Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Belydenis



Belydenis

            Waar was die oorsprong van die kerkbegrip van belydenis? By die Rooms Katolieke! Die arme sondaar is gebreinspoel om belydenis te doen voor 'n priester, om wat te bereik? Kan die hooghartige drommel jou sondes vergewe? As jy glo hy kan jou vergewe, is jy nou reg om hemel  toe te gaan? Is sy vergifnis 'n paspoort hemel toe?
            Na die ander kant toe is die totale ignorering van belydenis. Jan B. vertel vir sy nuut verworwe volgelinge dat die sondes wat hulle môre gaan doen, gister reeds vergewe is. Een van sy lidmate se gedagtes is nou in vyfde rat: "Daardie rooftog, wat ek vir môre beplan, is gister al vergewe! Ek moet tog onthou om volgende Sondag 10% van my buit vir die priester te bring!"
            Vir albei hierdie kerke is Mammon baie belangrik!
            Belydenis volg na berou. Berou is die gevolg van liefde wat deur die gewete gedryf word, maar kan ook deur vrees vir vergelding gedryf word. Kom ons kyk na 'n voorbeeld waar liefde die berou tot gevolg het en neem 'n getroude paar as voorbeeld. Vroulief was 'n bietjie wild voor haar troue en selfs na haar troue was daar 'n paar insidente. Dit is ‘doodsbeendere wat in kaste toegesluit is’. Manlief weet van sommige episodes en vermoed dat daar nog ander is, maar is nie seker nie. Vroulief is voortdurend bekommerd dat iemand, wat wel van die meer ernstige gebeurtenisse weet, vir Manlief kan inlig.
            Die egpaar is tog lief vir mekaar en wil van hulle huwelik 'n sukses maak, veral omdat 'n egskeiding hulle kinders ontsettend kan ontwrig.
            Vroulief neem haar godsdiens al ernstiger op en hoe meer sy geestelik groei, hoe meer pla haar gewete haar oor die ‘doodsbeendere wat in die kaste toegesluit is’. Sy het 'n diepe berou oor wat sy gedoen het en het 'n intense behoefte om belydenis te doen teenoor Manlief, maar sy kan nie so ver kom om te bely nie, want sy onthou goed hoe hewig ontsteld hy was toe sy een van die minder ernstige foute aan hom bekend gemaak het! Die tweestryd begin haar gesondheid aantas en al vra Manlief wat haar hinder, kan sy uit vrees vir sy reaksie en die moontlike gevolge, haarself nie so ver kry om te bely nie.
            Ten einde raad skryf sy 'n brief aan 'n pastorale sielkundige wat leseresse se probleme in 'n vrouetydskrif ontleed en raad gee. Vir ons naamlose Vroulief was sy advies: "Hou die doodsbeendere agter slot en grendel en hoop maar Manlief vind nie uit nie!" Daardie advies het sy toe maar gevolg, sonder dat dit enige gemoedsrus tot gevolg gehad het.
            Terwyl Vroulief wroegend voortgeleef het, het Manlief 'n soortgelyke probleem gehad. Hy het al dieper in geestelik geörienteerde geskrifte gedelf na die Waarheid. Vroulief se konserwatiewe ingesteldheid, het egter tot gevolg gehad dat sy hom nie in sy soeke ondersteun het nie en gesprekke in die rigting van hulle verswygde probleme, het nie gerealiseer nie.
            Manlief het self ook toenemend berou gekry oor dit wat hy aan haar gedoen het, waarvan sommige ook aan Vroulief bekend is. Die gebed wat ons Verlosser vir sy volgelinge geleer het, het al meer en meer by hom begin spook, veral Matt 6:12,14,15. "En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;… want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie". Beteken dit dan dat die mate van jou vergifnis, bepaal in watter mate jy vergewe sal word? Manlief wil graag vergewe word, maar wat gaan Vroulief sê as hy vir haar alles vertel wat hy aangevang het? Aan die ander kant sal hy haar ook graag wil vergewe vir wat sy aan hom gedoen het, maar wat moet hy vergewe? Het hy die reg om belydenis van haar te eis? Die volgorde is tog; berou, belydenis en dan vergifnis! Sal sy bereid wees om te bely? En as sy bely? Hy onthou nog die pyn wat hy ondervind het toe sy lank gelede iets uit haar verlede aan hom vertel het! Sê nou daar kom erger dinge uit! Moet hy nie maar stil bly en niks vra nie? Moet hulle maar in die leuens voortlewe? Kan 'n mens met die vrag leuens deur die ‘nou poort’ gaan? Volgens Openbaring 21:8,27 en 22:15 sal geen leuenaar deur daardie poort gaan nie! Wat nou?
            Kom ons laat vir Manlief en Vroulief 'n rukkie alleen met hulle probleem, terwyl ons dieper delf na die oplossing.
            Die konings of regeerders van die wêreld is nie konsekwent ten opsigte van hulle eie wetgewing nie, want hulle hou hulle self dikwels nie by die wette wat hulle vir hul onderdane voorskryf nie. Ons hemelse Vader skryf volmaakte wette aan Sy kinders voor, maar sal nooit ooit Self daardie wette oortree nie. As Hy sê: Vergewe sodat julle vergewe kan word, sal Hy mos nooit sy vergifnis weerhou nie! Hy sal mos nooit sy belofte in Matt 6:14 nie nakom nie!
            Soms wonder ek of mense die belangrikheid van die volgende vers raaksien. Matt 5:23,24 "As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder [man of vrou] en kom dan en bring jou gawe". Let op die volgorde! Het die versoening met die broeder deur belydenis, volledige detail van die onreg vereis? Die broeder weet mos wat hom aangedoen is! Wat Manlief en Vroulief betref, is die onregte tot ‘n groot mate onbekend, want dit is nog ‘in die kaste toegesluit’. Is die advies wat die pastorale sielkundige vir Vroulief gegee het, nie agter alles tog maar die beste nie? Die antwoord is ‘n besliste Nee! Wanneer huweliksmaats ‘n klomp doodsbeendere met hulle saamdra, ‘leef’ hulle leuens. As die huweliksmaat ‘n direkte vraag vra, sal dit waarskynlik met ‘n gesproke leuen beantwoord word. As die onuitgesproke vraag tussen hulle hang, sal die ‘leef’-leuen altyd teenwoordig wees. Dit is hierdie leuen wat voortdurend aan die gewete knaag. Meestal is daar ‘n knaende behoefte om die waarheid te weet. Waarom wil jy die volle waarheid weet? Het dit wat jy alreeds weet, jou nie genoeg seergemaak nie? Om albei met leuens te ‘leef’ is ook nie ‘n oplossing nie. Wat nou?  
            Kom ons kyk nou weer na Matt 5:23,24 uit 'n effens aangepaste hoek. As julle dan julle gawe [berou en belydenis] na die altaar bring [voor julle hemelse Vader lê, ook in ‘n privaat gebed] en julle het in alle opregtheid die saak met julle eggenoot versoen, sal julle berou en belydenis liefdevol deur Hom aanvaar word. Die versoening tussen die huweliksmaats moet dus eers plaasvind soos deur die Woord vereis.
            Hoe kan hierdie versoening gedoen word in die lig van die genoemde probleme? Deur ONVOORWAARDELIKE VERGIFNIS! Dit is die sleutel tot die oplossing van Manlief en Vroulief se probleme!
            Terwyl albei ‘toegesluite doodsbeendere’ het, maak dit nie saak wie die saak aanroer, of wie die meeste doodsbeendere het nie! Die volgende moet egter deur albei gesê word: "Ek vergewe jou onvoorwaardelik vir alles wat jy aan my gedoen het, want ek weet dat ek ook onreg aan jou gedoen het en ek kan nie vergewe word indien ek nie vergewe nie. Ons kan mekaar van onskatbare waarde wees indien albei onvoorwaardelik kan vergewe! Kom ons vergewe mekaar onvoorwaardelik met 'n plegtige belofte dat dit 'n volkome vergifnis is!" [Onvoorwaardelik vereis nie kennis of detail nie!]
            Ons hemelse Vader weet van elke onreg wat gedoen is en Hy weet presies wat jou gesindheid was toe die onvoorwaardelike vergifnis ooreenkoms aangegaan is, want Hy "toets jou hart en niere!" Indien julle ooreenkoms opreg is, sal Sy vergifnis volkome wees. Daar sal dus niks “van die dakke af verkondig” word nie, want Hy sê deur die mond van sy profeet: "Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu".
            Nou moet ons baie noukeurig na die ooreenkoms tussen man en vrou kyk. Dit moet 'n lewenslange ooreenkoms wees! Dit kan nooit genoeg beklemtoon word nie: Dit moet ‘n ooreenkoms wees! Enkelvoudige optrede of bedoeling kanselleer die woord en begrip ooreenkoms. Na ‘n opregte ooreenkoms kan elkeen in privaatheid sy of haar hemelse Vader nader.
Wat kan so 'n ooreenkoms verongeluk? 1) Gedagtes 2) Woorde 3) Dade.
            (1) Gedagtes is altyd die begin en aanvanklik die onskadelikste t.o.v die ander party, maar die skadelikste vir jouself, want indien jy 'n negatiewe gedagte vertroetel, vertroetel jy pyn wat net jy voel. Daardie vertroeteling maak die gedagte al sterker en dit is allermins wat ons beoog met onvoorwaardelike vergifnis. Wanneer 'n negatiewe gedagte jou bekruip, stoot dit onmiddelik opsy. Vergifnis is 'n reiniger; nie noodwendig 'n onmiddelike pynstiller nie, maar jy kan dit 'n pynstiller maak, indien jy jou ooreenkoms sorgvuldig eerbiedig.
            (2) Jy het 'n ooreenkoms met jou geliefde gemaak en vir die res van jou lewe mag jy geen kwetsende woord of verwyt oor jou lippe laat gaan nie.
            (3) Ek twyfel of jy met 'n daad die ooreenkoms sal breek, want jou gesonde verstand sal jou waarsku dat dit die wonderlike geleentheid wat julle gekry het, finaal sal vernietig.
            Ons kan nie sê dat al julle sonde terug geplaas sal word op die boek van die lewe, indien julle die ooreenkoms breek nie, want dit is nie hoe dit werk nie. Elohim ken die toekoms en julle poging sou van die begin af vrugteloos gewees het indien julle die ooreenkoms sou breek, maar of julle daarvan bewus sou wees, dat die poging 'n mislukking is weet ek nie, julle kan dalk in ‘n gekkeparadys voortleef tot by die groot ontnugtering!
            Dus, hou pligsgetrou julle plegtige ooreenkoms in stand, want ons hemelse Vader is ook daarby betrokke.

            Wanneer ‘n mens na die nuusberigte kyk, is dit verstommend hoeveel egpare juis die teenoorgestelde van hierdie raad doen. Talle mans en vroue kan dit wat die huweliksmaat gedoen het, nie verwerk nie en vertroetel die gedagte daaraan, totdat dit lei tot verwyte wat die huwelik verongeluk. Dit kan selfs lei tot moord!

No comments:

Post a Comment