Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Skep versus kweek



Skep versus kweek

            Die mediese wetenskaplikes doen verstommende dinge, soos bv. om organe te ‘groei’. Hulle karring ook rond met gene, maar gelukkig kan hulle nie skep nie. Vir al die wonderlike dinge wat hulle doen, het hulle klaar geskape weefsel nodig. Gelukkig weier hulle om die bestaan van ‘n Skepper te erken; daardie weiering is in hulle geplaas deur Elohim, omdat hulle nie oor Wysheid beskik nie, want skeppingsvermoë in die hande van dwase kan tot die verskriklikste gedrogte in die materie lei.
            Wat nou gaan volg, kan hulle maar lees, want hulle sal dit in elk geval nie glo nie. In die bybel word heelwat wondergenesings deur Jahshua gedoen, beskryf. Daardie genesings was oombliklik in die meeste gevalle en permanent.
            Omdat Jahshua materie kan skep, ook toe Hy die aarde bewandel het, kon Hy ook materie ‘ontskep’. Die siek weefsel in die pasiënt word opgelos, deurdat dit onthef word van die inperking van tyd en afstand. Omdat tyd en afstand net ‘n toestand is, laat dit geen materie substansie na nie. Die toestand is dan verwyder en die Primêre Energie wat ingeperk was in die siek materie, verlaat die liggaam oombliklik, want Dit beweeg deur materie [die bestaande materie van die liggaam] asof dit nie bestaan nie. ‘n Mediese dokter moet voortdurend baie versigtig wees om nie toe te laat dat bakterië gedurende ‘n operasie die liggaam binnedring nie. Jahshua gebruik Primêre Energie, wat volmaak suiwer, is om die heling te bewerkstellig.
            Gesonde weefsel vervang nou die reeds opgeloste siek weefsel, deurdat Primêre Energie oombliklik na binne deur die weefsel van die liggaam beweeg, tot by die verlangde posisie, waar Dit ingeperk word met tyd en afstand, sodat die frekwensies identies aan die van die oorspronklike gesonde weefsel is. Die hele proses gebeur in ‘n onmeetbare fraksie van ‘n sekonde. Dit is ‘n proses wat geen mediese wetenskaplike ooit sal kan doen nie.
            Kom ons kyk nou na ‘n geval waar die dood reeds ingetree het. Johannes 11:38-40 “En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ‘n spelonk, en ‘n steen het daarteen gelê. Jesus sê: “Neem die steen weg”.  Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here hy ruik al, want hy is al vier dae dood”. Jesus sê vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?”
            Hierdie opwekking van Lasarus demonstreer baie duidelik dat dit geen verskil maak in watter toestand die materie is nie, dit is steeds onder die beheer van Elohim en Hy kan die Primêre Energie vry maak uit die inperking tot materie en Dit herskep tot die oorspronklike.
            In watter toestand is die wêreld? Is dit nie maar amper dieselfde toestand waarin die lyk van Lasarus was nie? Die wêreld ‘ruik’ beslis ook al, want die mense van die aarde is baie naby aan die vlak, wat die bewoners van Sodom en Gomorra was. Selfs die kerke keur die boosheid van daardie stede goed. Jahweh het aan Abraham gesê, dat Hy die stede terwille van 10 regverdiges nie sal vernietig nie. Hoe ver is die huidige wêreldbevolking van daardie persentasie af? Wanneer die gedeelte van die mense wat gespaar moet word weggeneem is, in veilige bewaring, gaan die oppervlak van die aarde weer hernu word? Gaan al die skade wat die mensdom die goeie aarde aangedoen het, weer herstel word? Lasarus was ‘n lewende mens, maar die aarde was ‘n lewende planeet, wat deur die mens se optrede tot naby sy einde verniel is. Gelukkig is Elohim in beheer en Sy optrede kan nie deur afstand, tyd of volume beïnvloed word nie. Sy kinders sal ‘n nuwe aarde kry om te bewoon!
           





















No comments:

Post a Comment