Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Wat 'n dag!



Wat 'n dag!

            Ons stap by 'n slaghuis in en soos gewoonlik is die vertrek skoon en baie netjies. Dit wat ons dogter telefonies bestel het is reeds verpak en ons kan net die verskuldigde bedrag by 'n kassier gaan vereffen. My wederhalf bied haar goue debiet bankkaart aan, maar die masjien wys die kaart af. My vrou sê: "Maar daar is geld in die rekening." Dis tog interessant hoe 'n gesigsuitdrukking gedagtes weerspieël. Sonder een uitgesproke woord sê haar gesig: "Daardie storie hoor ek dikwels." Die res sal ek nie hier skryf nie, want my bloeddruk het begin styg, toe ek die verleentheid van my vrou sien. Haar kaart word in 'n ander masjien gedruk en weer afgewys. Weer sê my vrou daar is genoegsaam fondse. Toe die derde masjien haar kaart nie wou aanvaar nie, kry die vrou wat by die volgende kassier 'n soortgelyke ondervinding het, haar so jammer dat sy simpatiek aan haar arm raak en sê: "Tannie ons het dit ook oorgekom en sal nou maar geld by 'n kitsbank gaan trek." Ons het egter 'n groter probleem as die simpatieke dame, want ons trek nooit geld by 'n kitsbank nie, omdat daardie naam reeds aandui hoe min geduld daardie kitsbanke met die stadige reaksies van ou mense het.
            Op daardie tydstip was my bloeddruk reeds so hoog dat 'n aar kon bars. Ek bied toe my kredietkaart aan, want ek weet dat daar ook nie 'n moontlikheid bestaan dat die bank betaling sal weier nie. Toe die masjien ook my kaart weier en die uitdrukking op die eerste kassier se gesig sê: "Julle is altwee ou kansvatters!" Toe ontplof ek! Dis toe nie my gesigsuitdrukking wat gepraat het nie, maar my mond. Wat ek gesê het sal ek liewer nie herhaal nie! My vrou het gesê ek was ongeskik en ek het myself probeer verontskuldig deur te sê ek was ongeduldig. Daar het toe 'n kassier gekom wat iets gesê het van ‘lyne’ wat foutief is en nadat sy met iets bedrywig was het die masjien my kaart aanvaar. Ons het die slaghuis verlaat met die vleis.
Op die parkeerterrein is nie genoegsaam ruimte om te voorsien in die behoeftes van al die winkels nie, gevolglik is daar 'n gedrang van voertuie en voetgangers. Nadat 'n voertuig waarvoor ek gestop het uit die pad was, het ek my voet van die rempedaal verwyder, sonder dat ek gemerk het dat 'n voetganger van die ander kant af voor my motor ingeloop het. Motors met outomatiese ratkaste begin mos vorentoe beweeg wanneer die rem nie in werking is nie. Die voetganger het seker gedink ek trek weg en het hom asvaal geskrik. So betyds het ek hom gesien, dat ek die beweging kon stop voordat my motor hom geraak het, maar dit was naby! Ek wys toe vir hom ek is jammer, maar dit wil voorkom asof nie een van ons twee Robert Mugabe se sestiende ampstaal magtig is nie. My verskoning in gebare taal het hom blykbaar meer kwaad gemaak; gelukkig kon ek ook nie sy antwoord verstaan nie!
            Waar ek by die volgende kruising, waar ek regs moes draai, in die heel regterkantste baan moes wees, beland ek op die tweede laaste baan en toe ek by die kruising kom, waar die geel pyl aandui ek moet reguit aangaan, word ek vertraag toe ek wederregtelik regs draai. Die toeterblasende motoris agter my was ook kwaad vir my! Was hy ongeskik of net ongeduldig?
            Een dag later. Laasnag kon ek nie slaap nie. Die gebeure die vorige dag het by my gespook. Wie was reg; my vrou wat gesê het ek was ongeskik of ek wat gesê het ek was ongeduldig? Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dat ongeag die verskil van die woorde die resultaat dieselfde is.
            Wanneer wit lig deur 'n prisma beweeg, verdeel dit in sewe kleure. Indien die sewe kleure deur die prisma terug beweeg, sal dit wit lig tot gevolg hê, maar wat sou gebeur indien een van die kleure verwyder word? Sou dit na die terugvloei weer die volmaakte wit lig tot gevolg hê? Alles behalwe!
            Omdat ek probeer om altyd my lewe op 'n hoë geestelike pyl te hou, deur die sewe eienskappe van die geestelike na te streef, verbaas dit my dat ek so maklik pens en pootjies in die materie-gewoontes verval! Ek het myself probeer verontskuldig deur te beweer dat ek net een van die sewe eienskappe gemis het, maar dit het soos met die kleure na die prisma presies dieselfde tot gevolg.
            Liefde, Wysheid, Wil, Orde, Erns, Geduld, Barmhartigheid vorm 'n volmaakte eenheid wat aan een skakel. Wanneer een skakel ontbreek is die volmaaktheid verbreek. Indien ek myself probeer verontskuldig deur te beweer ek was net ongeduldig, maak ek 'n baie groot fout. Die Orde van Elohim is voortdurend. Ongeduld is in stryd met die Orde. My ongeduld het my wil om met erns die Orde te respekteer, gekanselleer. Ongeduld is ook 'n duidelike bewys dat Wysheid ontbreek. Hoe kon ek met ongeduld Barmhartigheid bewys? Dit wat ek gesê het, was alles behalwe liefdevol! Baie duidelik het ek dus al sewe eienskappe nie geopenbaar nie, terwyl ek myself probeer wysmaak het dat ek slegs aangaande een skuldig was!
            My vrou was dus reg toe sy gesê het ek was, maar in werklikheid is ek ongeskik en ek sal nog heelwat aan my gesindheid moet skaaf.
            Wat 'n dag, wat gaan lei na 'n wonderlike dag!

No comments:

Post a Comment