Onaangenaamheid Vanuit die Hemel
Lank
gelede, op 'n keer,
Het 'n
ongeluk vir my geleer,
Om 'n
gelaaide geweer,
Versigtig
te hanteer!
Sommige van die speletjies wat ons
as skoolkinders gespeel het was rof. Ek weet nie of dit avontuurlustigheid, of
onnoselheid was wat ons so laat optree het nie! Ons het oorlog gespeel. Klippe
van die regte grootte om mee te gooi, was redelik volop anderkant die
klipkoppies tussen die dorp en die swart woonbuurt. Aanvanklik was daar genoeg
swart jeugtiges wat by hulle leër aangesluit het om teen die wit skoolkinders
se leër te veg. As standerd ses leerling het ek net gekwalifiseer om by die wit
leër aan te sluit.
Jod S. het oor heelwat fisiese
vermoëns beskik, want op die rugbyveld kon hy 'n baldraer se bene enkelhoog
onder hom uithaal. Op die slagveld het daardie matriekseun se lang arms hom in
staat gestel om 'n klip tussen die vyandelike manskappe in te gooi, nog voordat
die voorhoedes mekaar kon tref! Vanselfsprekend was hy die bevelvoerder. Sy
ongelooflike vermoë het egter die pret bederf, want so baie van die swart
soldate het gedros dat dit as 'n ongelyke stryd beëindig is.
Toe het ons maar ons manskappe
verdeel en 'n ‘burgeroorlog’ tussen die drie klipkoppies begin, waar die ou
kruithuisie leeg gestaan het. Daardie terrein het verhoed dat Jod se leër
dadelik die oorhand kry. Die matriekleerlinge was onder bevel van Jod aan die
een kant en die standerd ses tot standerd nege leerlinge aan die ander kant.
Die beplanning is baie goed gedoen op 'n gesamentlike vergadering. Die talryke ‘rebelle’
sou die klipkoppies beset en dan sou die elite afdeling onder die groot
generaal, van die vlakte se kant af aanval om die rebelle uit die rante te
verdryf. Dit was 'n taai stryd! Die rebelle het die groot rotse goed benut en
dit was goeie beskutting. Die elite brigade het weinig beskutting op die vlakte
gehad, maar hulle ‘grofgeskut’ in die vorm van Jod se lang arms, het die
rebelle nie toegelaat om ‘ammunisie’ te versamel nie. Die klippe agter die rots
skuilings het opgeraak en was beskikbaar vir die generaal se manne nadat die
rebelle dit gegooi het! Sonder ammunisie kan geen soldaat sy stellings behou
nie! Onder 'n klippe reën moes ons ons stellings verlaat en het afgesak na die
gruisgat se kant toe. Geluk was aan my kant en in die man tot man geveg, kon ek
een van die elite brigade se manne ‘hensop’. Terwyl ek besig was met die
inhegtenisneming, gooi een van sy makkers 'n groterige klip oor die withaakboom
naby ons en die klip tref my kop. Vergete is die prisonier en terwyl ek agter
die een aan hardloop wat my die wond toegedien het, voel ek iets teen my nek
afloop. Die bloeding was redelik ernstig en die oorlog-speel is beëindig. Ons
het die ergste bloed by 'n suipkrip vir die beeste gaan afwas, maar ons het
geweet ons moes die koshuismoeder se hulp inroep om die wond te verbind. Die
storie ter verduideliking van wat gebeur het, wat ons vir haar moes vertel, sal
ek maar verswyg, want julle sal dit tog nie glo nie; ek vermoed sy het dit ook
nie geglo nie! Maar het op grond van ooggetuies se identiese verduidelikings,
nie verder op die saak ingegaan nie!
Die versoeking om 'n prettige nadraai te vertel, kan ek nie
weerstaan nie. So 'n week of wat na die ongeval is die verband verwyder. Toeka
se tyd was die bakterië nie sulke narige goed soos vandag nie en my kop het
blykbaar normaal vertoon. Ons klasonderwyser het 'n vraag gestel en toe ek en
die leerling wat 'n bank met my gedeel het, dit nie kon beantwoord nie, gryp
die onderwyser ons aan ons nekke en stamp ons koppe teen mekaar. Hy was 'n
groot man met 'n rooierige gesig en toe hy ons nekke los, stryk ek met my hand
oor my kop en toe hy die bloed aan my hand sien, kon ek sien hoe vloei die
bloed uit sy gesig, dat dit wasbleek word. Hoewel ek moet erken dat ek sy skrik
geniet het, het ek dadelik gesê: “Dit was maar net 'n ou wond se roof wat af
gekom het meneer.” 68 Jaar gelede het mense nog nie iemand anders gedagvaar vir
elke bakatel nie.
Ek het so in vervoering geraak oor
die lekker onthoustorie dat ek amper vergeet het wat aanleiding gegee het tot
die herinnering
DNO 2:165:9 Die woorde van die engel
Rafael: "So kan sekere ouers hul
kinders nie dikwels genoeg, en met voldoende resultaat waarsku oor bepaalde
speletjies wat dikwels baie gevaarlik kan word nie. Dan kom ons met ons hemelse
onaangenaamheid en maak dat sulke kinders hulle met hulle verbode speletjies
baie gevoelig verwond, dikwels laat ons dit selfs toe dat 'n kind die
ongehoorsaamheid met die dood bekoop, as afskrikwekkende voorbeeld vir die
ander. Die kinders word daardeur afgeskrik, kry eindelik groot angs vir die
gevaarlike verbode speletjies en doen dit nie meer nie".
Die geskrewe gedeelte het my laat
wonder: Gestel ek het ‘n ingewing gekry om die klipgooiers te waarsku dat die
speletjie gevaarlik is [voor die ongeluk]. Verseker sou die reaksie van die
ander wees: “As jy te lafhartig is om verder te speel, gaan sit dan eenkant” Na
die ongeluk het die bloed wat langs my nek afgeloop het, die bedrywighede
onmiddelik tot stilstand laat kom. Die spelery is nooit weer hervat nie,
verseker nie gedurende die volgende vyf jaar
waartydens ek nog daar skoolgegaan het niel. Woorde het baie minder trefkrag en invloed as
bloed!
Vanoggend, Aug. 2014, praat ‘n
predikant oor die radio, oor onaangename dinge wat met ‘goeie mense’ gebeur. Ek
plaas myself nie in daardie kategorie nie, maar dit was opvallend dat so baie
mense volgens die ds. vra: “Hoekom het dit met my gebeur? Het God my dan nie
lief nie?” Ek kan goed onthou dat ek na die klip wat my teen die kop getref
het, so bekommerd was oor wat ons vir die koshuismoeder sou moes vertel, dat ek
nie daaraan gedink het om te wonder waarom juis ek, tussen al die kinders moes
seerkry nie. Nou na meer as 67 jaar het ek klarigheid oor die saak! Indien ek
sou vra hoekom dit met my en nie met iemand anders kon gebeur nie, sou ek
uiters selfsugtig wees. Die gevaarlike spel wat gespeel was, was laat vaar na
my ongeluk en ek besef dat indien die gevaarlike bedrywigheid voortgesit sou
word, iemand moontlik baie ernstig beseer kon word. Nou kan ek vir my hemelse
Vader, uit die diepte van my hart dankie sê omdat Hy juis vir my so lief het,
om my op so ‘n manier te gebruik! Om onaangenaamheid vanuit die hemel te
ervaar, is nie omdat ons Vader jou nie lief het nie!
Die rympie as die aanhef verwys. My
wyse pa het my gewaarsku toe ek nog 'n skoolkind was: "Wanneer julle as 'n
groep gaan jag, loop met net een geweer". Met my pa se .22 geweer
is ek na ons bure toe en my maat se neef van Bloemfontein is toe daar met sy pa
se .22 geweer. Met die 2 gewere gaan ons toe meerkatte skiet. Die prys vir
ongehoorsaamheid: Ek skiet per ongeluk die een maat deur sy been! Sê dankie vir
beproewings as jy daaruit kan leer.
Hierdie twee lesse het ek ter harte
geneem. Ons het nie weer oorlog gespeel en mekaar met klippe gegooi nie en ek
het toe ook my wyse pa se raad gevolg en die res van my lewe vuurwapens baie
versigtig hanteer!
No comments:
Post a Comment