Na afsterwe ?
Is die mens vol vrees
vir die onbekende wat wag na die dood, of sien die mens verlangend uit na dit
wat wag? Dan is daar die wat onseker is en dan die wat onbekommerd is, omdat
hulle nie aan die geestelike glo nie.
Die laaste groep kan
herken word aan hulle optrede voor die dood, want hulle is net daarop ingestel
om soveel aardse skatte bymekaar te maak as wat moontlik is. Moontlik wag daar
‘n verrassing, maar dit is nie my saak nie.
Wat die aanleiding
tot die onsekerheid is, is waarskynlik onvermoë om te onderskei tussen reg en
verkeerd, want dit hang tot ‘n groot mate af wie of wat geglo word. Ook is die onwilligheid
om liggaamlike genietinge te weerstaan ‘n bydraende faktor, want gewoonlik word
daarvoor doelbewus ‘n verskoning gesoek, al waarsku die gewete!
Die groep wat
verlangend uitsien na die lewe van die siel na die afsterwe van die materie
liggaam, is juis dié wat bekommerd behoort te wees, omdat hulle moontlik ‘n baie
groot ontnugtering gaan kry! Hierdie mense sit gewoonlik in volgepakte
kerkgeboue en luister na die woorde van ‘n prediker wat sê dat
elkeen van hulle reguit hemel toe gaan, want “Jesus het reeds vir hulle sondes
aan die kruis gesterf”. Pasop dat daardie woorde van die prediker nie net
bedoel is om soveel moontlik lidmate in sy kerk te kry nie. Daardie preke is
dikwels die rede waarom mense wat swaarkry, selfmoord pleeg om die ellende vir
die heerlikheid te verruil! Wie is nou verantwoordelik vir ‘n daad wat soveel
droefheid tot gevolg het? Jesus het beslis vir baie se sondes gesterf, maar
beslis nie sonder berou van die skuldenaar nie! Die lewe op aarde is die
geleentheid wat elke siel kry om te strewe na volmaaktheid, maar daardie
volmaaktheid is in werklikheid byna onmoontlik om te bereik en slegs enkeles
het dit bereik. Daardie siele het opgevaar na die hemel en is sekerlik deur die
poort ingelaat. Wat nou van die ander ‘goeie’ mense? Hulle, en selfs die ‘minder
goeies’ sal ook deur die poort gaan, want ons hemelse Vader is genadig en Sy
liefde vir Sy kinders strek tot in ewigheid, maar daardie toelating kan baie
lank duur!
Die wat vol vrees die
dood tegemoet gaan, kan ook onder die getel word wat deur die groot genade van
ons Vader gered sal word. Die aarde is geskep om as rehabilitasiesentrum vir
die sondige siele te dien. Die geestelike groei kan gedurende die lewe op aarde
baie vinniger plaasvind as in die geestelike hiernamaals, maar dit wat nie
bereik word in die materie nie, sal in die geestelike voortgesit kan word,
indien dit die begeerte van die siel is, want elke siel het ‘n vrye wil.
Henog, die sewende in
die geslag van Adam het wel toegang tot die hemel gehad en ons kan heelwat leer
uit sy geskrifte. Henog kon die toekoms sien met verstommende akkuraatheid. Omdat
hy die Skepper kon sien is die bewys dat hy hom in die geestelike bevind het en
die tonele wat hy gesien het, behoort ook vir die siele van gestorwe mense op
soortgelyke wyse sigbaar te wees. Geestelike wesens is nie soos mense van twee
geslagte nie, want vermeerdering kan deur middel van verdeling plaasvind, maar
alleen indien dit die wil van Elohim is. Wanneer ‘n mens te sterwe kom verander
die siel nie in ‘n ‘engel’ nie, maar bly oënskynlik van dieselfde geslag en
behou dieselfde neigings en gedragspatrone, op die vlak van die laaste dae as
materie mens. Eers wil ek vertel wat ‘n paar jaar gelede oor televisie
uitgesaai is. ‘n Sekere vrou was deel van ‘n program, oor wat die optrede van
‘n siel of gees na die afsterwe van ‘n mens is. Sy kon met die siele of
‘geeste’ van oorlede persone kontak maak en gesprek voer. Die familie van die
meeste gestorwenes het bevestig dat die kontak eg moes wees, omdat selfs die
beskrywing van meubels korrek was. Sy het beweer dat die siele bly rondbeweeg
het waar hulle gewoond was om as lewendes te beweeg. Wat vir my opvallend was,
is dat sy soms nie kontak kon maak nie, omdat die siel reeds volgens haar
‘deurbeweeg’ het. Omdat ek nooit ‘n geleentheid gehad het om met haar te praat
nie, weet ek nie waarheen die siel beweeg het nie, en waarom.
Met die lees van
Jesus se diktaat, soos gegee aan Jakob Lorber, kan ‘n duidelike beeld gevorm
word van wat die siel van ‘n gestorwe mens sal waarneem wanneer die ‘gebied’
van die geeste betree word. Kom ons kyk vlugtig daarna. Dit word aangehaal uit
“Van die Hel tot die Hemel” maar wanneer ek aanhaal, gaan ek dit net verkort
tot H-H. Uit die voorwoord: “Onder die nuwe openbaringe is ook boeke wat
toestande beskrywe waarin die mens homself bevind na sy dood en die sfere van
die steeds verder gaande ontwikkeling in die hiernamaals”.
Robert het byna 200
jaar gelede ‘n stryd gevoer teen ‘n onbillike regering en is na sy inhegtenisneming
deur ‘n vuurpeloton tereggestel, omdat hy as terroris beskou was. Sy
geskiedenis as geestelike wese, gee ‘n aanduiding van wat om te verwag na
afsterwe, maar dit kan heelwat verskil van die gestorwene met ‘n meer gewone
lewensloop. Ons sal dus maar begin waar die lig die duisternis vervang en die
periode in die hel ignoreer.
H-H 24:2 “En HY lei die mense onder alle
omstandighede van hulle lewe, wat ‘n oefenskool is, so, dat byna almal, ondanks
alle moeilikhede, die hoë
bestemming moet bereik, terwille waarvan die Godheid hom enkel en alleen in
die lewe geroep het”.
H-H 28:4 “Maar God laat dit nooit na om hulle op die
beste weg na hulle tuiste en mees volmaakte doel te lei nie. Hoe kan jy dink
dat die Godheid Haar skepsele, wat Sy uit Haarself voortgebring het, vir ewig
sal vervloek en sou verdoem!” [Gaan dit hier oor Adamiete?].
H-H 32:2,3 “Kyk, jy is nou ook soos ‘n nie volryp druif
en jy is nog nie vir die onthulling wat jy verlang, ryp nie. En waarom nie? Dit
wat nou volg, sal dit wel vir jou aantoon! Wanneer jy egter ryp word, dan sal
jou eie gees jou sê wat
jy nou regstreeks van MY sou wil hoor. Ons het nog eers ‘n belangrike kapittel
[onderwerp] met mekaar te bespreek. As dit goed verloop, dan sal jy vinniger
ryp word as wat jy jou kan indink. Val die bespreking nie uit volgens God se
orde nie, dan sal jy nog ‘n hele tyd nodig hê
vóór jy volkome ryp sal wees”.
[Die tempo van ontwikkeling word dus bepaal deur die siel, wat ‘n vrye wil het.]
H-H 36:11 Robert se
siel is aan die woord: “Kyk, seer
gewaardeerde vriend [Jesus], en God in alles wat jy ten opsigte van my wil wees:
Ek kan my weliswaar nie oor my teenswoordige toestand bekla nie. Ek is nie
dorstig of hongerig nie; my hele wese word deur geen pyn gepla nie en aan jou
geselskap het ek genoeg vir die hele ewigheid [kan vir ewig aanhou]. Maar as
ons vir ons wedersydse debatte ‘n beter plekkie sou kon vind, sou dit werklik nie
sleg wees nie. Want hier sien dit ‘n bietjie yl uit, ja, jy sou self kan sê dat dit op heeltemal niks lyk nie.
Behalwe die klein bergie waarop ons nou al ‘n geruime tyd saam op staan, is
daar geen enkele wese te sien nie. Kon ons maar ‘n grasveldjie, met byvoorbeeld
‘n eenvoudige landshuisie ontdek en in besit neem, dan sou ons uiters
interessante debatte in ‘n veel beter sfeer kon vervolg!” [Op hierdie
tydstip het Robert se siel nognie besef dat sy metgesel Jesus Self was nie]
H-H 37:1 “EK sê:
Beste vriend en broer! Dit is nou haas nie moontlik nie. Hier in die wêreld van die geeste kan alleen dit in
werklikheid sigbaar word wat ‘n mensesiel in haar hart saam hierheen gebring
het. In die hele oneindigheid bestaan daar maar één
enkele werksame middel om die doel te bereik, en dit heet deemoed van die
hart, in die totale betekenis van die woord!”
H-H 39:2,7,10 “Jy moet net dit wat EK aan jou gaan
bekendstel, noukeurig volgens MY voorskrifte opneem en daarvolgens handel met
jou hart, dan sal jy skielik helder begin sien. En jy sal oor die wese van baie
dinge, waaroor jy nou nog in die duister verkeer, helderheid en duidelikheid
verkry. Want Ekself neem die verstand van die hart uit My Gees en lê dit soos ‘n goeie saaier in die bodem
van die hart; dit is die egte liefde, wat deur deemoed en sagmoedigheid baie
goed gevoed word. Dit is dus vanselfsprekend dat die uiterlike verstand moet
afneem, ja, uiteindelik gevange geneem en onthoof moet word, wanneer die ware
verstand van die hart, wat gelyk is aan Myself, in iedere mens toeneem en
uitgroei tot die heerlikste boom van die lewe, waarin volkome kennis lê”.
H-H 40:1,4-9 “EK sê:
Beste broer en vriend! EK sê vir
jou, jou sonde is jou vergewe, omdat jy jou so verdeemoedig het dat jy die
waarde van jou uiterlike verstand totaal opgegee en in plaas daarvan die
verstand van jou hart aangeneem het. Daarom sal al jou aardse gebreke van
nou af nie meer ter sprake kom nie! Maar die insig is nog lank nie genoeg
nie. Jy moet om die ware hemelryk te verkry, die insig ook verlewindig met die
ware liefde tot die naaste en daardeur met alle liefde tot MY! Daarom sal EK
jou na ‘n plek bring waar dit jou beslis nie aan gevarieerde geselskap sal
ontbreek nie. Jy sal ‘n aansienlike stuk grond kry, met ‘n groot en goed
toegeruste woonhuis, en wel aan ‘n hoofweg in ‘n baie bekoorlike omgewing. [Ons
moet onthou wat Jesus tevore aan Robert gesê
het dat slegs dit “sigbaar word wat ‘n mensesiel in haar hart saam hierheen
gebring het”.] Ook sal daarvoor
gesorg word vir ‘n aansienlike personeel staf, wat jou op jou geringste wenk
sal gehoorsaam.
Baie
reisigers sal van die aarde af hier in die geestelike wêreld
verbykom en by jou huis verbytrek en ook hier by jou aanklop. Daar sal vriende
en vyande by wees. Maar sorg daarvoor, dat jy almal met opregte liefde ontvang
en hulle gee wat hulle nodig het, omdat hulle almal MY kinders, en dus ook jou
broers en susters is. [Adamiete?] Dan sal jy al die veelvoudige verkeerde dinge
weer goedmaak, wat jy op aarde weliswaar nie deur jou wil nie, maar alleen deur
jou geestelike onverstand bederwe het. Ekself sal dan weer na jou toe kom en
vir jou sê: Omdat jy hierdie klein
huishouding goed beheer het, sal jy nou voor ‘n groter taak gestel word!
Neem
jou bowenal in ag vir woede en wraaksug, asook vir onsuiwer liefde, waarvoor
dit jou nie aan geleenthede sal ontbreek nie. Dan sal jou nuwe lewensopgawe
sekerlik binnekort volbring wees en jou ware, ewige lewensgeluk sal vanaf
daardie oomblik werklik begin straal.
Wees
ook op jou hoede vir nuuskierigheid! Want dit maak geen enkele gees beter en
ligter nie, maar maklik slegter en meer duister. As jou kragte jou tekort
skiet, dra dan alles aan MY op, en jy sal spoedig voldoende hulp kry.
Nou
weet jy alles. Sê MY
daarom nou, of jy met MY voorstel tevrede is? Waarna ons onsself onmiddelik op
die bepaalde plek sal bevind!”
H-H 41:1 “Robert sê:
O, Heer, U is nou vir ewig my enigste liefde! Vers 8 “Kyk, MY beste Robert, al
jou sonde is jou vergewe, en EK het jou onbeskryflik lief, omdat jy MY nou ook
begin liefhê!”
H-H 44:3 “Dit sal jou belangrikste taak word om al
hierdie radikales op dieselfde weg te bring as waarop EK jou nou gebring het”.
[Die ‘radikales’ was mede terroriste.]
Hoeveel van die
‘gelowiges’ op aarde verkeer in ‘n voortdurende staat van spanning, omdat daar
‘n onsekerheid oor die lewe na die aardse dood is? Wie moet geglo word, want
daar bestaan heelwat verskillende idees oor die saak? Die maklikste uitweg is
natuurlik om te glo dat jou siel regstreeks uit jou liggaam in die hemel in gaan!
Daarom sal jy ook graag na die preke luister wat dit verkondig! Maar wat nou as
jy lees dat niks onrein in die hemel toegelaat sal word nie? Daarom is Lucifer
en sy volgelinge uit die hemel gewerp! Dit is tog heel sinvol, want hoe sal die
hemel lyk nadat al die besoedeling van die aarde af dit oorstroom het?
‘n Mens kan oor jou
eie hiernamaals bekommerd wees, maar dit is darem gerusstellend dat jy nog altyd
die geleentheid het om te verbeter. Moontlik is die kommer oor ‘n geliefde
familielid wat reeds oorlede is, die grootste bron van kommer, want hoor hoe
dreig sommige kerke met die hel! Die vorige drie bladsye bestaan uit gedeeltes
wat hoofsaaklik geneem is uit wat Jesus self gedikteer het, en dit gee ‘n
aanduiding van wat gebeur met die siel van ‘n oorlede mens.
Eerstens is dit baie
duidelik dat die Liefde, genade en geduld van Jesus oneindig is! Hy het ruim
voorsiening gemaak dat ‘n siel, wat die liggaam verlaat het, dan nog tot ware
berou kan kom en dan so volledig bekeerd kan wees dat die hemel betree sal
word! In die geestelike kry die siel ‘n tweede kans, maar dit duur in mensejare
gemeet, veel langer as op aarde.
Jesus sê vir
Robert dat hy moet waak teen woede en wraaksug, asook teen onsuiwer liefde,
want die geleenthede daartoe sal nie ontbreek nie. Dit kom eienaardig voor dat
hy gewaarsku word om nie onsuiwer seks te beoefen nie!
H-H 67 NB [Met
betrekking tot siele in die na-doodse ryk.] “Dat
hierdie toneel hier heeltemal letterlik weergegee word soos wat dit werklik in
die geesteswêreld afspeel, dat gewoontes,
spraak, hartstogte en die verskillende grade van ontwikkeling van ‘n volk
noodsaaklik met hulle saambring, gebeur om die gelowige leser en aanhanger van
hierdie openbaring ‘n aanskoulike bewys te gee, dat die mens na die aflegging
van sy liggaam, net so ‘n mens is met huid en haar, met sy manier van spreek,
met sy opvattings, gewoontes, sedes, gebruike, neigings, hartstogte en die
daaruitvloeiende manier van handel, as toe hy op aarde was tydens sy lewe in sy
liggaam, dit wil sê,
solank hy nog nie die volledige wedergeboorte van die gees bereik het nie.
Daarom heet so ’n eerste toestand direk na die oorgang die
“natuurlik-geestelike toestand” terwyl ‘n volledige, volkome wedergebore gees
hom in die “suiwer geestelike toestand” bevind, wat toegang tot die suiwer
hemel toelaat”.
Die siel wat die gestorwe menslike liggaam
verlaat, kan as gevolg van onsuiwerheid nie die suiwer hemel betree nie. Die
siel bevind hom of haar in ‘n gebied waar daar geen werklike waarneembare verandering
aan hulle self plaasgevind het nie. Hoewel hulle in die geestelike is, bly ‘n
man ‘n man en ‘n vrou bly ‘n vrou; die kleredrag bly diesefde en indien benodig
word soos op aarde klere aangetrek. Hulle behou selfs die simptome van aansteeklike
siektes waaraan hulle op aarde gely het. Hulle kan dieselfde bedrywighede
beoefen waaraan hulle gewoond was! Is dit waar die ongeregtigheid “van die
huise se dakke af verkondig gaan word”? Want die boosheid is ten aanskoue van
almal! Dit wil voorkom asof dit ‘n ‘grys’ gebied is tussen materie en gees.
Hierdie ‘gebied’ bewys die onbeskryflike Liefde en Lankmoedigheid wat ons
hemelse Vader vir Sy kinders het, deur ons ‘n tweede geleentheid te verleen;
want anders sou daar net twee bestemmings kon wees – of die hemel of die hel! Ons
het steeds ‘n vrye wil, maar Jesus is elke oomblik beskikbaar indien ons hulp
benodig!
No comments:
Post a Comment