Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Organiese Stimulante



Organiese Stimulante

            Oorreding is ‘n magtige medium wat, indien doeltreffend aangewend, gebruik kan word om mense te oortuig om dit, waaraan hulle glo te laat vaar, of aan te pas in ‘n ander rigting. Hoe is Lewellyn oortuig om te glo dat materie bloot ‘n ‘illusie’ is!? As dit moontlik was, is dit seker ook moontlik om mense van die omgekeerde te oortuig, dat hallusinasies, wat die gevolg van chemiese reaksie in die brein is, as werklik en bevorderlik vir jou geestelike groei te beskou.
            Voorlaasnag het ek diep gefokus op die almag van die Skepper, toe ek skielik bewus geword het dat die menslike denke materie is, maar dat dit die ‘plafon’ van materie is! Hoër vlakke is gees.
            Die mens het ‘n probleem. Hy is materie en leef in materie en hy weet nie waar die grens tussen materie en Gees is nie. Hoeveel mense sal jou glo indien jy sê dat denke van jou brein materie is?
            Die brein is materie en die denke of gedagtes is uitvloeiend uit die brein, in die vorm van golwende frekwensies. Aangesien alles wat ingeperk is deur tyd en afstand materie is, is gedagtes ook materie.
            Die onderhoud wat ene Blake met NB gevoer het, is baie oorredend wanneer oppervlakkig daarna gekyk word en selfs denkende mense sal waarskynlik in dieselfde slagyster as hy trap. Die onderhoud gaan oor die gebruik van marijuana wat dan die gebruikers sal help ... “for use as a booster of consiousness to discover the Higher Self”.
            Tot watter vlak Blake reken om te vorder is nie heeltemal duidelike nie. Hy praat van sekere inheemse kulture, wat ‘weed’ gebruik om te verenig met die natuur en met god. Die enigste manier waarvan ek weet om met die natuur te verenig, is om volgens die orde van die Skepper met die natuur om te gaan. Om met die Skepper te verenig [as dit is wat hy bedoel] is ‘n baie lang pad wat hy sonder twyfel nie ken nie.
            Graag wil ek op hierdie stadium sê dat die almagtig, volmaak, wyse Skepper regtig nie nodig het om van die hulp van materie substansie gebruik te maak, om die siel [geestelik] van ‘n mens na ‘n hoër vlak van rypheid te lei nie. Materie, op sy beste, is besoedel.
            Blake beveel aan dat marijuana saam met meditasie gebruik word om die beste resultate te verkry.
            Die enigste vorm van mediteer, wat vir my aanvaarbaar is, is diepe konsentrasie op ‘n bepaalde Persoonlikheid, dus ‘n doelgerigte persoonlike samesyn, intiem en geslote.
            Die ander vorm van mediteer, wat algemeen aanvaar word, lyk meer as sou dit ‘n ‘oop maak’ van jou innerlike te wees en te wag op iets om binne te kom. Wat daardie ‘iets’ is weet ek nie. Is dit veronderstel om ‘n verrassing te wees?
            Jare gelede het iemand wat aan my bekend was, ‘n stukkie geskiedenes uit sy lewe aan my vertel:- As gevolg van onversoenlikheid het Rolf ‘n reis deur Europa moes onderneem. Hy het op ‘n tydstip plaksak in Londen beland. Daar het ‘n Suid Afrikaanse meisie hom onder haar vlerk geneem en huisvesting gegee. Hy het op haar verlief geraak. Op ‘n dag het sy voorgestel dat hulle twee ‘n byeenkoms van kennisse van haar moes bywoon. Rolf het tussen ‘n groep mans beland waar hulle marijuana gerook en gekuier het. Hy was al redelik onder die invloed, toe die man langs hom vertel van ‘n kamer, waar beskikbare meisies was. Die kamer was in donkerte gehul en voel voel het hy ‘n meisie gevind en gedoen wat van hom verwag was.
            Later het dit tot Rolf deurgedring dat die meisie wie hy so lief het, ook in die kamer was waar die seksmaats nie geweet het wie wie was nie. Hy was verskriklik geskok en teleurgesteld en het na Brasilië gevlug om te probeer vergeet. Wanneer jy mediteer, veral saam met die ‘hulpmiddel’ loop jy gevaar om nie te weet wie jou innerlike betree nie.
            Blake beveel aan dat geen dwelms wat in ‘n laboratorium berei is gebruik moet word nie, maar slegs die organiese. Die probleem is dat die chemiese gewoonlik uit die organiese deur middel van raffinering berei word, dis dan net meer ‘suiwer’ en dus ‘doeltreffender’.
            Meditasie, soos beskryf in die verklarende woordeboek, dui op handeling in die bewuste denke en oorweging. Denke en besluitneming is die voorreg wat ‘n mens met sy vrye wil het.
            Om nou terug te keer na die ‘leegmaak’ meditasie, waar die bewuste opsy geskuif word, om ontvanklik te word vir begrippe van buite. Indien die mediteerder nie mag dink nie, hoe weet hy wie sy onderbewuste beïnvloed of oorneem? Het hierdie mediteerder nie sy vrye wil prys gegee nie? Het hy nou sy vrye wil verkwansel aan iemand wat hy nie ken nie? Indien daardie onbekende nou beheer het, hoe gaan hy dan die toestand omkeer? Hoe gaan hy weer ‘n vrye mens word?
            Die Woord sê: “Waak en bid dat jy nie in versoeking kom nie”. Opvallend word waak eerste genoem. Wanneer jy jouself wil beveilig moet jy jou gesonde verstand gebruik en alle moontlike voorsorg tref om die inbreker buite te hou. Jy ken hom nie en hy het die verrassingselement in sy guns. Wanneer jy nie waaksaam is nie en jou ‘huis se deure doelbewus oop laat’, wie dink jy gaan binnesluip? Sal dit nie juis daardie onbekende rower wees nie? Indien sy motief suiwer was kon hy mos aangeklop het toe jy by jou volle bewussyn was!
            Die Woord bid is tweede genoem. Wanneer jou verslapte waaksaamheid tot gevolg gehad het dat die rower toegang verkry het, moet jy hulp ontbied, want jy kan nie meer die probleem hanteer nie. Daar is egter ‘n ander probleem; hy het nou beheer en hy gaan jou nie toelaat om hulp te ontbied nie. Jou denke is nie meer jou eie nie en as daar pogings aangewend word om jou te red, gaan jou eie gebreinspoelde denke saam met die rower teen jou redder veg!
            Om nou terug te keer na Blake se ‘hulpmiddel’. Hy sê marijuana het “wisdom increasing properties”! Wat ek dikwels gesien het is hoe ‘slim’ gesuiptes en bedwelmdes hulleself ag, maar dit is omdat hulle wysheid dan tot zero vlak gedaal het! Blake sal baie goed doen as hy eers probeer uitvind wat wysheid is en dit nie verwar met intelligensie of geleerdheid nie. Van die grootste dwase kom juis voor tussen die geleerdes.
            Dit is nie my doel om matige gebruik van marijuana summier te verdoem nie, want ek het nie ondervinding daarvan nie, maar ek het wel bedenkinge. Dit sal insiggewend wees om ‘n eerlike en korrekte verslag te sien oor die persentasie tussen matige en goedbedoelde gebruik en oormatige misbruik. Die vraag is nou of dit wenslik is om ‘n middel wat waarskynlik 1% goed en 99% sleg is, te wettig? Alle verdowende middels het die neiging om, in die proses van gebruik, die oordeel van die gebruiker te verswak. Marijuana het hom oor en oor bewys om met gebruik, nie net die misbruik te vermeerder nie, maar is ook die voorloper tot baie erger dwelms.
            Blake, jy praat van ‘n toename in liefde en van ‘Christ consiousness’. Ek het dikwels in kroeë gesien hoe die dronkies almal liefhet en hoe hulle oor hulle godsdienstigheid spog, maar as hy by die huis kom en sy vrou konfronteer hom, dan slaan hy haar gesig stukkend. Blake, hoe regverdig jy die gebruik van die dwelm as 99% van die gebruikers presies die teenoorgestelde van liefde in hulle daaglikse optrede openbaar? Noem jy dit ‘liefde’ as die daggaverslaafde sy ouers en almal wat hom werklik liefhet, elke dag in ‘n hel van kommer stort? Blykbaar het jy nie die vaagste benul wat liefde is nie!
            Wanneer jy na die geestelike soek, is dit onvanpas om hulpmiddels uit die materie vir die doel te gebruik. Dink jy die Heerser van alles, in gees en materie, het die besoedelde ingeperkte nodig om groei in die Gees te bewerk?
            Blake, jy is seker een van die getrouste diensknegte van Lucifer, die mees duistere ‘engel van die lig’.

            Koos Kombuis het volgens ‘n koerantberig gesê: “Die marijuana roker word gestimuleer tot wonderlike gedagtes, maar dit word nooit tot uitvoer gebring nie.”

No comments:

Post a Comment