Vanaf 1986 moes ek baie van die ‘geloof’ pakkies uithaal en dit vergelyk met nuwe idees wat deur die kerkleiers uitgespreek, of moet ek sê uitgepreek word. Hulle wou dikwels hê ek moet ‘snert’ op die ou pakkie plak, terwyl ek besef het ek moet ‘snert’ op die nuwe pakkie plak, want dit was in stryd met die bybel. Een pakkie wat ek my lewe lank sal onthou, is toe 'n predikant teenoor my gespog het met sy twee doktorsgrade in Godsgeleerdheid, terwyl sy daaglikse handel en wandel getuig het dat hy nie die vaagste benul van Elohim het nie! Agter sulke leermeesters loop duisende kerklidmate aan en belas hulle geheues om duisende pakkies vol disinformasie in hulle ‘stoorkamers’ te pak!
            My innige dank aan my liefdevolle hemelse Vader wat my geleer het om weg te beweeg van die materie en nader te beweeg aan Hom, wat die volgende woorde gesê het: “Want die liefde is My Gees in die harte van die mense. En wat die liefde verlang en wil, kom uit die diepste van die goddelike orde, en jy kan My daarom met jou hart behoorlik vashou en Ek sal My nooit as te nimmer skei van jou hart nie!” (DNO Bu1 Bo2 127:3) Sien jy die ‘blou glasie’?
            Die nuuskierige siel of mens hou sy geheue baie besig. In die materie waar die nuuskierigheid dikwels die grens van welvoeglikheid oorskry, word geheue dikwels of taamlik gereeld oorlaai met 'n klomp pakkies, wat eintlik die etiket ‘lekker maar nutteloos’ behoort te dra! Die sekulêre mens met 'n liggaambehepte gesindheid sal die ‘nutteloos’ weglaat en die ware geestelik ingestelde sal poog om 'n streep deur die ‘lekker’ te trek.
            Hoe dikwels word die vraag gevra: "Wie het alles geskep?" Die geestelik ingestelde sal antwoord: "Deur God." Nou kom die volgende vraag: "Wie het vir God geskep?" Skaakmat? Die sekulêre mens wat die geestelike ontken, sal die verleentheid geniet en sê: "Ek het jou mos gesê daar was 'n big bang en daarna toeval". Hy sit tog ook met 'n turksvy wanneer gevra word: "Waar kom dit vandaan wat julle sê ontplof het?"
            Toe ek my geheue begin bemoei het met die vraag oor die Skepper, het die antwoord tot my wete gekom in die vorm van twee kort woordjies naamlik EK IS. Daardie twee woorde dui duidelik op die ewigheidsbegrip!
            Energie kom in verskillende vorms voor, wat vanaf die een vorm tot die ander vorm omskep kan word, maar dit kan nie vernietig word nie en ek verstout myself om te beweer, dit kan ook nie geskep word nie. Dit net terloops.
            Toe predikante vir my begin vertel het dat dit, wat die Bybel sonde noem nie sonde is nie, het ek redelik gou besef dat ek nie langer enige kontak met hulle moes behou nie en ek het my redes skriftelik gegee en weg beweeg. Dit was redelik maklik omdat hulle nie 'n houvas op my gehad het nie. Kom ons kyk na 'n ander groep, die lede van die ‘Big Banger Klub’ wat klas gee aan die universiteite oor die hele wêreld. Hulle verkondig daardie sot idee en blykbaar het hulle nie die reg om enige aanpassings te maak nie! 'n Professor aan 'n Duitse universiteit het daardie teorie bevraagteken. Hy is ontslaan en kon geen aanstelling by enige ander universiteit kry nie. 'n Suid Afrikaanse professor het afgetree en oor die radio gesê hy kan nou die Big Bang teorie openlik verwerp, want hulle kan hom nie meer ontslaan nie. Een van die grootste tragedies in die bestaan van die mensdom, is die feit dat hierdie SNERT toegedraai word in 'n verpakking waarop staan Waarheid en dan word dit oorgedra van een pedagoog na die volgende na die volgende, tot in lengte van dae? Is daardie professore se vrye wil deur een of ander bose mag van hulle ontneem? Wie is daardie mag? Word die universiteite gebruik om sekere foutiewe denkrigtings te beskerm? Word die media gebruik om die ‘noodsaaklikheid’ van universiteits-opleiding by die massas te vestig? Dit terwyl minstens die helfte van die wat as studente ingeskryf word, nie die vermoë het om 'n behoorlike graadkursus te voltooi nie? Gevolglik moet die kursus aangepas word!
            Spesialis opleiding as beginpunt word geminag, terwyl dit in die noodsituasie waarin die land hom bevind, die enigste oplossing vir werkverskaffing en verhoogte produksie is.
            Word die opleiding van ons kosbare jeug in die hande van slawe gelaat? Mag 'n intelligente professor nie toegelaat word om die waarheid te ontbloot nie?
            Na die beeld van die drie glasies het ek nie net myself beter leer ken nie, maar ek het ook 'n uiters waardevolle les aangaande die gees geleer. Hoewel die Gees van Elohim die Oppermag in die heelal is, domineer hy nooit 'n siel wat 'n vrye wil het nie; slegs liefdevolle raad word gegee. Dit het ek as voorbeeld geneem, omdat ek ook in 'n magsposisie teenoor ander mense staan, vanselfsprekend op 'n mikroskaal in vergelyking. Ouers is ook in magsposisies tov. hulle kinders. Wat doen ek aan my onderhoriges indien ek hulle domineer? Ontneem ek hulle nie van hulle vrye wil nie? Is liefdevolle raadgewing nie veel beter nie? 'n Perd of 'n donkie het die ou mense altyd gesê is 'n redelose dier. Redeloos is sinoniem met sonder 'n vrye wil. Wanneer 'n perd of donkie onredelik gedryf word, raak hulle ‘steeks’. Ek weet nie of stedelinge weet wat die woord beteken nie, daarom beskryf ek die optrede. Hy steek viervoet vas en weier om te beweeg.
            Wanneer ek in my posisie as maghebber, onbillik dominerend, in plaas van liefdevol teregwysend, teenoor my ondergeskiktes optree, ontneem ek hulle van hul vrye wil en indien my dominansie hulle geen beweegruimte laat nie, word hulle steeks. Beteken dit dat ek hulle tot die vlak van ‘redelose diere’ verlaag het? Sal hulle nie ook ander eienskappe van die nuwe verlaagte status openbaar en aanwend nie?
            Die vrye wil is 'n wonderlike gawe wat met Wysheid en selfdissipline tot groot seën aangewend kan word, daarom moet die maghebber baie versigtig wees om nie iemand se vrye wil aan te tas nie, veral nie 'n geliefde s’n nie! Daar is egter baie mense wat ongedissiplineerd van die vrye wil misbruik maak. Dis juis hulle wat hulle op menseregte beroep en as gevolg van hulle optrede bewys dat hulle die vrye wil nie waardig is nie. Met liefdevolle raadgewing sal die maghebber niks bereik nie want diesulkes is van nature ‘steeks’.
            Die laaste gedeelte is ‘n pakkie in my geheue, wat ek hoop nie sal vervaag nie!

No comments:

Post a Comment