Toeval
‘n Vriend van my het gesê: “Net ‘n
gat in die grond kan toe val”. Ek stem saam. Die mense wat aan die ‘big bang’
teorie glo is die eienaardigste klomp! Dis hoofsaaklik geleerdes wat die teorie
aanhang. Ek verstaan nie hoe hulle koppe werk nie. Blykbaar glo hulle dat na
die gewaande oerknal daar biljoene toevallighede plaasgevind het wat sou lei
tot die vorming van die heelal soos ons dit ken, of beter soos ons dink ons ken
dit.
Toevallige beweging is in enige
rigting. Dis onwaarskynlik dat dit twee keer in dieselfde rigting sal beweeg en
totaal onmoontlik dat dit tien keer in dieselfde rigting sal beweeg! Wanneer
dit sou gebeur, is dit rigting gedrewe en toeval is nie meer van
toepassing nie. Indien iets in ‘n rigting gedrewe is, is daar ‘n mag wat
dit dryf. Toeval is werklik net ‘n woord wat enkelvoudig bestaansreg het.
Waaruit bestaan materie? Eerstens
elemente. Tweedens samestellings. Derdens mengsels. Daar is sover ek weet 118
bekende elemente, maar as ek na die wetenskaplikes se simbole van samestellings
kyk, moet daar miljoene samestellings wees. Mengsels kan miljoene maal miljoene
wees. Om toeval die eer te gee vir al die wondere wat ons omring, is snert!
Die mense wat die oerknal teorie
aanvaar, verwerp die bestaan van ‘n intelligente Skepper. Hulle is miljoene,
want die snert word aan duisende universiteite as waarheid gedoseer. Daardie
teorie laat net ruimte vir ‘n materie heelal. Wat vir my die eienaardigste van
die oerknal aanhangers is, is dat miljoene van hulle kerk toe gaan! Gaan soek
hulle iets waarvan hulle die bestaan ontken? Dit is tog onsinnig! Die gewone
kerklidmate glo tog aan die geestelike en aan ‘n Skepper. Wat is die motief
agter die oerknal aanhangers se kerk bywoning? Kan ‘n professor wat studente
onderrig, na iets soek wat hy glo, nie bestaan nie?! Is dit bloot
skynheiligheid om hom aanvaarbaar vir die gemeenskap te maak, of is daar ’n
verskuilde motief?
‘n Afgetrede professor van ‘n Suid
Afrikaanse universiteit, het gedurende ‘n radio program gesê hy het nou niks te
vrees nie en kan openlik sê dat die oerknal teorie ‘n klomp bog is. Hy het toe
vertel van ‘n professor aan ‘n Duitse universiteit wat die oerknal teorie
bevraagteken het. Hy is dadelik ontslaan en kon geen aanstelling by enige ander
universiteit kry nie. Dit is baie agterdogwekkend en dui duidelik aan dat daar
‘n groot slang in die gras is. Die professor wat oor die radio gepraat het, het
gesê die berig wat op 4 Julie 2012 wêreldnuus was oor die ontdekte ‘particle’,
is ‘n desperate poging om uit die penarie te kom waarin hulle sinnelose teorie
hulle laat beland het. Volpunte vriend, jy is my held, omdat jy die bose klomp
aan die kaak gestel en ontmasker het.
Op 4 Julie 2012 het ek die volgende
inskrywing in my deurmekaar boek gemaak: “Die proefneming is glo gedoen met die
reuse versneller in Switserland. ‘n Groot bohaai is gemaak oor ‘n ontwykende ‘God
particle’ wat nou kwansuis volume of gewig aan materie sou verleen, asof
materie op enige tydstip in sy voltooide stadium, daarsonder sou wees! Probeer
die wetenskaplikes ‘n skuiwergat soek uit hulle onsinnige teorie, deur ‘n klein
bietjie ‘goddelikheid’ toe te laat? Sy rol moet so klein as moontlik voorgestel
word! Hierdie klomp dwase wetenskaplikes kan met hulle duur soektogte voortgaan
tot in ewigheid, maar hulle sal nie by die waarheid uitkom nie, solank hulle
navorsing gedoen word met voltooide materie! Hulle wil nie die onvoltooide
materie navors nie, want dan erken hulle die rol van die Skepper.
‘n Sterrekundige het beweer dat
hulle nog net 4% van die heelal ontdek het, hoewel beweer word dat hulle tot by
die oorsprong [van materie] deurgedring het. Hy kan dalk tot sy ontnugtering
ontdek dat 96% nie materie is nie, maar ‘n ander vorm van bestaan.
Wat gaan in hulle koppe aan as hulle
die allesomvattende Skepper probeer vergelyk met “particles that sprang into
existence for just a fraction of a second before disintegrating”! Kon geleerdes
werklik materie voorstel sonder volume en gewig?
Einstein het gesê energie kan nie
vernietig word nie, dit kan net verander word. Indien dit nie vernietig kan
word nie, kan dit ook nie geskep word nie. Dit is dus van altyd af en sal vir
ewig wees.
Die stelling wat ek nou wil maak,
sal ten sterkste deur die sekulêre ‘big bangers’ betwis word, maar ek is
oortuig van die korrektheid daarvan. Die Oersubstansie is onder die algehele
beheer van Elohim, of Elohim Self. Op hierdie tydstip kan ek nie weet nie.
Waarvan ek wel oortuig is, is dat EK IS van ewigheid tot ewigheid is, soos
Elohim vir Moses gesê het om Hom aan Sy volk voor te stel. Daar bestaan niks
wat nie uit of van Elohim is nie, materie gees of kennis.
Die Oersubstansie is Gees, maar na
Lucifer se rebellie het die skepping van materie, volgens die beplande orde van
Elohim noodsaaklik geword. Lucifer is uit die Oersubstansie geneem en sy
redding, die materie wat as rehabilitasie-sentrum vir alle gevallenes moet
dien, is uit die Oersubstansie geneem, maar moes gebind word om Lucifer self,
sowel as die geestelike heelal en die beplande materie heelal teen onbeperkte
verkeerde optrede te beskerm.
Die Oersubstansie moes deel van
Homself aan die verskriklike binding of inperking blootstel, om die gevalle
geestelike te red. Dit is liefde wat geen mens kan begryp nie! Ek huiwer om die
vergelyking, wat in my gedagte opgekom het, neer te skryf.
Gen. 1:3 is vir my ‘n bietjie
verwarrend, want volgens die bewoording lyk dit of die Lig deel van die
skeppingsproses was, wat nie moontlik was nie, omdat dit die ewigheidsbegrip
sou weerspreek. Die Lig van Gen. 1:3 is die ewigdurende Oersubstansie [Primêre
Energie] terwyl die lig van Gen. 1:14 geskape materie [sekondêre energie] is.
Wat het gebeur toe materie geskep
is? Primêre Energie, die vrye geestelike Oersubstansie is ingeperk met tyd en
afstand. Wanneer tyd en afstand energie inperk, ontstaan ‘n golfbeweging wat
vibrasie tot gevolg het. Die vibrasie beset ruimte en stol of verdik tot
materie. Die voortdurende vibrasie skep aantrekkingskrag, wat gewig tot gevolg
het, maar vorm ook ‘n ‘versperring’ wat verhoed dat die molekules, wat relatief
yl voorkom, nie toelaat dat bv. twee vaste stowwe onder druk in mekaar in
beweeg nie. [Vloeistowwe en gasse reageer verskillend]. Alle materie vibreer.
Die frekwensies van vibrasie bepaal die eienskappe van die element. Die
harmonie of disharmonie tussen die frekwensies van die elemente in samestellings,
bepaal die eienskappe van samestellings.
Materie is gewoonlik sintuiglik
waarneembaar deur een tot selfs vyf sintuie. Die sintuig ‘lees’ die vibrasie en
soms ook die frekwensie oor ‘n sekere beperkte spektrum. Dit is egter ‘n baie
wye studieveld wat boekdele sal vul. Wetenskaplikes moet eers materie in
wording verstaan, dan sal hulle baie gou by die waarheid uitkom, maar hoe
gaan hulle die navorsing doen as hulle weier om die bestaan van ‘n Skepper te
aanvaar?
Die Geestelike is vry en kan deur
enige materie beweeg asof dit nie bestaan nie, teen oombliklike snelheid.
Indien jy water teen 0°C wil laat
kook, is dit net so moeilik om ‘n totale lugleegte te bewerk, as wat dit is om vaste
materie teen die snelheid van wit lig aan te dryf. Laat die geleerde wetenskaplikes
maar hulle tyd en geld daarmee mors!
Materie kan opgelos word, slegs deur
Elohim, wanneer die inperking van tyd en afstand verwyder word. Tyd en afstand
is nie substansie nie en laat geen reste indien dit verwyder word nie, omdat
dit net ‘n ‘toestand’ is. Die vibrasie verval en die swaatekrag wat deur die
vibrasie veroorsaak is, verval. Die Primêre Energie beweeg oombliklik na die
Bron as Oersubstansie. Wat die mens en sy sintuie betref, het die materie
verdwyn. Primêre Energie is volmaak suiwer, terwyl materie besoedel is. Dit is
die ‘toestand’ waarin Primêre Energie, wanneer ingeperk verkeer, wat besoedel
is. Slegs Elohim kan daardie besoedeling verwyder.
Wat is materie? Sal ons geleerde
vriende vir ons ‘n definisie kan gee? Indien ons ‘n definisie probeer formuleer
sonder om die oorsprong van materie in ag te neem, beland ons in dieselfde
doodloopstraat as die sekulêre wetenskaplikes.
Vibrasie is die kenmerk van materie.
Indien vibrasie teenwoordig is, is dit materie, want dan is dit
ingeperk. Sonlig wat teen 300,000 kilometer per sekonde beweeg, is beperk tot
daardie snelheid – dus ingeperk en beslis vibrerend – dus materie in die vorm
van sekondêre energie.
Een kenmerk van materie is die ‘uitbewegende’
of ontploffende neiging, waar moontlik. Soos ‘n gevangene wat voortdurend uit
die gevangenis probeer ontsnap, so neig die ingeperkte materie, veral in die
vorm van sekondêre energie, om die ingeperktheid te ontsnap. Ons sal later
hieroor uitbrei.
Die wetenskaplikes wat die ‘wonder
particle’ ontdek het, gaan wedywer om die Nobel-prys vir wetenskap. Insiggewend
dat Nobel se groot uitvinding juis die duidelikste demonstrasie van die
ontsnappings-neiging van materie is.
In teenstelling tot materie se ‘ontsnappings-manie’
is die Oersubstansie ‘soortsoekend’ en keer altyd terug na die Bron. Die Gees
se aksie is presies die tenoorgestelde van die van materie! Soos lig die
teenoorgestelde van duisternis is. Die sterrekundiges noem die middelpunte van
die galaxies swart gate. Omdat hulle vanuit die materie, met materie oë na die ‘Swart
Gate’ kyk, lyk dit vir hulle swart, want die Gees en materie is die
teenoorgesteldes. In werklikheid is die ‘Swart Gate’ die ‘bevryder’ uit die
inperking, van die volmaak reine Oersubstansie, die boustof van alles wat bestaan.
‘n Persoon het beweer dat die ‘big
bang‘ teorie wel versoenbaar is met die die begrip van ‘n Godheid, maar ek het
later vermoed dat hy eintlik godheid bedoel. Wanneer die ontstaan van alle
materie, soos ons dit ken, aan toeval toegeskryf word, word die bestaan van ‘n
Skepper ontken. ‘n Mens het nie ‘n hoë IK nodig om dit te verstaan nie! Die
persoon wat die versoenbaarheid van ‘big bang‘ en die godheid bepleit het, is
finansieël baie suksesvol en lyk alles behalwe onnosel. Moontlik is hy lid van
‘n organisasie wat wel die Skepper misken, maar vir Lucifer aanbid. Dan
verklaar dit alles! Lucifer se goddelikheid het niks met die skeppingsproses te
doen nie, dus kan die ontkenning van die skeppingsdaad hom en sy aanbidders nie
raak nie. Hulle kan baie ‘godsdienstig’ wees en die ware Skepper misken. Dit
verklaar waarskynlik ook die persoon se materiële sukses.
Sterrekundiges het kort gelede eers
bewus geword van die ‘Swart Gate’ in die middel van die sterrestelsels en was
verbaas toe hulle ‘n sterrestelsel ontdek het, wat nie ‘n kern van die geheime
swart gat het nie.
Wanneer materie ‘n ‘Swart Gat’
nader, los die materie op. Die toestand van ingeperktheid deur tyd en afstand
word ontdoen en slegs die Oersubstansie bly oor en verenig met die
Oersubstansie van die Bron. Dit maak geen verskil in watter vorm die materie is
wat die Bron bereik nie, die oplossing is dieselfde. Dit kan titanium, goud,
diere, mense, plante, water, gasse, sonstrale of enige vorm van sekondêre
energie wees. Alles bestaan uit Primêre Energie in gevange toestand deur tyd en
afstand. Wanneer die vrymaking geskied, bly slegs die Oersubstansie oor en Dit
is volmaak rein. Hierdie oplossing gaan oor materie en nie oor die siel van die
menslike wese nie.
Sekere wetenskaplikes glo dat swart
gate bestaan uit gekompakteerde ‘balle’ van materie. Vaste stowwe veral, maar
ook vloeistowwe kan nie werklik gekompakteer word nie. Wat dink die
wetenskaplikes kompakteer die materie in hulle swart gate. Swaartekrag?
Siestog!
Swart Gate kan nie gesien word nie,
maar kan wel waargeneem word. Die lig van die sonne aan die ander kant van die
SG word, omdat dit materie is, deur die SG opgelos. Alleenlik die sonne aan die
duskant van die SG is sigbaar, omdat slegs die lig wat van hulle af in die
rigting van die SG skyn opgelos word.
Die menslike oog kan slegs lig sien
wat regstreeks na die oog toe skyn. Wegbewegende of verbygaande lig kan nie
gesien word nie. Nou sê iemand: “Maar wat van die lig wat as ‘n straal verby
jou deur rook trek, want dit word gesien!” Nee jy sien nie die lig self nie,
maar slegs dit wat deur die rook weerkaats word, soos wat die maan se lig ‘n
weerkaatsing van die son se lig is.
No comments:
Post a Comment