Sampie
Jare gelede het ek 'n jong man, wat
saam met sy weduwee moeder op 'n plaas in die Kalahari gewoon het, ontmoet. Kom
ons noem hom sommer Sampie, want omdat hy moontlik nog leef, wil ek hom nie
voor ander mense aan verleentheid blootstel nie. Indien hy die storie lees, sal
hy homself daarin herken; as hy homself nie herken nie, het ek vir hom geen
raad nie.
Toe Sampie se pa as gevolg van 'n
hartaanval oorlede is, het sy ma besluit om met die Dorper skaapboerdery voort
te gaan. Daardie jare was dit nog veilig vir 'n vrou om op 'n plaas te woon.
Sampie was haar laat lammetjie en omdat haar ouer seuns elkeen 'n eie
gevestigde boerdery gehad het, was die aangewese ding om te doen, dat Sampie sy
ma met haar boerdery help. Op daardie stadium het ek moeder en seun leer ken.
Daardie tyd het ek Sampie se optrede
bloot aan vrygewigheid toegeskryf, maar toe 'n ouer broer teenoor my gekla het
oor die optrede van Kleinboet, het ek besef die probleem is dieper liggend. Die
skape wat hy so vrygewig uitgedeel het, het nie aan hom behoort nie, maar aan
sy moeder! Wanneer Sampie iemand ontmoet het wat 'n indruk op hom gemaak het,
of van wie hy gehou het, het hy 'n mooi Dorper lam gevang en vir die nuwe
vriend as geskenk gegee. Blykbaar wou hy 'n goeie indruk maak! Die probleem was
net dat Sampie nie oor 'n goeie oordeel beskik het, om te onderskei tussen 'n
eerbare behoeftige en 'n parasiet nie. Dit het amper gelyk asof hy 'n
voorliefde vir parasiete het! Sy ouer broer was bang dat Sampie sy weduwee
moeder finansieël sou ruïneer. Ek het nooit weer van die gesin gehoor nie en
weet dus nie of die ouer broer se vrese bewaarheid is nie.
Wat Sampie gedoen het, was misdadig,
maar wat het hom beskerm? Die onbaatsugtige liefde van sy moeder! Die liefde
wat alles vergewe en alles verdra!
Soos ek gesê het, het ek nooit weer
van Sampie gehoor nie, ek weet dus nie of die misbruik wat hy van sy moeder se
liefde gemaak het, tot gevolg gehad het dat hy self noodgedwonge vir 'n ander
boer moes gaan werk, wat nie daardie liefde [agape] begryp het nie.
Ons sal dus maar ons verbeelding
moet gebruik om sy geskiedenis verder te volg: Sy nuwe baas het bemerk dat sy
mooiste lammers verdwyn. Hy het die saak by die polisie aangegee en na 'n ruk
is Sampie in hegtenis geneem en tronkstraf opgelê. [Gelukkig is sy moeder die
hartseer gespaar, want sy was reeds oorlede.] Toe Sampie sy vonnis begin
uitdien kry hy 'n groot verrassing! Van daardie vriende op wie hy 'n goeie
indruk wou maak met sy misplaaste liefdadigheid, ontmoet hy in die tronksel!
Daardie parasiete sit daar vir elke moontlike oortreding. Nou is hulle nie meer
vriendelik met hom nie, want hy het nou nie die geleentheid om spekvet lammers
agter hulle aan te ry nie! Ek wonder of hy nou, met al die tyd tot sy
beskikking, sal dink aan sy bejaarde moeder, wat gesterf het as gevolg van
kommer, omdat sy geweet het die plaas gaan verkoop word en waar gaan haar seun
dan lammers kry?
No comments:
Post a Comment