Die Blou Glasie
Die
blou glasie word beskryf in ‘n ander geskrif, maar ek gaan dit tog herhaal
omdat nie almal die ander geskrif gelees het nie.
‘n Klompie jare
gelede het ek ontdek hoe die verhouding tussen die materie, siel en Gees is en
wat elkeen se funksie is. Die liggaam dra die siel en Gees deur die materie.
Die siel is met ‘n vrye wil toegerus en het beheer oor die doen en late van die
liggaam. Die Gees is ‘n liefdesgawe uit die hand van Elohim, om die siel met
goeie raad te voorsien.
Voor my het ek drie glasies gesien. Die
middelste glasie was geel met die woord ‘SIEL’ daarop. Aan sy linkerkant was ‘n
rooi glasie met die woord ‘LIGGAAM’ daarop. Aan die regterkant van die geel
glasie was ‘n blou glasie met die woord ‘GEES’ daarop. Vanaf die geel glasie
het ‘n duidelike pyl in die rigting van die rooi glasie gewys en nog ‘n
duidelike pyl het in die rigting van die blou glasie gewys. Die boodskap was
baie duidelik. Ek as lewende siel met ‘n vrye wil, het die keuse om te kies wie
ek wil aanhang, die liggaam [materie] of die Gees. Wil die ‘geel glasie’ na die
‘rooi glasie’ toe beweeg of na die ‘blou glasie’ toe?
Die siel, met sy vrye
wil, neem die besluite. Wanneer die liggaam ‘n behoefte het, word ‘n baie
duidelike sein na die brein gestuur, maar die siel sal besluit of aan die
behoefte voldoen moet word; as die behoefte bv. honger of dors is, sal die siel
geredelik toestem dat aan die behoefte voldoen kan word. Omdat die siel weet
dat die liggaam die draer van liggaam, siel en Gees is, sal die siel, afhangend
van sy ingesteldheid, besluit om toestemming te gee of nie. Vanselfsprekend sal
die siel alle redelike versoeke goedkeur. Die seine van liggaamlike behoeftes
is baie duidelik en kan soms dringend wees! Die siel mag wel ‘n ‘klokkie’ hoor
wanneer sekere besluite geneem moet word, maar die duidelikheid hang af hoe
naby die siel aan die Gees [‘die blou glasie’] lewe.
Die geskiedenis is
eintlik baie belangrik, want as ons dit ken het ons ‘n bron waaruit ons baie
kan leer. Daar is ‘n gesegde wat lui: “Die geskiedenis leer dat niemand uit die
geskiedenis leer nie”. Dit is alleenlik waar as ons niks uit die geskiedenis wil
leer nie. Om te bid is om erkenning te gee aan ons Skepper, en ons moet bid,
maar ons moet begryp dat daardie gebed, hoe onvolmaak ookal, is tog toenadering
tot ‘n barmhartige Elohim wat in Sy groot liefde ons nie sal verwerp nie. Dit
op sigself is groei. Wanneer iemand alleen op ‘n eensame plek is en hy wonder
hoe hy nader aan die ‘blou glasie’ kan beweeg, is dit nie nodig om bekommerd te
wees nie, want die woord sê dat jy Hom nie in klipgeboue, deur mensehande gebou, sal
vind nie. Dit is binne in jouself. Die ‘Blou Glasie’ is binne in
jouself! Soos reeds vermeld is jou liggaam
materie, maar in daardie liggaam dra jy ‘n onsterflike siel, wat gees is.
Die derde komponent is die grootste geskenk ooit, naamlik die Gees van Elohim.
Dit is gevestig naby jou hart. Dit is die ‘blou glasie’ en daardie ‘Blou
Glasie’ is elke sekonde van jou lewe beskikbaar om jou siel te bedien met
liefdevolle raad, maar nooit te dwing nie. Hoe nader jou siel aan die ‘Blou
Glasie’ beweeg hoe vinniger is die groei. Wanneer die ‘geel glasie’ [siel] uit
vrye wil, volledig oor die ‘Blou Glasie’ beweeg, is die pad na volmaaktheid
voltooi, maar dit kan eintlik nie in die materie gebeur nie, [slegs enkele
gevalle bekend] dan skei die siel, wat verenig is met die Gees, van die liggaam
en beweeg na die ‘ander kant’. Wanneer die siel by aflegging van die liggaam
net gedeeltelik met die Gees verbind is, sal die verdere groei of veredeling in
die geestelike plaasvind. Dit is die gewone weg van ‘n geredde siel
‘n Prisma van glas
word gebruik om wit lig te verdeel in sewe kleure [Eienaardig dat elkeen van
die sewe kleure donkerder vertoon as die wit lig]. Wanneer die kleure deur die
prisma teruggevoer word en een kleur is afwesig, sal daar nie wit lig aan die
ander kant wees nie.
Die sewe kleure van
die reënboog
kan vergelyk word met die sewe geeste of eienskappe wat nagestreef moet word
tot kindskap van Elohim.
Rooi Oranje Geel Groen Blou
Indigo Violet
Liefde Wysheid Wil
Orde Erns
Geduld Barmhartigheid
In die middel vind
ons die Orde. Die volmaakte Skepper het ‘n volmaakte Orde geskep wat
dien as riglyn vir die heelal, soos wat ‘n argitek ‘n volledige plan teken
voordat ‘n huis gebou word. Niks wat in die heelal bestaan is toeval nie, alles
het ontstaan volgens die volmaakte beplanning van die Skepper se Orde.
Ons as skepsels, met ‘n vrye wil, kan lewe volgens of teen die Orde.
Langs die Orde vind
ons die Wil. Die Wil is noodsaaklik indien ons besluit om volgens die
volmaakte Orde te leef op soek na die ‘Blou Glasie’.
Aan die ander kant
van die Orde vind ons die Erns. ‘n Wil sonder erns is maar net so goed
as willoos. Erns is dus ‘n noodsaaklike skakel in die soeke na die Orde of
groei van die siel; die beweeg na die ‘Blou Glasie’.
Verder aan vind ons
die Geduld. Sonder geduld kan ons nie verder vorder nie, aangesien die
volgende stap jare neem om te bemeester.
Hierdie stap is die Wysheid.
Mense verstaan nie altyd wat wysheid is nie, omdat hulle dit verwar met
geleerdheid of intelligensie. Intelligensie is oorerflik en ‘n redelike mate
van geleerdheid kan binne ‘n paar jaar bereik word. Wysheid is nie so maklik om
‘aan te leer’ nie, want die ‘resep’ word deur die slimmes verberg, deurdat
hulle nie aan die bestaan van ‘n Skepper glo nie. Dit het my jare geneem om te
ontdek dat Wysheid is om die wil van Elohim te doen. Dit is die weg na
die ‘Blou Glasie’.
Wanneer die vyfde
stap of eienskap bemeester is, lei dit jou na die sesde en sewende eienskappe.
Hierdie twee stappe of eienskappe is eintlik onafskeidbaar, want die een kan
nie sonder die ander bestaan nie. Die Liefde tot Elohim kan in jou hart
bestaan, maar Hy is Gees en jy is materie en die enigste manier om jou liefde
te bewys is om Barmhartigheid in die materie aan jou naaste te bewys.
Wanneer al sewe eienskappe volledig deur jou opgeneem is, dan het jy deel van
die ‘Blou Glasie’ geword!
Net soos al sewe
kleure nodig is om wit lig te kry, is al sewe eienskappe van Elohim nodig om by
die ‘Blou Glasie’ uit te kom. Jy moet die Wil hê om met alle Erns die Orde
van Elohim na te streef, dan met Geduld die Wysheid soek, wat jou
sal lei na Liefde en Barmhartigheid, die groot gebod.
No comments:
Post a Comment