Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Wie lag oor ‘n tragedie?



Wie lag oor ‘n tragedie?

            Prof. Kobus v d Walt het in sy program gepraat oor Sjina se invoer van gebruikte plastiek bottels, wat dan gebruik word om weer plastiek bottels te vervaardig teen 5% van wat dit die Amerikaners kos om plastiek bottels uit nuut-ontginde grondstowwe te vervaardig. Die Sjinese lag.
In Suid Afrika lag die dief, omdat hy koperkabels gesteel het, sonder om dood geskok te word. Hy lag nog ‘n keer omdat die swart besoedelende rook, van die brandende plastiek isolasie nie iemand se aandag getrek het, wat hom in hegtenis kon neem nie. By die skrootwerf lag hy vir die derde keer oor die geld wat hy ontvang vir die gesteelde koper. Die skelm skroothandelaar lag oor die winskopie, alhoewel hy weet dat dit gesteelde kabels is. Die vervoer kontrakteur lag wanneer hy Durban toe ry met die gesteelde koper. Die skeepsvrag redery lag wanneer hulle die koper na Sjina vervoer. Die eienaar van die kopersmeltery lag, want hierdie koper is baie goedkoper as die wat uit die aarde ontgin moet word. Die vervaardiger van koper produkte lag, want hy kan weens die lae prys van die koper wat hy gebruik, beter op die wêreldmark kompeteer.
Omdat die kabel wat in S.A. gesteel is, vervang moet word, lag die invoerders van koper. [S.A. produseer nie self genoeg koper nie]. Die vervaardiger van koperkabels lag, en die vervaardiger van die plastiek wat vir isolasie gebruik word, lag. Die groot-handelaar lag oor sy goeie verkope. Die klein-handelaar lag oor die wins wat hy maak. Die kontrakteur lag omdat die kabels vervang moet word. Die ontvanger van inkomste lag oor die 14% b.t.w. wat hy ontvang. Die persoon wat tenders goedkeur, lag oor die reuse bedrag wat hy in sy gatsak druk. Die polisie lag want hulle word betaal vir werk wat hulle nie hoef te doen nie [die kabel was mos verseker en daar is nou ‘n saaknommer – wie is dan nou so dom om die dief te vang, wat hulle van werk verseker]. Die versekerings maatskapy lag want hulle kan nou die premies verhoog.
Hier staan 21 laggende hiënas in ‘n kring om ‘n bedreigde landsburger, wat selfs moet opdok as die oorspronklike dief van die staat gesteel het, want dan word sy belasting weer verhoog!
Die enigste wat iets aan die saak kan verbeter, is die regering, want as hulle bereid is om korrupsie en diefstal daadwerklik met wortel en tak uit te roei, kan die land gered word. Die omsingelde belasting betaler is die enigste hoop op redding vir die land.
Hierdie skoonmaak proses gaan baie wysheid verg. Die heel dommes gaan sê; nou gaan werksgeleenthede verlore. Die gieriges gaan sê; nou gaan ons nie meer so weelderig kan leef nie. Die luies gaan sê; nou sal ons moet werk. Verskeie mense sal sê; nou kan ons nie meer besigheid doen nie. Van die omringende hiënas is ook deel van die omringde groepie in die middel. Daar is nie ‘n duidelike skeidslyn nie, daarom sal wysheid aan die dag gelê moet word.
Maak die stroping van die bestaande infrastruktuur, bv. ‘n halsmisdaad, dan raak jy nie net ontslae van die dief nie, maar hy sal nie weer vervang word nie, uit vrees vir dit wat met die vorige een gebeur het! Doen dieselfde met korrupte mense. Uitmergelende misdade vernietig ‘n land, maar dit is beter om van die vrot deel ontslae te raak, al is dit familie, as dat die geheel tot niet gaan, want dit sluit die hele familie in. Wanneer ‘n mens gangreen in sy toon het, sit die dokters die voet af, omdat hulle weet dat versuim om die amputasie te doen, die mens sy lewe gaan kos. Is die dokters se intelligensie soveel hoër as die staatsmanne s’n? Die dokters se besluit raak een mens, die regering se besluit raak 50 miljoen. Sal die land met ‘n kranksinnige geskater tot niet gaan? Wat ‘n tragedie as ‘n dief en ‘n korrupte amptenaar die land probeer red deur die belasting betaler dood te bloei!
Jare gelede het ek ‘n pragtige tekening sien hang teen die kantoormuur van ‘n onderneming. Dit was ‘n uitbeelding van twee spanne perde voor waens. Die een span het gespring en geskop en die ander span het saam getrek voor hulle wa. Die byskrif was soos volg: “As hulle skop, kan hulle nie trek nie! As hulle trek kan hulle nie skop nie!” Nou sien ek op my televisieskerm ‘n reuse groep mense wat toi-toi en ek dink aan die illustrasie teen die kantoormuur, en ek dink: “As hulle toi-toi, kan hulle nie werk nie.” Die beeld op die televisieskerm is nie volledig nie, want ek sien nie die groep wat werk nie, en dus nie kan toi-toi nie.
Die vraag is nou; waarom toi-toi hulle? Daar is verskeie redes, maar die hoofoorsaak is ‘n  gebrek aan werksgeleenthede. Om die werksgeleenthede te skep is geld nodig.
Die regering van ‘n land, kan vergelyk word met die versorger van ‘n groentetuin. Finansiering is vir die versorging van ‘n  land, soos water voorsiening vir die groentetuin. Daar is ‘n dam waaruit die water geskep kan word, maar wat help dit as ‘n emmer met 21 gate in, gebruik word om die water by die groente te kry? Daar heers groot kommer by ‘n verstandiger 20% oor die gate, maar 80% skater daaroor!
‘Slim Harmaans’ sê: “Waarvan praat jy? Ons gebruik mos nie ‘n emmer nie, ons het ‘n besproeiingstelsel!” Hierdie skepsel is so bedrywig met dit wat in sy gatsak gedruk is, dat hy nie bemerk het, dat die besproeiingstelsel [infrastruktuur] in onbruik verval het nie! Jy het ‘n besproeïingstelsel gehad, maar deur jou onkunde en luiheid, het dit onbruikbaar geraak. Jy sal maar van jou emmer gebruik moet maak! Hoe jy die gate in die emmer herstel gaan kry, weet ek nie, ook nie of jy die wil het om dit te herstel nie, maar dit kan ek vir jou sê; die grootte van die dam, waaruit jy skep, bepaal nie die hoeveelheid water wat by die groente kom nie – die gate in die emmer bepaal dit!
So ruk jouself reg ‘Slim Harmaans’ en gaan soek raad en bystand by die 20% bekommerdes; hulle sal jou kan help, as jy hulle raad en hulp sal gebruik.
Het ‘Slim Harmaans’ toe geluister? O, nee! Hy maak toe die dam groter en mergel die beleërde landsburger nog verder uit met ‘n tolpadstelsel! Daarmee word die gate in die reddings emmer nog groter gemaak en ‘n wet word beoog, wat die landsburger belet om te sê; “daar is gate in die emmer!” Die aanbeveling was tog dat die gate toegemaak word, nie dat die publiek geblinddoek word nie. Die paaie waar die tolgeld gehef word was rybaar, maar die paaie waarlangs voedsel vir die landsburger vervoer moet word, is in ‘n haglike toestand. Wat bewys ‘Slim Harmaans’? Dat hy nie so slim is as wat hy dink hy is nie, of dat hy skelm, korrup, en skynheilig is deur vir ‘n groot deel van die bevolking te sê, hy gee vir hulle om, terwyl hy slegs aalmoese uitdeel uit die dam, maar nie ‘n sent uit sy oorvol gatsak nie!

No comments:

Post a Comment