Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Standvastig



Standvastig.

            Wat bedoel mense wanneer hulle sê dat iemand standvastig moet wees? Beteken dit dat die lede van ‘n organisasie hulle stiptelik moet hou by die beginsels van die organisasie? Indien jy as ‘n stigterslid gehelp het om die beginsels op te stel, is dit tog logies dat jy jou by die beginsels sal hou! Wanneer jy dan afwyk van die beginsels, kan na jou verwys word as ‘n onstandvastige persoon. Gestel jy het by ‘n reeds bestaande organisasie aangesluit, was dit tog jou verantwoordelikheid om die beginsels van die organisasie deeglik te ondersoek, voordat jy aansluit. Sou jy dan later nie met die beginsels saamstem nie, indien die beginsels dieselfde gebly het, kan jy as ‘n onstandvastige persoon beskou word!
            Die preek gelewer deur ‘n predikant oor die onderwerp, het ‘n kontroversiële siening tot gevolg gehad. Hy het gemeentelede van die kerk wat nie met die beginsels van die kerk saamstem nie, as onstandvastig bestempel. Daardie stelling het my laat wonder? Sou daardie stelling korrek wees, dan is ek mos onstandvastig!
            Byna 84 jaar gelede is ek gebore en my ouers was, so lank terug as wat ek kan onthou, standvastige kerklidmate. Vir 40 jaar was ek ook ‘n standvastige lidmaat van dieselfde kerk, maar toe het daar ‘onstandvastigheid’ ingetree, want ek kon nie meer die veranderde beleidsrigtings van die kerk ondersteun nie! Die predikant het gereken ek is onstandvastig, maar ek het gereken die kerk is onstandvastig! Wie was nou eintlik reg? Aan watter bron kan standvastigheid getoets word? Die predikant het geglo wat hulle leiers voorgeskryf het en ek glo wat die Bybel voorskryf! Dit het nie vir my gehelp om die onstandvastigheid van die kerk uit te wys nie, want van ‘demokrasie’ word ‘n afgod gemaak en heelwat meer as die helfte van die lidmate het verkies om ‘standvastige’ lidmate van die kerk te bly. Nou moet ek sê dat ek geen poging aangewend het on tweedrag in die gemeente te veroorsaak nie, maar tog het ek my standpunt met ontevrede lidmate bespreek. Ons het egter nooit as ‘n georganiseerde groep opgetree nie. Sommige het by ander kerkgenootskappe ingeskakel, maar ek het nie kontak met almal behou nie; miskien was dit merendeels ‘n geval dat ons die profeet se raad gevolg het en “onder hulle uit gegaan het”.
            Wat is dit wat my ‘n ‘onstandvastige’ lid van die kerk gemaak het? Die rede was dat die predikante nie meer die Bybel se voorskrifte in ag geneem het nie! Dit wat hulle voor 1960 as sonde voorgehou het, was na 1980 nie meer sonde nie! Steeds het hulle beweer dat hulle volgens die Bybel se voorskrifte handel, maar dat die lidmate net nie die Bybel verstaan nie. Wanneer ek vir die predikant sê hulle beskou sodomie nie meer as sonde nie, terwyl dit in die Bybel ondubbelsinnig as sonde uitgewys word (Gen. 18), dan sê hy die Ou Testament is nie meer van toepassing nie! Het die kerk standvastig by hulle vorige beleid gehou?
            Die vraag is nou: Indien hulle meer as die helfte van die huidige Bybel nie meer as ‘van toepassing’ beskou nie, wat het hulle in die verlede ‘nie van toepassing’ geag? Was die Bybel wat ons vir soveel jare as die rigsnoer geag het volledig, of het die kerkleiers ook daar gedeeltes as ‘nie van toepassing’ geag? Wat het geword van die gedeeltes wat die uitverkiesingsleer so duidelik weergee? Daardie leerstelling het tog saam met ons voorouers uit Nederland gekom! Wat het van die Deutro-Kanonieke Boeke geword? Is alles deur onstandvastige kerkleiers verwyder? Alles wat nie in hulle smaak geval het nie?
            En van 1980 af vorentoe? Die liberale sienswyse van die predikante het tot gevolg gehad dat die Bybel nie meer vir hulle aanvaarbaar was nie en moes verander word! Die nuwe 1983 vertaling is met groot fanfare in die kerke bekendgestel en beskryf as die woord wat deur almal verstaan sal word. Wie nou skielik moes ‘verstaan’ weet ek nie, want die ou vertaling was tog baie duidelik! Het die lidmate skielik so ‘dom’ geword dat die ‘slim’ predikers vir hulle ‘n duideliker bybel moes gee? Tog eienaardig dat die ‘dom’ gemeentelede wat kan lees, gou ontdek het hoe onsinnig sommige vertalings is! [Soms wonder ek of die nuwe vertaling nie dalk bedoel is vir die wat nie kan lees nie!] Nou kan die werklik onstandvastiges die toehoorders se koppe swaai in die rigting wat hulle wil! Daar is glo nog ‘n nuwer vertaling in die pyplyn! Is dit om die onsinnighede, wat in die 1983 vertaling voorkom, te herstel of om nog by te voeg? Nou moet ons onthou dat hierdie vertalers vroeër eintlik net die Nuwe Testament erken het; terwyl daar in Openbaring 22:18,19 die volgende geskryf is: “…. As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is”.
            Let op hoeveel ongeneesbare siektes voorkom en op watter skaal, noudat die voorskrifte van die Bybel verwerp word! Wanneer ons die twee vertalings vergelyk, is dit verstommend hoe woorde bygelas is en hoeveel woorde weggelaat is! Lyk dit na standvastigheid t.o.v die Bybel? Aan wie moet gehoorsaamheid bewys word? Aan die Bybel of aan die kerkleiers? Wie is die onstandvastiges, die kerkleiers of die gemeentelede wat weier om die kerkleiers te volg?
            Ds. gaan lees maar weer die oorspronklike Bybel, wat tot jou beskikking was, volledig voordat jy gemeentelede beskuldig dat hulle nie standvastig is nie!
             

No comments:

Post a Comment