Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Nikola Tesla se onvervulde droom



Nikola  Tesla se onvervulde droom.

            Die eerste geskrif in my versameling dui aan dat ‘n saak op twee maniere benader kan word. Afhangend van die benadering, kan elke eindproduk tog ooglopend korrek voorkom.
            Waarom is Tesla se droom nie vervul nie? Hy was waarskynlik die belangrikste uitvinder op elektroniese gebied op aarde. Die wisselstroom elektriese krag, wat oor die hele wêreld gebruik word, is deur hom ontdek. Tesla se groot droom was om ‘n sender te bou en op ‘n strategiese terrein op te rig, om die hoë frekwensie wisselstroom oor ‘n groot gebied te versprei, sodat dit vir algemene gebruik opgevang kan word. Die basiese probleem is egter dat ‘n bron van energie steeds nodig is om die elektrisiteit op te wek. Blykbaar was sy groot bekommernis die groot koste om die krag verspreidings netwerk te bou. Of dit veel duurder as sy verspreidings toring sou wees, sal ek nie weet nie.
            Waaroor ek bekommerd is, is of hy rekening gehou het met die vermorsing van ongebruikte elektrisiteit. Wanneer ‘n mens  die son as voorbeeld neem, is dit baie duidelik dat slegs ‘n baie klein gedeelte van die son se energie opgevang kan word; die res raak ongebruik in die ruimte verlore. [Dit is nie heeltemaal waar nie, maar kom ons laat dit voorlopig buite rekening]. Tesla kon nooit sy droom verwesenlik sien nie, want hy het die wetenskap, wat hy van sekulêre mense geleer het, slegs in die materie gesien. Hy het slegs die materie in die voltooide vorm gesien, sonder om te wonder waar dit vandaan gekom het en hoe dit ontstaan het. Van Primêre Energie het hy niks geweet nie en ook nie wat die beweging en die Oorsprong van die beweging is nie. [Hoe kan ‘n mens verwag dat hy dit in 1914 moes begryp, as die geleerdste sekulêre wetenskaplikes in 2014 dit nognie kan begryp nie!].
            Ek haal kortliks aan uit die geskrif: Voortdurende aanvulling. “EK IS LIG. Uit daardie geestelike Lig is alles wat bestaan. Daaruit word alles onderhou wat bestaan. Daaruit is alle materie geskep; of beter, die Primêre Energie is omvorm of gestol tot materie. Die Primêre Energie is volmaak soos die Wysheid en bestaan uit Lig, Lewe en Liefde. Dit is net inperkbaar deur; en reageer slegs volgens die wil van die Skepper. Dit beweeg oombliklik deur alles tot waar dit volgens die Wil benodig word. In die sonne word Dit in sekondêre energie [materie] omgeskakel en dit voorsien energie aan die res van die materiële sonnestelsels”.
            Tesla se aanhangers, is soos hyself, nie bewus van die ‘voortdurende aanvulling’ van energie nie, want hulle weet nie, of wil nie weet van Primêre Energie nie! Wanneer ons gebruik maak van son energie, maak ons gebruik van sekondêre energie wat deur die son uitgestraal word, maar die bron van die energie is Primêre Energie wat voortdurend aan die son gelewer word vir omsetting. Na die opvang van die son energie, deur middel van son panele, wind opwekkers en hidro-elektriese skemas, wat almal baie duur is, is daar tog weer verspreidings netwerke nodig, hoewel die energie gratis is. Tesla se probleem bly dus ‘n probleem.
            Geen wetenskaplike probeer eers om die omskakelings proses in die son te ondersoek nie, want hulle glo nie werklik aan ‘n Skepper nie, dan kom hulle met sinnelose teorië vorendag, wat nie die toets van tyd kan weerstaan nie.
            Wat is die eienskappe van energie? In die eerste plek kan energie nie vernietig word nie, maar dit kan wel verander word. Indien dit nie vernietig kan word nie, kan dit waarskynlik ook nie geskep word nie. Primêre Energie is van ewigheid tot ewigheid. Dit kan nie in spoed gemeet word nie, want in die geestelike is nie tyd, soos ons dit ken nie. Dit beweeg oombliklik en na die omvorming van Dit tot materie, kan daardie materie nie die oorspronklike Primêre Energie verhoed om deur dit te beweeg nie. Al lyk die laaste sin of daar werklik tyd betrokke is, is dit nie die geval nie. Wat eintlik bedoel word, is dat dit deur materie beweeg asof die materie nie bestaan nie. Dit kan egter gebind word met tyd en afstand wanneer dit stol tot materie. Dis ‘n liefdesdaad. Die Primêre Energie is soortsoekend en keer altyd terug na die Bron.
            Sekondêre energie reageer teenoorgesteld. Omdat dit gebind is met tyd en afstand is die reaksie soos die van ‘n tronkvoël wat altyd poog om te ontsnap. In die vorm van elektrisiteit word energie met ‘n koperdraad, wat geïsoleer is om ontsnapping te voorkom, gelei tot by die punt van gebruik, waar dit gewoonlik ontsnap. Die ontsnapping gebeur op verskeie maniere, soos bv. as hitte in ‘n stoof, as hitte en lig deur gloeilampe, deur ‘n elektriese motor wat deur middel van ‘n kompressor die energie in ‘n staaltenk vasvang. Daar is talle wyses waarop die gevangenskap beëindig kan word, maar ware ontsnapping uit die gevangenis van materie kan slegs deur Hom bewerkstellig word, Wie die gevangenskap gewil het. Alle materie het die neiging tot ontsnapping, sommige teen ‘n hoë spoed en ander stadiger.
            Die materie verteenwoordig slegs 4% van die heelal, maar dit is enorm, gesien uit die oogpunt van die nietige mens. Tog bestaan alle materie uit ingeperkte Energie. Ons aanvaar dat dit wat skaars is baie duur is, maar waarom is dit waaruit alles bestaan, dan so duur? Dit behoort mos baie goedkoop te wees! Is dit nie omdat die verkeerde mense beheer oor die fossielbrandstowwe het nie?
            Magnetisme speel ‘n ontsaglik belangrike rol in die omskakeling van Primêre Energie tot sekondêre energie en dus ook materie. Wanneer van die son melding gemaak word, word telkens van magneetvelde gepraat; daar is gedurig uitbarsting op die son wat magneetvelde veroorsaak, wat al die planete beïnvloed. Die vraag wat by my spook is: Wat is die verband tussen die omskakelings proses in die son en magnetisme oor die algemeen? Is dit nie die voortdurende aanvulling van energie nie? 
               



No comments:

Post a Comment