Jan Winkel
Jan was die middelste
van die vyf broers in hulle gesin. Sy pa se plaas was nie groot nie en daar was
nie ‘n moontlikheid dat hy die beroep wat hy geken het, naamlik boerdery, kon
beoefen nie. Jan het besluit om ‘n klein winkeltjie op hulle woonplaas te
begin. In ‘n klein buitekamertjie het hy begin om ware op klein skaal aan die
plaaswerkers van die omgewing te verkoop. Dit was 1948. Om in die aanvraag na
sy negosieware te voldoen, moes hy ‘n ruimer winkel tot sy beskikking hê. Die logiese oplossing was om dorp
toe te verskuif! Kort voor lank het ‘n mooi dorpsnooi sy potensiaal raakgesien
en hulle is getroud.
Die nuwe winkel het
baie meer voorraad vereis en Jan het geweet dat sy voortbestaan daarvan
afgehang het, dat sy ware goedkoper as die ander winkels s`n moes wees! Gedurende
daardie tyd het hy die naam Jan Winkel gekry. Die voordeel wat die nuwe naam as
advertensie gehad het, het hy eers later besef. Die lae winsgrens op sy
produkte het veroorsaak dat hy en Annie geen luukse kon bekostig nie, hulle kon
ook nie assistente bekostig nie en moes alleen al die werk doen, soos om die
nuwe voorraad op die rakke te pak. Dit was die ‘maer jare’ en soms was die
versoeking groot om van die lekkernye op die winkelrakke te eet, maar hulle het
die versoeking weerstaan. Die ander winkel eienaars het met die tyd al minder
geword en Jan en Annie se winkel al groter en groter, sodat meer en meer
personeel in diens geneem moes word.
Die drie kinders wat
hulle in die wêreld
gebring het, het baie meer voorregte gehad as wat hulle destyds vir hulleself
gegun het, maar hulle kon dit op daardie tydstip bekostig. Hulle kinders het
hulle met ‘n goeie sin vir waardes opgevoed, maar dit het nie verhoed dat twee
van hulle gedurende hulle universiteits jare, ‘n ander denkrigting as hulle
ouers, gekry het nie. Een het egter op die ou weë voortgegaan, maar die ander
twee het elkeen ‘n ander beroep gekies eerder as om winkelier te wees. Jan en
Annie was bejaard en het besluit om ‘n beduidende aandeel in hulle winkel te
verkoop. Twee van hulle kinders het die transaksie reeds in 1992 verwelkom,
maar hulle een seun het die transaksie teengestaan. Demokrasie was aan die orde
van die dag en een kon nie staande bly teen twee nie. Gedurende 1994 was daar
darem nog ‘n geringe voordeel om te verkoop.
Wat het toe met die
eens florerende winkel gebeur? Die nuwe eienaars was baie in hulle skik met die
omset en het begin om die lewe te geniet. Op die winkelrakke was baie voorraad
wat ‘n ontwikkelde samelewing benodig, daarom het die nuwe eienaars ook aan
hulle familie en vriende toegang tot die winkel gegee. Die talle kinders het
net soveel lekkergoed uit die winkel weggedra as wat hulle wou, sonder om selfs
die rakke reg te pak. Die volwassenis het hulle so vergryp aan die voorraad dat
hulle gou groter nommers klere moes aanskaf! ‘n Nuwe probleem het begin kop
uisteek. Die voorraad op die winkelrakke het vinniger verminder as wat dit
aangevul is. Die leweransiers van die produkte, wou nie meer voorraad lewer, as
die uitstaande skuld nie vereffen word nie. Die banke wou ook nie meer krediet
verskaf nie en het die onderneming as onkredietwaardig bestempel. Hoe lank gaan
die eens florerende onderneming nog kop bo water hou? Tot 2026?
No comments:
Post a Comment