Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Ashope



Ashope

            Vyf en sewentig jaar gelede het ek bewus geword van ashope. Dit was ‘n terrein waar alles wat nie in ‘n woonhuis geduld was nie, op ‘n hoop gegooi was. Toentertyd se ashope was klein en het nie ‘n groot verskeidenheid artikels bevat nie. Nie alles wat daar gegooi is was heeltemal onbruikbaar nie, want ek onthou dat die as gebruik was om die kastrolle blink te skuur. Daardie ashope was gewoonlik nie baie vêr van die woonhuise af nie, maar op ‘n redelik onopvallende terrein.
            Deesdae kan ons nie meer praat van ‘n ashoop nie, want as is ‘n onbeduidende deel van dit wat weggegooi word. Kom ons noem dit ‘n rommelhoop. Soos wat die verbruikers goedere vermeerder het, het die rommel ook vermeerder en die terrein van storting het ‘n groot probleem geword. Die ashoop en die rommelhoop het tog iets in gemeen: Eerstens is daar op elkeen sekere voorwerpe wat wel gebruik kan word, of hersirkuleer kan word. Die belangrikste ooreenkoms is egter dat goed wat nie bymekaar hoort nie, bymekaar gegooi word! Dit is besoedelend en dit maak nie saak wat dit is nie, as dit verskillend is, is die uiteinde ‘n rommelhoop.
            Kom ons kyk nou na die boek “Going Deeper”. Daarin word kosbare waarhede gevind, maar daar is ook groot gedeeltes wat geweldig misleidend is. Die grootste probleem is dat die skrywer studies van alle ‘godsdienste’ op aarde gemaak het en dit deurmekaar geroer het en as die groot ‘waarheid’ verkondig. Wat hy in werklikheid doen, is om ‘n rommelhoop van die hemel te maak. Sekere dele van die boek is werklik ‘n belaglike voorstelling van die Skepper!
             Die skrywer se begrip van ‘ewigheid’ is verstommend. ‘Ewigheid’ beteken tog dat daar geen begin was nie. Die Fibonacci volgorde is so ‘n goeie demonstrasie van die begin van materie, waar die begin baie duidelik onvolmaak is, maar geleidelik meer volmaak word. Nou wil die skrywer van die boek probeer om ‘n begin aan die Godheid te koppel. Hy maak selfs ‘n lasterlike bewering dat die Godheid ‘eksperimente’ moes maak om te sien hoe die materie sou uitdraai! ‘n Totale ontkenning van die alwetendheid van die volmaakte Skepper! Die skrywer het duidelik nie die vaagste benul waarom materie geskep is nie. In geheel gesien is die boek daarop gemik om die lesers te mislei, want die boek is tot oorlopens toe vol van paradokse wat hy op onsinnige wyse aanvaarbaar probeer maak. Tog is daar seker baie mense wat sy stories sal glo.
           
            Sien die geskrif  “Die doel agter die skepping van materie”






No comments:

Post a Comment