Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Ouermoord



Ouermoord.

            Dit is ‘n misdaad wat waarskynlik oor die eeue heen gepleeg is, maar omdat daar nie voldoende aantekeninge in die geskiedenis gevind kan word nie, sal ons nie weet of die misdaad vermeerder het of afgeneem het nie en is dit ook nie moontlik om vas te stel of dit met beskawings-peil verband hou al dan nie.
            Het die wyse van opvoeding iets te doen met die neiging by kinders? Is die ouers onredelik en verwag van die kind om bo sy vermoë te presteer voordat hy ryp is daarvoor? Of bederf die ouers die kind tot so ‘n mate, dat die kind glo dat alles wat sy hart begeer vir hom gegee moet word? En wanneer die ouers besef dat dit wat die kind begin eis net te veel gevra is, en gladnie tot voordeel van die kind se opvoeding kan bydra nie? Wanneer die bederf nou deur die ouers gestaak word, omdat hulle dit as noodsaaklik vir die opvoeding van die kind begin beskou het, hoe beskou die kind dit? Die ouers het uiteindelik ‘n mate van wysheid aan die dag gelê, maar die kind wat soms nog baie jonk is, het as gevolg van sy onvolwassenheid en onwyse opvoeding tot op daardie ouderdom, geen wysheid om hom te rugsteun nie!
            ‘n Sielkundige sal waarskynlik boeke oor die onderwerp kan skryf, maar dit voel vir my dat daar iets ernstig verkeerd moet wees met ‘n kind wat tot so ‘n drastiese daad in staat is! Kan dit toegeskryf word aan selfsug, foutiewe opvoeding of gene?
           
           

No comments:

Post a Comment