Onvoorwaardelike Vergifnis
Is onvoorwaardelike vergifnis
nutteloos, of is dit juis die hoogste ideaal? Die grootste liefde? Hierdie is
‘n baie komplekse onderwerp en my kennis is so beperk dat ek huiwerig is om
komentaar te lewer, maar ek het tog ‘n paar vra.
Het die persoon wat graag wil
vergewe, die reg om belydenis van die persoon wat die onreg aan hom gedoen het
te eis? So ‘n eis sou ‘n daad van hoogmoed wees en ‘n streep trek deur ‘onvoorwaardelik’.
‘n Eis om belydenis kan ‘n oneindige klomp probleme skep wat onhanteerbaar kan
raak! Is die persoon wat wil vergewe sterk genoeg om die magdom ‘doodsbeendere’
wat vrygelaat gaan word, te hanteer? Byna elke mens op aarde het 'n klomp
toegesluite ‘doodsbeendere’. Die persoon wat die onreg gedoen het, het tien
teen een 'n baie groot berou, maar die ‘oopsluit van die kaste vol
doodsbeendere’, of te wel die openbaarmaking wat gepaard gaan met belydenis, is
so 'n verskrikking dat dit agterweë gelaat word, veral die onvoorspelbare
reaksie van die veronregte, is ook 'n groot rede om nie te bely nie.
Wanneer die veronregte vir die
persoon wat die onregte gedoen het sê: "Ek vergewe jou onvoorwaardelik
vir alles wat jy aan my gedoen het, want ek weet dat ek ook onreg aan jou
gedoen het en ek kan nie vergewe word indien ek nie vergewe nie. Ons kan mekaar
van onskatbare waarde wees indien albei onvoorwaardelik kan vergewe. Ons gaan
geen telling hou van die gedane onregte nie! Kom ons vergewe mekaar
onvoorwaardelik met 'n plegtige belofte dat dit 'n volkome vergifnis is!"
Hierdie is ‘n baie ernstige saak en wanneer iemand dink om verby openbaarmaking
van misdade te glip op ‘n sluwe manier, wag daar ‘n groot probleem. Elohim weet
van elke onreg gedoen en Hy weet ook presies wat jou gesindheid was toe jy die ‘onvoorwaardelike
vergifnis’ ooreenkoms aangegaan het. Om met Elohim te probeer woer woer speel
is die gevaarlikste optrede van jou hele bestaan!
Matt 5:23,24 “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou
broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan
versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” Let op die
volgorde!
Kom ons kyk nou weer na Matt 5:23,
24 Uit 'n effens aangepaste hoek. As jy dan jou gawe [berou en belydenis] na
die altaar bring [voor jou Hemelse Vader lê] en jy het in alle opregtheid die
saak met jou naaste versoen, sal jou berou en belydenis liefdevol deur Hom
aanvaar word.
Elkeen van die twee het nog 'n
verantwoordelikheid teenoor die Derde Betrokkene, want teenoor Hom is ook gesondig
en Hy is die ‘Houer’ van die argief waar al die ongeregtigheid aangeteken is.
Ware berou kan nou afsonderlik aan Hom alleen bely word en sonder twyfel
sal dit vergewe word. [Hierdie beginsel word ook beskryf in die geskrif
“Belydenis” waar dit toegepas word op die huwelik van ‘n man en vrou].
Selfs in die geestelike is onreg gepleeg, maar omdat
die geheue van die siel uitgewis word, wanneer dit in die materie geplaas word
by ontvangs, weet ons niks van wat deur ons of teen ons gepleeg was nie. Onregte
gepleeg in die geestelike is waarskynlik gedoen tussen die rebelle volgelinge
van Lucifer, maar kom ons kyk na sekere geskrifte.
DNB 6:1 “Want julle
weet nie, My kinders, die lyding wat julle veroorsaak het aan ‘n ander siel in
lewens voor hierdie nie!”
DNB 6:55 “Vra veral
vergifnis teenoor daardie siele in die geestelike sfere, wat [deur] julle
gedurende vorige lewens verontreg [is], selfs al dra julle geen kennis daarvan
in hierdie inkarnasie nie, sodat julle sondes heeltemal onder beheer kom, en Ek
Die Meester van alle siele sal julle gebed en smekende gedagtes van berou rig
aan alle relevante siele, sodat julle bevry kan word van enige skuld in hierdie
en vorige lewens”.
Hoewel ek nie bewus is van onregte gedoen aan ‘n ander siel
of wat ‘n ander siel aan my siel gedoen het nie, sal onvoorwaardelike vergifnis
deur my Hemelse Vader oorgedra word aan die relevante siele.
Die
Oorgrens Vergifnis
Om ‘oorgrens’ te vergewe, moes daar
‘n ‘oorgrens’ onreg plaasgevind het, of die onreg is gedoen toe albei siele nog
in die geestelike was. Die een siel het intussen ‘huisvesting’ in ‘n materie
liggaam gekry en indien ‘n behoefte om te vergewe daarna ontwikkel het, sou die
vergifnis ‘oorgrens’ moes plaasvind. Dit is egter geheel en al onmoontlik, want
‘n onreg gedoen voor die oorgang van die siel in die materie, is onbekend omdat
dié se geheue volledig uitgewis is. Dit
verg ‘n diepgaande studie!
Waarom praat ons van ‘n ‘grens’?
Omdat daar twee vorme van bestaan is! Was daar altyd twee vorme van bestaan?
Nee! Daar Is slegs Een van ewigheid tot ewigheid. Dit is ‘n Energie wat bestaan
uit Liefde, Lig en Lewe. Die Volmaakte Intelligensie Wie beheer het oor alle
Energie, die Een Oersubstansie en Oorsprong van alles wat bestaan, ook in die
materie.
Hoe het die tweede vorm van bestaan
tot stand gekom? Elohim het uit Homself geneem van die Lig en as selfstandige,
met ‘n vrye wil daar gestel. Waarskynlik was Lucifer vir baie millenniums die
getroue metgesel, maar gaandeweg het hoogmoed, die grootste slot voor die nou
poort, van hom besit geneem nadat een derde van die geskape geesteswesens hom
aangehang het.
Die volgende skryf ek met groot
huiwering: Waar was ek? Het ek ‘n alleenspraak gehoor? Nee ek kon nie hoor nie,
maar op een of ander wyse kon ek die beredenering waarneem! Dit kon ook nie ‘n ‘alleenspraak’
wees nie, want die ‘Ons’ het duidelik na vore gekom. “Ons kan hom nie sy vrye wil ontneem nie, dis te drasties! Ons kan hom
egter nie in hierdie _ _ _ [onverstaanbaar] van onbeperkte mag laat
voortbestaan nie. Die oplossing lê in die skepping van ‘n tuiste, wat ‘n
veilige tuiste sal wees, om hom teen homself te beskerm. Dit sal ons doen: Ons
neem ons Liefde en bind dit met tyd en afstand en dit sal sy tuiste wees,
totdat hy uit vrye wil na Ons terugkeer”. Ek het ‘wakker geword’ met een
allesoorheersende gedagte: Kan ‘n mens ooit Liefde begryp?
Wat het hierna gebeur? Van die
Oersubstansie is ingeperk met tyd en afstand. Die toestand waarin die Energie
toe verkeer, het vibrasie tot gevolg, wat ruimte vul en ‘stol’ tot materie. Uit
die oorspronklike Primêre Energie word sekondêre energie geskep. Sekondêre
energie is gedeeltelik tot ‘n groot mate sintuiglik waarneembaar. Die woord ‘stol’
is egter nie heeltemal versoenbaar met die natuurwetenskaplike se begrip
daarvan nie. Op hierdie stadium wil ek die leser verwys na ‘n diagram wat
gedruk is deur Die Dogter van Sion n.l. “Die pad van die Geeste deur die
skepping”, want dit gee ‘n duidelike uiteensetting van die doel van die materie
skepping, wat die rehabilitasie van die gevalle geeste uitbeeld.
Nou kan ons terugkeer na die
onderwerp van oorgrens vergifnis. Die vraag is, watter onreg kan ek as
materie mens doen aan die siel in die geesteswêreld? As siel het ek toegang tot
die rehabilitasiesentrum gekry deurdat my ouers my liggaam verwek het. DNB 6:56
“... julle berou teenoor daardie siele wie
se toegang julle afgesny het vir ‘n verlossende lewe op aarde, deur
opsetlik die wet van menslike vrugbaarheid en voortplanting te breek; want dit
is ‘n verskriklike misstap voor die heilige aangesig van julle Skepper”. Is
die gebruik van voorbehoedmiddels die misstap? Word van elke vrou verwag om
elke jaar ‘n kind in die wêreld te bring? Iewers is iets wat ek nie verstaan
nie! Gestel een uit elke agt vroue is vrugbaar op ‘n gegewe tyd, dan sal daar,
konserwatief gereken in sewe jaar vier biljoen mense meer op aarde wees!
Die aarde kan die mensdom in die
huidige sondige gewaad nie onderhou nie, wat sal gebeur as die mensdom met 50%
vermeerder?
Ek is ‘n wurm in die stof en ek is
oortuig dat ek in my swakheid nie verstaan nie! Mag my hemelse Vader
duidelikheid aan my gee in die mate wat ek dit kan verwerk.
Dikwels hoor ‘n mens dat iemand sê:
“Ek kon my ouers nie kies nie”. Dit my vriend, is ‘n wanbegrip. Jy as siel het
die ouers gekies in wie se materie-kind jy geïnkarneer is! Met inkarnasie is
jou geheue uitgewis en jy weet niks van die stryd wat jy gevoer het om tot op
daardie punt te vorder nie.
Waarom is ‘n siel bereid om die vrye
geestelike te verruil vir die ingeperktheid en swaarkry in die materie? Sal ons
die siel probeer volg wat gesê het sy “kon nie haar ouers kies nie”.
Baie lank gelede was daardie siel
een van diè wat Lucifer gevolg het en gedurende die konflik met getroue siele
is baie onreg gedoen. Berou het gegroei
met die begeerte om terug te keer tot die Liefde. Die proses van ‘herstel’ is
in die geestelike baie stadig en kan baie
moeilik
sonder
die ‘rehabilitasiesentrum’ bereik word . Hierdie siel was vasberade om terug te
keer na die Liefde, Lig en Lewe van die Vader en het uit vrye wil besluit om
die swaarkry van die materie aan te durf.
Nou begin die soektog na ‘n ouerpaar
met die eienskappe wat vir die siel aanvaarbaar is. Heel gou ontdek sy dat daar
nie ‘n volmaakte ouerpaar beskikbaar is nie en weet dat sy self ook nie volmaak
is nie, daarom moet sy haar vereistes laer stel. Sy beweeg van een egpaar na
die volgende. Die selfsug van die eerste paar is so ooglopend want hulle begeer
alles wat hulle oë sien. Die volgende
egpaar is leuenaars, want hulle lieg tot vir mekaar. Die volgende steel alles
wat hulle begeer. Dan kom sy by ‘n egpaar waar ontrouheid aan die orde van die
dag is en sy wonder wie eintlik haar ouers gaan wees as sy hulle kies. Die
volgende is so haatdraend dat sy hulle nie eers kan oorweeg nie! Die volgende
se karakter eienskappe lyk aanvaarbaar, maar hulle is te oud om ‘n kind in die
wêreld te bring. Die volgende egpaar lyk van buite aanvaarbaar, maar omdat siel
na die innerlike kyk, vind sy dit leeg omdat hulle net glo aan die materie en
nie aan dié waarvan sy deel is nie. Die volgende is nie aanvaarbaar nie, want
hulle aanbid gesnede beelde en begryp nie haar hunkering na die Liefde Lig en
Lewe van die Skepper nie.
So duur siel se soektog voort. Voor
haar is twee mans wat saamleef maar hulle kan tog nie vir haar ‘n liggaam
verwek nie! Die meisie wat seksueel aktief is kan wel ‘n materie liggaam
verwek, maar daar sal altyd die leemte van ‘n vaderfiguur wees, want dit is tog
die norm in die rehabilitasiesentrum. Die volgende egpaar het ‘n kind verwek en
besluit om nie die verwekte lewe te behou nie. Op wreedaardige wyse is die
ongebore kind vermoor en ons soekende siel ween, omdat ‘n mede siel so wreed
weggeruk is uit dit wat sy met soveel moeite gevind het.
Die volgende egpaar lyk of hulle
lief is vir mekaar, maar hulle huwelik is hoofsaaklik wellus gedrewe en die
deur voor ons soekende siel, word toegeklap met ‘n voorbehoedmiddel! Ons siel
soek en soek en wonder wat gaan aan in die rehabilitasiesentrum, wat met soveel
Liefde, wat Elohim uit Homself geneem het en ingeperk het, om die siele weer
toegang tot Hom te gee.
Het ons opgemerk hoeveel onreg is
ons soekende siel aangedoen? Dit is onreg wat ‘oorgrens’ gepleeg is en verg
onvoorwaardelike berou en vergifnis. Dink aan die groot getal soekende siele en
dink aan die groot getal sondeplegende mense op aarde!
Ten slotte wil ek ‘n gedeelte
aanhaal uit DNB 6:36, 37, 39 “Moenie
voorgee om nie te weet wat om te vergewe of om vergifnis voor te vra nie! Of
verwag jy dat Ek die Majesteit en Meester van alle siele, die donker sondige
aspekte van jou siel moet ontbloot? As Ek julle sou toelaat om ‘n kykie te kry
in die oseaan van onvergeefde en onverloste sondes waarin die sondes van die
mensdom aanhoudend in groot strome invloei, sê Ek die Meester vir julle: Julle
sal dit nie kan verdra nie en sal dadelik op grond van die verstikkende stank
van sondes vergaan! Tog moet Ek die Meester, julle Elohim en Skepper hierdie
see van sondes duld en kyk hoe die kinders van My Liefde, nie net vlug van My
heilige stem en Liefde nie, maar vootgaan om sonde op sonde in die oseaan te
stort! En het Ek nie nou aan julle ‘n sluishek met hierdie Nuwe Bybel gegee om
die stygende gety mee te stuit nie, sou die golwe van sondigheid oor julle
gebreek het, en Ek sê vir julle, soos die verderf – hierdie selftoegediende
laaste oordeel, sê Ek die Meester – as julle nie gereed is om daardie stroom
van sondes vinnig te stuit nie! Deur vergifnis te vra, herroep julle julle
sondes en oortredinge, waardeur julle dit in hul vermenigvuldiging stuit,
waarna dit deur My genade ontbind kan word en vir altyd verlos word.”
No comments:
Post a Comment