Die gelykenis van die verlore seun
Sou hierdie, die verhaal van ‘n
aardse vader en sy seun gewees het, sou dit waarskynlik so verloop het: As die
seun die versoek gerig het, sou die vader heelwaarskynlik geweier het om die
erfporsie te gee, omdat dit ‘n voortydige versoek was. Die seun sou kwaad
geword het en met dit wat hy tot sy beskikking gehad het, die pad gevat het. As
gevolg van sy losbandige lewe, sou hy gou in die moeilikheid geraak het. Nadat
sy vader gehoor het dat hy ‘varke oppas’, sou hy tog sy seun jammer gekry het
en hom gaan haal het; hom streng beveel het om saam huistoe te
kom en die seun sy slaapkamer terug gegee het. Of die seun werklik berou oor
sy weglopery gehad het, is ‘n ope vraag. Waarskynlik sou hy sommer gou al die voorregte
wat hy in sy ouerhuis geniet het as regte opgeëis het. Ek vermoed
hierdie seun sal na die volgende rusie met sy ouers, weer wegloop.
Kom ons kyk nou hoe hanteer ons
hemelse Vader hierdie saak: Alhoewel niks die seun op daardie tydstip toegekom
het nie het die Vader hom dit nie geweier nie, want die seun het ‘n siel
waaraan ‘n vrye wil gegee is – die besluitreg is dus gedelegeer – en die
Vader dwing niemand nie. Hy het die seun ook nie belet om alles
te verkwis nie. Toe die seun, deur honger gedwing, varke gaan oppas het, het
die Vader nie agter hom aangeloop nie. Hy het geduldig gewag dat die seun self
die wilsbesluit neem om na die Vader terug te keer. [Die Skepper dwing nie
die mens nie, want sou Hy dwing, dan tas Hy sy menswees aan en plaas hom op
dieselfde
vlak as
‘n dier, wat deur middel van instink gedwing word].
Die seun het opreg berou gehad en
het geen voorneme gehad om by sy terugkeer enige regte te gaan opeis nie.
Hy het net gehoop sy Vader sou hom genadig wees en hom as huurling in diens
neem. Groot was sy verbasing toe sy Vader hom van ver af met blydskap
tegemoet kom, hom omhels en terug verwelkom. Toe hy berouvol vergifnis vra,
het sy Vader hom onvoorwaardelik vergewe, die beste kleed aangetrek en van
blydskap ‘n feesmaal gehou.
Hierdie seun sal uit liefde vir sy
liefdevolle en wyse Vader, nooit weer van Hom weggaan nie.
No comments:
Post a Comment