Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Skipskop



            Vir dit waaroor ek wou skryf, kon ek geen opskrif vind nie, maar toe dit klaar geskryf is, ontdek ek dat die persoon wat ek as eerste kritikus beskou, nie die geskrif kon waardeer nie, omdat hy ‘n sekere liedjie nie ken nie. Daarom maak ek die liedjie se naam die opskrif.

Skipskop

            Vir die lesers wat die liedjie uit die pen van David Kramer nie ken nie, wil ek net die agtergrond verduidelik.
            Dertig of veertig jaar gelede het die vorige regering ‘n toetsterrein vir missiele benodig en die kusgebied aan die Suid Kaap was as gevolg van die uitgestrekte oseaan geskik vir die doel. Vanselfsprekend sou mense verskuif moes word. David se liedjie gaan oor ‘n gesin wat slagoffer van die gedwonge verskuiwing was. Sy liedjie was ‘n meesterstuk, wat met die emosionele gevoel, aandoenlik deur sangers gesing is en sodoende baie trane ontlok het. Veral die moedelose gevoel van die hoofkarakter wat sy bootjie moes verkoop en nie geweet het waarheen nie, het baie emosie tot gevolg gehad.
            Laat die horlosie so veertig of vyftig jaar aanskuif en ons maak kennis met ‘n bejaarde egpaar, wat mekaar as jong mense ontmoet het op die Noordwestelike Vrystaatse platteland. Albei se ouers was boerende Boeremense en kon dit bekostig om hulle kinders universiteit toe te stuur, maar die jongste seun van die een ouerpaar wou nie verder studeer nie, hy wou boer. Hy was ‘n aantreklike jong man en sy jeugliefde, so twee jaar jonger as hy, het net oë vir hom gehad. Hy het bewys gelewer dat hy vorentoe ‘n sukses van boerdery sou maak, omdat hy gedurende die vier jaar toe hy saam met sy pa geboer het, reeds ‘n bakkie, ‘n trekker en die nodigste implemente kon aanskaf. Sy meisie het ook nie sinnigheid in ‘n huishoudkunde graad gehad nie, want dit sou beteken dat sy vir redelike lang periodes van haar kêrel geskei sou wees. Sy het gereken dat haar ma haar beter kon oplei as die dosente aan die universiteit. Die vertroue wat haar dogter in haar gestel het, het seker die deurslag gegee! So het Kleinbaas en Kleinnooi nie ver van mekaar af nie, die volwassenheid betree.
            Hy was 22 en sy 20 toe hulle vir die eerste keer ‘oor die tou getrap’ het. Ekstase en gewete het hulle emosies deurmekaar begin roer, nadat dit meermale gebeur het. Albei was prakties van aard en hulle het besluit om hulle ouers te vra of hulle kon trou.
            Die ‘vergadering’ wat op versoek van die twee jongelinge gehou was, was vir die ouers effens onverwags, maar toe hy vir die ouerpare sê hulle wil trou, het dit aan albei kante nie beswaar nie, maar tog ‘n vraagteken in die binneste ontlok. Sy ma was eerste om te vra waarom hulle nie kon wag totdat sy 21 is, voordat hulle trou nie. Sy woordkeuse was seker nie van die beste nie, toe hy sê hulle kan nie eintlik langer wag nie. Onthuts vra haar ma aan haar of sy verwag; waarop sy kon antwoord: “Nee ma, maar ek is bang dit kan gebeur en ons wil nie ‘n skandaal veroorsaak nie.”
            Die twee ouerpare was doodstil. Aan die een kant van verligting oor dit wat nie is nie, maar ook van verontwaardiging oor dit wat hulle kinders doen. Die verliefdes sien aan die lyftaal van die ouers dat verwyte kan uitbars, maar keer dit deur byna gelyktydig te sê dis niemand se skuld nie. Hulle is lief vir mekaar en dink trou is die beste oplossing. Die twee ouerpare was beïndruk met hulle kinders se nugter benadering en het besluit dis die beste oplossing. Hulle sal hulle help om ‘n begin te maak met ‘n selfstandige boerdery.
            Hulle twee het nie oor genoegsame kontant beskik om ‘n boerdery op eie stoom te begin nie, maar die probleem is opgelos toe sy pa sê hulle kan op ‘n naburige plaas van hom gaan boer. Haar pa bied toe aan om 15 Frieskoeie in melk te voorsien. Sy ma sal pluimvee voorsien en haar ma die nodigste vir die kombuis en eetkamer.
            Hulle was arm, maar in hulle twee vertrek huisie was genoeg liefde om op te maak vir die ongerief. Die plaas, wat hy later van sy pa gekoop het, was ‘n ekonomiese eenheid. Die lande was sanderige leen met ‘n waterdigte kleilaag op een meter diepte. Hy het met mielies en grondbone geboer en het ‘n puik Friesbees kudde opgebou. As boer was hy die trots van sy pa en skoonpa, terwyl sy die liefling van haar ma en skoonma was.
            Drie jaar na hulle troue is hulle seun gebore. Waarom hulle nie nog kinders gehad het nie, weet ek nie, maar die drie was gelukkig. Die plaas het hulle oor die jare opgebou tot ‘n model, met ‘n sierlike woonhuis, ‘n moderne melkstal, skure en behuising vir die werkers en ‘n skool vir die werkers se kinders. Vir hom was dit ‘n teleurstelling toe sy seun gesê het hy wil nie boer nie, maar ‘n dokter word. Hy het wel gemerk dat sy seun van kleintyd af nie veel belang gestel het in boerdery nie. Later sou hy die besturende hand van die Skepper daarin sien.
In die begin was hy Kleinbaas en sy Kleinnooi, maar soos die jare aanstap het hulle name verander saam met die kleur van hulle hare en hy het Oubaas geword en sy Ounooi. Nog later het hulle naamloos geword vir sekere werkers. Dit het hulle nie ontstel nie, net soos dit hulle nie gehinder het om eerste vir hulle bediendes môre te sê nie. Die Swartes glo dit is die een met die hoër gesag wat die voorreg het om te groet wie hy wil. Die Blanke wat vir sy swart werker sê: “Groet jy my nie?” verwar sy werker; dit het hulle twee geweet.
            Oubaas en Ounooi was die sout van die aarde. Dis hulle soort wat hierdie land ‘n voedsel uitvoerland gemaak het. Wat met wysheid en gesonde verstand voedsel verskaf het aan byna 50 miljoen eters.
            Vir so ‘n landbouer paar het Thabo gewerk. Hy het daar begin werk toe hy 15 was. Dit was voor die tyd toe swart kinders verbied is om te leer werk. Oubaas het sy potensiaal raak- gesien en na 10 jaar diens was hy die voorman op die plaas. Hy het saam met Oubaas gewerk en kon alles van die boerdery leer. Oubaas en Ounooi was later redelik bejaard en hulle seun het as mediese dokter beter geleenthede in die V.S.A. gesien. Hy het ‘n belangrike pos as navorser by ‘n universiteit beklee en sou beslis nie weer op die plaas kom boer nie. Om ‘n landbouer in Suid Afrika te wees, is op ‘n paar na die gevaarlikste beroep ter wêreld, daarom het Oubaas nie sy seun verkwalik omdat hy nie wou kom boer nie. Dit was ook hoofsaaklik die rede waarom hy; toe die ‘gewillige koper, gewillige verkoper’ nog van toepassing was, besluit het om sy grond te verkoop. Die ‘deal’ was toe nie juis wat as ‘n model in ‘n eerstewêreld land beskou sou word nie, maar hy en Ounooi kon hulle redelik gerieflik in ‘n aftreeoord selfversorgend vestig. Hy het tydens die onderhandelinge moeite gedoen om Thabo se kwaliteite te beklemtoon, want hulle het ‘n goeie verstandhouding gehad op die plaas en Oubaas het geglo Thabo sou waardevolle insette kon lewer in die gemeenskaplike boerdery.
            ‘n Paar jaar nadat hulle die plaas verlaat het, het Oubaas en Ounooi die begeerte gevoel om die plaas, waar hulle soveel gelukkige jare met hulle seun deurgebring het, te besoek, want die heimwee was groot. Hy wou ook graag vir Thabo besoek om te sien hoe hy vorder. Die pad na die plaas toe, was reeds verweer toe hulle die plaas verlaat het, maar nou was dit ‘n nagmerie vir motor en bestuurder as gevolg van die slaggate.
            Toe hulle die plaas binnegaan, word hulle met agterdog bejeen, wat toeneem nadat hulle navraag gedoen het oor waar Thabo woon. Hy bewoon nog die eerste huis in die tweede ry en sy huis lyk nog naastenby soos wat dit gelyk het, maar die geheelbeeld van die voormalige arbeiders woonbuurt, het skirkwekkend verander. Toe Oubaas die eienaar was, het hy die tiental staalstrukture in twee netjiese rye laat oprig en dit met bakstene laat toebou. Dit het ‘n groot gat in sy bankrekening veroorsaak en omdat hy netjies van aard was, het hy daarop aangedring dat die terrein altyd skoon moes wees. En nou, wat ‘n ontnugtering! Thabo se huis het nog al die sinkplate op, maar van die ander huise se dakke het meer of minder plate gekort. By sommige huise het net die geroeste struktuurstaal bokant die steenmure uitgesteek. Van sommige is selfs die staalvensters en deure uitgebreek.
             Van die kinders wat daar speel, het vir Thabo van die onverwagte besoekers vertel en hy het die ou mense met blydskap herken. Hy het vir ‘Oubaas en Ounooi’ vertel hoe hy verlang na die dae, toe hy elke jaar vier hektaar van die mielieoes vir homself kon neem. Sy gesin het genoeg gehad om te eet en sy vrou was mooi vet.
            Ounooi vra: “Maar waar is Liesbet dan nou Thabo? Sy is nie dalk oorlede nie?” Thabo sê: “Nee Ounooi, Liesbet leef nog, maar sy kry swaar en sy is maer. Sy bly in ‘n sinkkaia in die plakkerskamp, saam met die kinders wat by die groot skool loop. Hierdie kinders is ons kinders se kinders en hulle bly by my, tot hulle groot genoeg is om by die groot skool te loop. Wanneer die skool toemaak vir die holiday, dan bly almal hier by my, behalwe die twee kinders wat die kaia moet oppas.”
            Oubaas se oog gaan oor die terrein voor hom. Die maer hond wat in die son gelê het, staan op, sy stert hang. In die hopie werfvuil skrop ‘n hen om vir haar kuikens iets te ete op te diep. Na regs sien hy ‘n kleinerige doringdraad kamp en die kraalmis getuig dat die kampie benut word. Langs die sementdam is ‘n groterige kamp waar weelderige groente ‘n lus vir die oog is. Blykbaar is die mis uit die klein kampie, die water uit die dam en Thabo se ondernemingsgees die oorsprong van die lushof.
            Oubaas vra: “Wat het van die melkery geword?” Thabo verduidelik: “Die lorrie wat altyd die melk kom laai het, het later nie meer gekom nie.”
            “Waarom het hulle nie meer die melk kom suig nie? Jy het so goed geweet hoe om die melk te hanteer en ek het in my brief gesê jy ken jou werk.”
            Na ‘n lang stilte sê Thabo: “Dis nie net die mense van die plaas wat hier kom bly het nie; hier het ander mense ook kom bly en toe ek vir hulle jou brief gee, het hulle vir my kwaad geword en gesê: “Jy moet nie met jou witmensstories hier by ons aankom nie!” Hierdie ander mense het nie van die boerdery verstaan nie, maar hulle kon baie praat van dinge wat ek nie verstaan nie.” Van die ander ou werkers van die plaas was baie gou om vir Thabo te sê hulle is nou ook eienaars van die plaas en hy moet nie oor hulle baas speel nie. Thabo het geen ondersteuning van die ‘praatmense’ gekry, wat ‘n kantoor in die woonhuis ingerig het nie. Hy kon nie alleen die melkery gedurende naweke hanteer nie. Die ‘praatmense’ het, nadat die melk nie meer verkoop kon word nie, die melkmasjiene verkoop. Hy het toe maar sy eie melkerytjie begin in die doringdraad kraaltjie. Die ‘praatmense’ het besef dat hy ‘n noodsaaklike diens aan die gemeenskap lewer, in die vorm van vars melk en goeie groente en hom laat begaan.
            Agnes was die onderwyseres, wat die plaas en die buurplase se kinders deur die laerskool moes kry. Hoewel sy net ‘n matrieksertifikaat gehad het, was sy toegewyd en het ‘n slag met kinders gehad. Hoewel Oubaas ook net ‘n matrieksertifikaat gehad het, het sy baie respek vir sy gesag en gesonde oordeel gehad en het sy altyd sy raad gevra wanneer ‘n probleem opduik. Oubaas en Ounooi het periodiek by die skooltjie inspeksie gedoen en Agnes het presies geweet vir watter leerlinge sy wat moes vra, om die verlangde goedkeuring te ontlok, wat al die kinders geniet het, asof elkeen self die vraag beantwoord het! Vroeg voormiddag was die kleertjies en gesiggies nog skoon, behalwe gedurende die winter, wanneer die snotneusies maar lollerig was. Die skoolterrein was netjies met grasbondels gevee. En nou! Die onkruid groei tot teenaan die steenmure van die murasie sonder dak en sonder een heel ruitglas. Die vrolike en raserige kinders, sowel as Agnes het verdwyn.
            Oubaas en Ounooi het genoeg gesien. Hulle het ook die verwering op Thabo se gesig bemerk en die kommer wat vlak agter sy oë lê. Dit het meer te doen met sy seuns, vir wie hy hoë verwagtinge gekoester het. Hy het laat val dat hulle ook die taal van die ‘praatmense’ praat en dit strook nie met sy praktiese sienswyse nie. Hulle doen en late lewer ook nie bewys dat hulle iets sal bereik nie. Oubaas mis die sprankel wat altyd daar was wanneer hy Thabo aangemoedig of geprys het. In stilte wonder hy hoe die plaas sou gelyk het, indien die nuwe bewind mense aangestel het volgens meriete, in plaas van as betaling vir bedrywighede in die verlede.
            Die twee ou mense ry by hulle vorige woning verby, sonder om die praat, want albei weet dat die snye in hulle binneste daar baie diep en skerp sal wees. Ook weet hulle dat hulle daar nie welkom sal wees nie.
            Die terugtog tot by die dorp en daarna tot by die tolpad, was weereens ‘n nagmerie tussen die slaggate deur. Hulle was nie in ‘n luim om ou bekendes te besoek nie en het deur die dorp gery. Toe hulle op die tolpad indraai was hulle verlig.
            Lank het hulle in stilte voortgery, toe Ounooi skielik sê: “Weet jy my man, ek wonder hoeveel Skipskoppe was daar in hierdie land en ek wonder hoeveel gaan daar nog wees! Ek wonder of David Kramer oor die latere ‘Skipskoppe’ ook emosionele liedjies gaan skryf.”
            Oubaas sê: “Weet jy my vrou, noudat jy dit noem. Ons was net so gelukkig soos die karakter vir wie die liedjieskrywer so jammer was. Vir ons het hulle ook gesê: ‘Verkoop jou bootjie’, maar vir die volgendes gaan hulle naderhand sê: “Los jou bootjie en maak dat jy weg kom.” Nou wonder ek of David Kramer vir daardie soort optrede nog woorde in sy digtersgemoed het.”
            Ounooi sê: “Ek het nie so daaroor gedink nie, maar nou wonder ek of sangers die laaste liedjies ook met soveel gevoel gaan sing dat dit trane gaan trek?”
            Oubaas sê: “Ek twyfel my vrou, want dit wil voorkom asof mense dink daar is net een soort wat bejammer moet word en dit is nie die wat soos ek en jy lyk nie. Ons het seker nie gevoelens nie.”
           

No comments:

Post a Comment