Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Roker



Roker

            Die praatjie wat ‘n bekende professor oor die radio gelewer het, was baie insiggewend. Dit sou wonderlik wees indien elke roker op aarde dit kon hoor. Of dit rokers tot ander insigte sal beweeg, weet ek nie.
            Net voor hy afgesluit het, het hy gesê: “Ek ken heelwat geleerde en gawe mense wat rook.” Dit bevestig my siening dat geleerdheid geen verband hou met wysheid nie. Langenhoven het gesê: “Geleerdheid in die kop van ‘n dwaas is gevaarliker as ‘n skeermes in die hand van ‘n bobbejaan.” Nou vra ek of ‘n voorbeeld nie ook ‘n skeermes is nie? Hoe meer geleerd iemand is en dan as gevolg van sy status in die samelewing, ‘n groot invloed het op die toekomstige leiers van die land; maak sy gesag nie juis sy skeermes baie skerp nie? Sommige professore is soort van afgode in die oë van studente wat nog nie die wyse oordeel het nie, want wysheid word nie as vak by hulle universiteit gedoseer nie!
            Wanneer die professor dit wat geskryf is te lese kry, gaan hy verstom wees dat ek so ‘n gesiene en geleerde man ‘n dwaas kan noem! Dit bewys mos die waarheid van my stelling dat die gesiene mens se “skeermes“ skerper is as die minder gesiene mens s’n. Of wil jy beweer dat so ‘n gesiene en veral geleerde mens nie tot dwaasheid in staat is nie? Indien hy rook en daardeur sy eie lewe en die van ander in gevaar stel; hoe kan daar van my verwag word dat ek hom ‘n wyse persoon moet noem? Dit sal mos ‘n leuen wees!
            Interessant dat ons professor, wat weekliks die geselsie oor die radio lewer, hierdie week weer die rookgewoonte bespreek het. Hierdie keer het dit nie hoofsaaklik gegaan oor die nadelige gevolge wat die gewoonte op die gesondheid van die mens het nie, maar hy het die nadelige gevolge wat dit op die natuur het bespreek; selfs die aandeel wat dit aan aardverwarming het! Verstommend dat mense ‘n gewoonte kan aanleer, en dan daarmee kan volhou, wat soveel honderde nadele het en geen enkele voordeel nie, behalwe om eintlik gewetenlose mense ryk te maak.
            Iemand wat baie aansien geniet moet baie versigtig wees hoe hy of sy optree. Dit geld vir almal wat met onderwys gemoeid is. Predikante wat in die bediening staan, sporthelde, akteurs en aktrises ens. moet uiters versigtig wees om nie ‘n slegte voorbeeld te stel nie, hulle het ‘n baie groot verantwoordelikheid, wat nie almal blykbaar begryp nie. Soms gedra ‘n gewilde sangeres haar soos ‘n straatvrou. Dink sy ooit wat die invloed van haar optrede op haar jong aanhangers is? Kan ‘n predikant ‘n boodskap van ‘n kansel af voordra, terwyl hy hom skuldig maak aan sodomie? Die gemeente laat dit maar oogluikend toe, want hy is die predikant wat baie lof van gemeentelede kry. Het hy en soortgelykes, nie ‘n groot aandeel aan die gemors waarin die wêreld hom bevind nie?
            Indien ‘n enkeling daardie optredes en talle ander beleidsrigtings, wat in stryd is met die bybel, wat die predikante verkondig, sou bevraagteken, dan is die enkeling die ketter en die predikant word gelyk gegee! Is die geleerde onaantasbaar, ongeag van wat hy aanvang? Is dit omdat hy vir sy gemeentelede vertel dat hulle sommer woerts warts in die hemel kan invlieg en dan die heerlikhede begin opslurp?  Daar wag ‘n groot ontnugtering!!!

            Vanoggend het ‘n predikant van een van die Afrikaanse kerke gepreek oor standvastigheid. Sy preek was verwarrend, want ek kon nie eintlik verstaan na wie hy verwys as hy van dié praat wat die teenoorgestelde van standvastig is nie! Hoewel hy ‘n hele paar tekse uit die bybel aangehaal het, het dit hoofsaaklik gegaan oor waarskuwings, teen dit wat nie gedoen moet word as ‘n mens standvastig wil wees nie. Ons moet nou onthou dat hy gewoonlik op die kansel in die kerk staan wanneer hy sy preke lewer. Sy preek oor die radio is sekerlik deur meer mense gehoor as wat daar gewoonlik in sy kerk sit, maar as hy dieselfde preek oor standvastigheid daar gelewer het, wonder ek hoeveel mense sou die moed gehad het om vir hom te vra of hy die gemeente aangespreek het, of die kerk!
            Kerk lidmate is gewoonlik maar te slap in hulle agterstewes om hulle predikante aan te spreek aangaande beleidsake, want die predikante word met baie agting bejeen as gevolg van die geleerdheid waaroor hy beskik en hy kan die oorgrote hoeveelheid van die gemeentelede beïnvloed om kerkbeleid te steun. Die vraag is nou: Is daar ‘n verskil tussen ‘n gewilde professor wat rook en ‘n gerespekteerde predikant wat deur sy ondersteuning van die krom kerkbeleid, honderde mense weglei van die voorskrifte van die Bybel af? Hoe skerp is sy skeermes?
            Indien een van die ouderlinge na die diens, in die konsistorie vir die predikant sou vra: “Ds. het jy nou vir die gemeente gepreek of vir die kerk?” Kan jy jou voorstel hoeveel ‘katte’ in die duiwehok losgelaat sal wees om een ‘duif’ te vang? Dan kan ek mos met reg vra: “Hoe skerp is sy skeermes?”

No comments:

Post a Comment