Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Materie se drie stappe



Materie se drie stappe

            Die ontwikkeling van materie kan nie beskryf word in terme van belangrikheid nie, want die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Op pad na die Vrye Wil, is elemente en samestellings heel onder op die lys, maar tog die heel oudste, om ‘n baie praktiese rede, want dit was die wonderbare volmaak beplande begin van die materie skepping, as voorbereiding vir die ontwikkeling van die volgende stap. Primêre Energie, die oorsprong van materie, deurpriem die geskape materie verby molekules vir ewig. Water, seker die belangrikste samestelling van die skepping, omdat dit lewegewend is, reageer eienaardig, omdat die eienskappe teenstrydig is met menslike logika! Water in ‘n vertikale pyp beweeg as gevolg van swaartekrag afwaarts. Indien die deursnit van die pyp verminder word, sal die vloei van die water uiteindelik tot stilstand kom; ons sê dis as gevolg van wrywings weerstand, maar indien die deursnit van die pyp nog verder verminder word, beweeg die water opwaarts, wat ons kapillêre aksie noem, maar waar is die wrywings weerstand nou? Die volmaakte beplanning van die Skepper het tot gevolg dat alle plante, hoe hoog ookal van water en voedsel voorsien word. Met die afkoeling van water vermeerder die digtheid, maar by ± 7°C begin die digtheid weer afneem! Waarom? Omdat as die digtheid sou aanhou toeneem, sou die oseane van onder af solied word en geen lewe sou daar moontlik wees nie! Ook die oppervlak-water sou so afkoel dat daar baie min verdamping kon plaasvind; die gevolg byna geen reën nie! By seevlak kook water teen ongeveer 100 °C, maar gestel water het onder daardie druk teen 50°C gekook? Hoe gaan die land lyk as daar 500 meter reën per jaar val? Daar is nog heelwat einaardighede, maar ons kan volstaan met die genoemde en die vraag vra: Was dit toeval dat water die ‘eienaardige’ eienskappe het? Of het water deur sy eie intelligensie, homself so ontwikkel? Nee, dan sou mense water moes aanbid! Elemente het sekere eienskappe wat nie kan verander nie en as wetenskaplikes dink hulle kan daaraan verander, maak hulle ‘n baie gevaarlike fout! Slegs die Hoogste Intelligensie kan ‘n verandering aan daardie eienskappe maak, want slegs Hy het die verlangde vermoë tot enige verandering. Wetenskap is Weet en Verstaan  X. Y. Z. Jy weet dalk iets daarvan, maar verstaan jy dit? Ons het nou oppervlakkig gekyk na die onveranderbare van die materie skepping. Die samestellings kan wel geskei en ander samestellings kan berei word, met ander eienskappe, maar die elemente kan net van vorm verander word. (Solied, vloeistof en gas)
            Die tweede vlak is die skepping van die lewende. Hierdie stap volg op die redelik onveranderlike eerste, met volmaakte aanpassing tussen die twee. Hoewel aangepas, verskil die twee vlakke wesenlik. In die eerste vlak is dit waarskynlik geskep en so gelaat, maar in die tweede vlak sien ons baie meer bemoeienis. Daar is ‘n groot verskil tussen die vasstaande en die bewegende. Die vaste wat sy voedsel uit die eerste vlak geneem het, word die voedsel en huisvesting van ‘n groot gedeelte van die bewegende in die tweede vlak. Nou dien hulle weer as voedsel vir ander bewegendes. [Die niebewegendes kan amper beskou word as die grys gebied tussen die eerste vlak en die tweede vlak, maar dit sou ‘n baie groot ‘belediging’ wees, want lewe is lewe!] Hulle maak tot ‘n groot mate van dieselfde beginsels  gebruik vir oorlewing.    
Ten opsigte van die bewegendes praat ons van instinktiewe optrede, maar daar is duidelik intelligensie teenwoordig, selfs ‘n mate van eiewilligheid, maar instink is die basiese en sal altyd die aangeleerde oorheers. Evolusie vind tog plaas en kan wel aan intelligensie toegeskryf word, maar waarskynlik is omgewings toestande die hoof stimulant. Die bewegendes het die onbewegendes as voedsel gehad, blare sowel as vrugte, maar aangesien sommige vleisvretend was, het hulle van mekaar geleef.

            Die derde vlak is die groot probleem, want die derde vlak, die mens, het ‘n vrye wil om te gebruik volgens eie keuse. Gen. 1:28. “En Elohim het hulle geseën, en Elohim het gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die Aarde, onderwerp haar en heers oor die visse van die see en die voëls van die Hemele en oor alle lewende wesens wat op die Aarde beweeg.” Die tydsverloop tussen die skepping van die diere en die van die mens was miljoene jare, en ons weet uit die ontdekking van fossiele dat van die oerdiere so groot was, dat die nuutgeskape mense beslis nie in staat sou wees on oor hulle te heers nie, daarom is hulle vernietig. In die tuin van Eden het Adam en Eva geen probleem gehad om oor die bewegendes te heers nie; dit wil voorkom as sou hulle geen bedreiging vir die mens wees nie! Lucifer en sy volgelinge was die eerste om hulle vrye wil te misbruik. Die tweede misbruik van vrye wil is gedoen deur Adam en Eva.   
           
           
           

No comments:

Post a Comment