Vrye Wil.
Hoe belangrik ag die
gemiddelde mens die twee kort woordjies? Dink ons ooit daaraan dat as dit nie
bestaan het nie, ons as mense ook nie sou bestaan het nie? Daardie gawe is die
grootste geskenk wat die mens ooit ontvang het, want sonder dit sou ons op
presies dieselfde vlak as diere gewees het! Alles wat ons doen sou instinktief
wees. Daar is mense wat reken dat Elohim
tog Sy almag behoort te gebruik om te verhoed dat mense hulle vrye wil misbruik,
maar kyk wat sê
Jahshua in H tot H 82:14. “Dit sou
inderdaad ‘n baie maklike manier gewees het. Maar as Ek dit sou doen, dan sal
die konings, sowel as die volkere immers ophou om vry mense te wees. Hulle sou
daarom gerig word om soos edele menslik lykende diere te word, by wie daar geen
sprake meer sal wees van ‘n vrye geestelike ontwikkeling nie. Solank ons mense
soos mense wil behou, mag ons absoluut nie die magsmiddele wat ons ten dienste
staan, gebruik nie. Want ons weet dat dit op dieselfde oomblik met die mensdom
gedaan sal wees. Die mense sou tot diere en tot afgerigte slawe van ons ewige
onoorwinlike mag word!”
Vrye wil is gekoppel
aan intelligente denke, daarom kan ons nie b.v. koppigheid van ‘n huisdier met
vrye wil verwar nie. ‘n Pasgebore kind handel ook instinktief, maar soos die
denke ontwikkel, ontwikkel die vrye wil met ‘n versnellende tempo. Die kind
groei nou op as lid van ‘n gesin, waar elke lid ‘n vrye wil het, wat aansienlik
kan verskil omdat denkrigtings en geaardheid verskil. Dissipline en wysheid het
nou ‘n baie groot invloed, wat betref die harmonie in die gesin.
Konserwatiewe ouers
sal waarskynlik poog om hulle kinders volgens die riglyne van die Bybel en die
volkstradisies op te voed, maar dit sal met baie wysheid en die minimum dwang
gedoen moet word, want die kinders moet nie die dissipline in die ouerhuis as
tronkmure beskou nie! Die kinders word skooltoe gestuur en daar bestaan die
moontlikheid dat hulle blootgestel kan word aan begrippe wat nie in hulle
ouerhuis aanvaarbaar is nie.
Die vraag kan gevra
word: Is die vrye wil ‘n seën of ‘n vloek? Die antwoord is op watter wyse sy vrye wil,
sy eie vrye wil, toelaat om op te tree. Wanneer ‘n baie jong kind nie sy sin
kry nie, kan hy in ‘n drifbui op die grond val, omdat dit vir hom voel of hy in
‘n tronk is, al het hy nog nooit ‘n tronk gesien nie! Die dissipline laat hom
voel dat sy vrye wil aangetas word en sy optrede beteken dat hy misbruik
probeer maak van sy vrye wil. Dieselfde kind kan later in sy lewe sy eie vrye
wil aanpas by die van sy ouers omdat hy die wysheid daarvan kan insien.
Ongelukkig is daar
ouers wat die uitlewing van die vrye wil van hulle kinders so belangrik ag, dat
hulle nie die gevolge van die ‘vryheid’ in ag neem nie! Dikwels is dit ook ‘n geval
dat hulle kinders ‘n hindernis is wanneer die ouers met hulle eie vermaak besig
is. Hulle leef volgens hulle eie vrye wil en gebruik hulle kinders se vrye wil
as verskoning om van die ‘lasposte’ ontslae te raak! Kinders, sommiges selfs so
jonk as 12 jaar, word by ‘n popfees afgelaai [met kombers en al] en die
volgende dag eers weer opgelaai. Weet daardie ouers wat daar aangaan, of gee
hulle nie om nie, want hulle wil nie inbreuk op hulle kinders se vrye wil maak
nie! Wat by sulke popfeeste gebeur, is net eenvoudig te vulgêr om
neer te skryf!
Die verandering van
‘n mens se vrye wil is in werklikheid baie noodsaaklik, want indien die mens
baie ‘standvastig’ aan sy vrye wil vasklou, sal hy as volwassene steeds oor die
mentaliteit van ‘n kind beskik. ‘n Stabiele vrye wil kan in een van twee
rigtings verander. Groei in die rigting van wyse ouers se voorbeeld, of
verandering om aan sekere leerstellings gedienstig te wees.
Weet die ‘traak-my-nie-agtige’
ouers wie Beatrice en Sidney Webb, asook George Bernard Shaw was en watter sluwe
geleidelike rol hulle gespeel het, om die jeug tot dekadensie te lei? Hulle
bose doelstellings het baie jare gelede ‘n aanvang geneem, maar tot vandag het
dit ‘n toenemende bose invloed op die vrye wil van die jeug, want die promiskuïteit
is fisies so genotvol dat dit deel van die vrye wil word en dus gewoontevormend
is! Wanneer die gevolge van hulle optrede, soos b.v. swangerskap en of
veneriese siektes hulle tot die werklikheid skok, sal hulle besef dat hulle
gewaande vryheid hulle tot in ‘n ‘tronk’ gelei het! Die vrye wil het moontlik verdwyn
vir altyd.
En die ouers? Ons
moet dit in gedagte hou dat Fabianisme vir baie jare reeds bestaan en dat die
bose stelsel juis so stadig toegepas word, dat die meeste mense dit gladnie
bemerk nie, en tog gewoond word daaraan! Dit is soos ‘n siekte waar die wat
daarmee besmet is, glo hulle is gesond omdat hulle aan die siekte ly! Die
kinders wat in die vorige twee paragrawe bespreek word, kom gewoonlik uit huise
wat met Fabianisme besmet is, maar nie almal en ook nie altyd nie.
Die ondersteuners, of
sal ek eerder sê die wat met Fabianisme besmet is, het gedurende die
laaste eeu of twee geweldig vermeerder, maar daar het ook ander aansteeklike
siektes by gekom; jy weet soos tering ook die Vigs-lyer aantreklik vind!
Die epidemie het na
die smaak van sommige siekes te stadig versprei en toe tree daar ‘n Amerikaner
met die naam John Dewey op die voorgrond. Hy het baie invloed gehad in die
onderwys kringe en sy filosofie, wat hy ook in sy onderrig beklemtoon het, was
dat die Skepper nie bestaan nie. Hy het die Marxistiese dogma beklemtoon, dat
die mens geen siel of vrye wil het nie! Moraliteit het hy verwerp en die primêre
doel van opvoeding was vir hom die vernietiging van die kind se
individualistiese karakter eienskappe. Kyk waar trek ons nou al! By Rusland 1917! En hoe is dit gesteld in die
V.S.A? Die volgende aanhaling is geneem uit Attempted Rape of South Africa,
geskryf deur Francis Grim: “At the close
of Dewey’s career in 1950 he became honorary chairman of the league for
Industrial Democracy which is the American counterpart of the British Fabian
Society”! Die wat nognie die gevaar van die ‘siekte’ raaksien nie, is self
siek of onnosel, want hulle kan nie die naderende verlies van hulle vrye wil
raaksien nie! Die naderende ‘tronk’, die algehele verlies van hulle vrye wil,
word as die ideale bestaan voorgestel en hulle kan nie die sluheid daaragter
raaksien nie!
Die mens se vrye wil;
word dit gebruik of word dit misbruik? Wanneer ons let op die liefde van ons
Skepper, soos beskryf in die eerste paragraaf, is die beleid van die Nuwe Wêreld
Orde in skrille kontras, want die bose mag wil van die totale mensdom, deur
middel van die ontneming van hulle vrye wil, slawe maak. Dit is die duidelikste
voorbeeld van die verskil tussen Lig en duisternis. Die probleem is net dat die
leuenagtige duisternis hulleself as lig voorstel en die gebreinspoeldes glo
dit! Hulle het nie meer ‘n vrye wil nie en is reeds in die slawekamp! Vrye wil
is belowe, maar willose gehoorsaamheid is die gevolg en sal onverbiddelik
afgedwing word!
Die vraag is nou: Hoe
kan hierdie verskriklike toestand afgeweer word? Die twee bewegings van die
vrye wil is reeds gemeld, n.l. na die lekker immorele, “Godlose” en
geweten-lose wêreld,
of na die liefdevolle Skepper. Om die weg van die Skepper te volg, beteken om
ten volle en met erns Sy Orde geduldig en met wysheid te volg tot
barmhartigheid en Liefde, wat sal lei tot eenwording met Hom.
No comments:
Post a Comment