Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Gesprekvoering



Gesprekvoering

Meer as 60 jaar gelede het ons debat-aande gehou in die saal van Rooidakskool op Boshof. Destyds was daar nog genoeg tyd om ‘n onderwerp kalm te beredeneer, en elkeen wat deelgeneem het, het ‘n spreekbeurt gehad. Aan die einde het die inleiers weer die geleentheid gekry om repliek te lewer. Ordelik, sinvol.
Wanneer en waarom het ons volk die vermoë van gesprekvoering verloor? Ons debatteer nie meer nie, ons stry nou! Stortvloede van woorde word heen en weer geslinger, selfs deur persone wat oor die radio en televisie optree, soos twee ketels wat hulle inhoud in mekaar probeer uitstort, tot dit alles op die grond verlore gaan! Hoe hoër die temperatuur, hoe groter die vermorsing van energie!
            Van ketels gepraat. Word ‘n ketel nie vol van dit wat by sy deksel ingegooi word nie? Word ‘n ketel nie leeg van dit wat by sy tuit uitgegooi word nie? Is die funksie van ‘n ketel se tuit en ‘n mens se mond nie vergelykbaar, wanneer dit gaan oor gesprekvoering nie? Is die deksel opening van ‘n ketel nie maar soos die ore van ‘n mens nie? Waarom hou sommige mense hulle ‘deksels’ so dig toe gedurende ‘n gesprek?
            Baie beslis is dit ‘n goeie manier om kennis te versamel deur jou ore, want daarvan word jy vol. Gelukkig is daar ‘n ‘stoorkamer’ tussen jou ore, en daar is baie ruimte, maar of daar genoeg deur die ore ingaan, is ‘n ope vraag. Die brein is soos ‘n rekenaar en kan dit wat gebêre is, weer oproep. Wat is die waardevolste, dit wat gebêre is of die swetterjoel afdrukke wat van die informasie gemaak is?
            Die mens se mond, of sal ek sê se tong, is ‘n tweesnydende swaard en kan met wysheid of met dwaasheid gebruik word. Wysheid val nie op ‘n bondel in ‘n mens se skoot nie; dit word met baie geduld oor jare versamel.
            Kom ons kyk nou weer na gesprekvoering. Die algemeenste in gebruik is die stryery. Elkeen probeer om met ‘n stortvloed van woorde die oorhand te kry, al beteken dit ook om die ander in die rede te val. Wat is die motief agter die vloed van woorde? Is dit hoogmoed? Raak die eintlike onderwerp van die stryery nie later toegewaai onder ‘n woordewolk nie? Het ons ‘n grondige verskil, of stry ons eerder om ons meerderwaardigheid te bewys? Waarom is dit nodig om dit te probeer bewys?
            Een van die stryers sê nou vir die ander: “Gee my nou ‘n kans; menende bly ‘n bietjie stil en luister na my standpunt.” Hy het teësinnig stilgebly, maar van die luister het niks gekom nie, want hy was so besig om sy ‘skietgoed’ agtermekaar te kry, dat hy niks gehoor het en gevolglik nie bemerk het dat hy die onderwerp van die beredenering mis nie!
            Is daar nie meer tyd genoeg om ‘n kalme redenasie te voer nie? Is ons so behep met ons eie idees, dat daar nie tyd is om die ander persoon se standpunt te oorweeg nie? Wanneer ‘n mens gedagtes uitryg uit jouself, soos wat vuil wasgoed uit ‘n wasgoedmandjie geryg word, sien mens dikwels ‘n rooi gesig as gevolg van dit wat tevoorskyn kom, net jammer die oë waarmee ons kyk, kan nie ons eie gesigte sien nie!

No comments:

Post a Comment