Voortdurende aanvulling
Niks in die materie kan voortbestaan
indien daar nie aanvulling van energie is nie.
Hierdie energie – in watter vorm ookal
– kom van 'n sentrale Bron, wat deur Wysheid beheer word. Hierdie Wysheid is
die Skepper.
Genesis 1:3 "En Elohim het gesê: Laat daar Lig wees! En daar was Lig."
Eintlik moes Moses geskryf het: "EK IS LIG!" [Of is die
ewigheidsbegrip te veel vir mense?] Uit daardie geestelike Lig is alles wat
bestaan. Daaruit word alles onderhou wat bestaan. Daaruit is alle materie
geskep; of beter, die energie is omvorm of gestol tot materie.
Die Primêre Energie is volmaak soos
die Wysheid en bestaan uit Lig, Lewe en Liefde. Dit is net inperkbaar deur en
reageer slegs volgens die wil van die Skepper. Dit beweeg deur alles tot waar
dit volgens die Wil benodig word. In die sonne word dit in sekondêre energie [materie]
omgeskakel en dit voorsien energie aan die materiële skepping, waar die energie
beperk word tot die snelheid van lig. Is die snelheid van lig die ‘muur’ wat materie
‘omring’? Nee, daar is ‘n ander ‘muur’, maar dit sal later behandel word.
Alle voortbestaan van die natuur is
afhanklik van voortdurende aanvulling. Alle kennis is afhanklik van
voortdurende aanvulling. Alle sekondêre energie is afhanklik van voortdurende
aanvulling. Dis alles hernubaar deur die sentrale Wysheid.
Die "boom van kennis"? Dit
was nie, soos algemeen aanvaar om die verskil tussen goed en kwaad te ken nie.
Dit was 'n boom van goeie kennis en slegte kennis. Baie van die aanvullende
kennis het 'n verkeerde oorsprong! Hou in gedagte dat die skepping van materie
plaasgevind het na die rebellie van Lucifer en sy volgelinge in die geestelike
opset. Daar is nou twee magte aan die werk.
Materie is geskep om die gevalle
siele 'n geleentheid te gee, om terug te keer vanaf die verkeerde tot die
regte. Lucifer probeer dit verhoed deur verkeerde kennis by die mense in te
voer. Mense is van nature geneig om die raad van Lucifer te aanvaar, omdat dit
sinlik genotvol is.
Die mense se siele is hoofsaaklik
van die gevalle wesens, wat 'n begeerte tot verbetering gevoel het, as gevolg
van die ellendige toestand waarin hulle was. Die vergunning is gegee, die
geheues uitgewis en 'n nuwe bestaan in die materie lê voor. Waarheen siel?
Waarheen gaan jy nou? Jy het tog 'n vrye wil! Is jy gelukkig om ouers te hê,
wat hulle vrye wil gaan aanwend om jou met wysheid te beïnvloed? Groei jy op in
'n tydperk van goeie beginsels en stabiele samelewing? Of in die worstelstryd
teen die bygeloof van die middeleeue? Of in die ontwikkelde maar geestelik
verrotte 21ste eeu? Wat ookal jou omstandighede – jy het ‘n vrye wil – jy kan
besluit waarna jy soek. Soek jy die aanvulling van die Skepper of soek jy die
aanvulling van Lucifer?
Die Skepper het 'n deeltjie van Hom
in jou geplaas [van sy Gees] met die doel om jou te ontwikkel, sodat jy, siel,
'n deeltjie van Hom kan word. Het jy al kennis gemaak met Hom in jou, of is jy
te besig met die materie waarin jy jou bevind? Jy het 'n vrye wil, jy kan
luister na wie jy wil. Maak jy Sy Gees jou vriend en raadgewer, is dit 'n ewige
vriendskap. Maak jy die materie jou vriend en Lucifer jou raadgewer, is dit 'n
tydelike vriendskap wat eons kan duur tot jy weer 'n geleentheid met 'n vrye
wil kry.
Douw vd Merwe het gesê: "Die
Skepper gee kennis aan mense op die regte tyd." Die opmerking is in pas
met die begrip van voortdurende aanvulling.
Baie professore ontvang van die
kennis uit die onuitputlike Bron, maar dan gebeur dit so dikwels dat so 'n
leerkrag uit sy eie 'n ‘wet’ daar stel wat die hele gang van ontwikkeling
blokkeer. Daardie blokkering, uit eiewilligheid gebore, word dan in die
leerplan opgeneem asof dit 'n groot waarheid verteenwoordig. Tragies dat kaf en
korrels nie betyds geskei word nie!
Een van die grootste blokkerings is die
feit dat die voortdurende aanvulling nie eers oorweeg word nie, terwyl dit die
sleutel tot die voortbestaan van die heelal is.
Wiskunde en wetenskap bestaan nie
net in die materie nie, maar ook in die geestelike, waar dit net oneindig meer
gevorderd is. In die materie bestaan niks wat nie van die geestelike Bron is
nie.
Baie van dit wat geskryf is, is geskryf
gedurende ‘n paar jaar, en die aanvulling het nie rusperiodes nie, en my
verstaan is beslis ook nie altyd bo verdenking nie!
No comments:
Post a Comment