Bid vir reën.
Vroeg in die jare 60
van die vorige eeu, het die kerkraad besluit om ‘n biddag vir reën te
hou, want dit was baie droog. ‘n Datum is bepaal en die gemeente het in die
kerk vergader, en heelwat gebede is gedoen. Wat ek goed kan onthou, is hoe warm
dit was toe ons die kerkgebou betree het. Na die biduur het ons die gebou
verlaat in gietende reën, sonder enige hael ! Ek het vas geglo dat ons gebede
genadiglik deur ons hemelse Vader verhoor was en sonder twyfel was die ander
lede van die gemeente ook daarvan oortuig!
Nou, 54 jaar later,
word hierdie land deur ‘n baie ernstige droogte geteister, sodat duisende diere
vrek van honger en dors. Volgens die nuusberigte is die landswye biddag vir reën
binne ‘n dag gevolg deur haelbuie wat verwoesting gesaai het oor ‘n groot
gebied! Die werklike reën wat geval het was verstommend min!
Vanoggend het ek na
‘n preek oor die radio geluister. Die onderwerp was “God sal voorsien” en die
luisteraars moet net met vertroue die voorsiening afwag. Die prediker lê
baie klem op die byna bomenslike vertroue wat Abraham aan die dag gelê het
toe die opdrag was dat hy sy seun moes gaan offer! En toe die wonderbaarlike
voorsiening!
Toe die gemeente 54
jaar gelede, in verootmoediging gesmeek het om reën, was die gebede in minder as
een uur verhoor! Die huidige biddag is gesamentlik deur amper al die
verskillende geloofsgroepe oor die hele land gedoen; en die gevolge? Daar sal
seker mense wees wat die fout by ons hemelse Vader gaan soek, maar Hy het met
die verloop van biljoene jare nie verander nie. Kom ons soek die probleem
eerder by die bidders!
Die gebede van 54
jaar gelede, is gedoen deur mense wat nog die wette van JaHWeH aanvaar het en
min of meer daarvolgens geleef het, maar die bidders van 2015 doen dit in kerke
waar die wette van JaHWeH verag word omdat dit dan kwansuis nie meer
aanvaarbaar is nie; die rede? Want poletieke ‘korrektheid’ is nou belangriker
as die Wet van ons Skepper!
Kom ons keer terug na
die preek wat na Abraham verwys het. Hoe op aarde die prediker ‘n vergelyking
kan tref tussen Abraham en die luisteraar van vandag, is nie sinvol nie, omdat
die hedendaagse mens die optrede nie sal verstaan nie. Die probleem is die onkunde
oor die lewe van Abraham, nie net die luisteraars is onkundig nie, maar ook die
prediker!
In Gen. 11:26 lees
ons vir die eerste keer van Abram [later genoem Abraham]. Ons lees wel dat hy
in die land Ur van die Chaldeërs gebore is, maar dan word daar
verwys na sy troue. Die uiters belangrike geskiedenis tussen sy geboorte en sy
troue word nie beskryf nie! [Daardie boeke is doelbewus uit die bybel verwyder]
Kortliks gaan ek hoogtepunte aanhaal.
Die Boekrol van die
Opregte. Die 8ste hoofstuk. Gedurende die nag van Abram se geboorte sien die
sterrewiggelaars en toordokters van koning Nimrod, dat Abram in die toekoms ‘n
bedreiging vir sy heerskappy sal inhou. Tera, die vader van Abram, word beveel
om sy kind na die koning te bring, sodat hy hom om die lewe kan bring. Tera
neem een van sy diensmaagde se pasgebore baba na die koning, wat hom toe
vermoor, omdat hy gedink het dat die kind Abram was. “En JaHWeH was by Tera in hierdie saak, dat Nimrod nie vir Abram sou
doodmaak nie ….”. “En Tera het Abram, sy seun, in die geheim geneem, tesame met
sy moeder en kinderoppasser, en hy het hulle in ‘n grot versteek, en hy het
maandeliks vir hulle kosvoorraad gebring. En JaHWeH was met Abram in die grot
en hy het grootgeword. Abram was tien jaar in die grot …..”. Van selfsprekend
sou Abram sy geskiedenis verneem het en hy sou besef het dat JaHWeH hom
tweekeer van die dood gered het.
Na sy verblyf in die
grot het Abram na Noag en sy seun, Sem, toe gegaan, en hy het by hulle gebly om
die onderrigting van JaHWeH en Sy Weë te leer. “Abram
was in Noag se huis nege-en-dertig jaar, en Abram het JaHWeH geken van
sy derde jaar af en hy het in die Weë van
JaHWeH gewandel tot en met die dag van sy dood, ….”
Tera was ‘n hoë
amptenaar van die koning en het net soos die koning afgode van hout en klip
aanbid. [Vandag is die kerkleiers ook meer bekommerd oor wat die regeerders wil
as wat JaHWeH wil] Toe Abram na sy verblyf by Noag, terugkeer na sy ouerhuis, en
hy vind dat sy vader afgode van hout en klip aanbid, het hy ‘n byl geneem en
die afgode stukkend gekap. Tera was woedend en het Abram by die koning verkla.
Abram is in ‘n vuuroond gegooi. “JaHWeH
het Abram liefgehad en Hy het Medelye met hom gehad en JaHWeH het neergedaal en
Hy het Abram uit die vuur gered en hy was nie verbrand nie”.
Waarom sê ons
dat gewone mense nie met Abraham vergelyk kan word nie? In die eerste plek het
die ‘gewone’ mense die begrip van gehoorsaamheid verloor, of dit nog nooit
geleer nie! Abraham was bereid om sy eie lewe herhaaldelik te offer vir sy
Skepper, daarom het hy geglo dat ‘n brandoffer voorsien sal word. Daar was ‘n
baie sterk band van liefde tussen hom en JaHWeH! Kan ‘n mens gebedsverhoring
verwag wanneer die gebede kom vanuit ‘n gebou waar van die Wette van JaHWeH in
die asblik gegooi is? ‘n Ander prediker het gesê dat die vurige gebed van ‘n
gelowige baie krag het. Natuurlik is dit so, ons moet net oppas dat die graad
van vurigheid nie bepaal word deur die hoeveelheid geld wat betrokke is nie!
No comments:
Post a Comment