Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Geraamtes in die kas



Geraamtes in die kas

            P G du Plessis se gesprek met sy televisietoeskouers het baie gedagtes tot gevolg gehad. Dit het gegaan oor nydigheid by die mens. Hoedat 'n jong man sy voorgenome skoonpa gyselaar gehou het, totdat dié hom toestemming gegee het tot die huwelik met sy dogter. Komies die feit dat die jong man nie juis geweet het wat die ou man aangevang het nie, maar hy het aanvaar dat die ou man tog 'n geraamte in die kas moes hê. Die ou man was onseker oor watter geraamte die jong man hom mee afpers! P G het sy storie afgesluit deur te sê: "Ons het almal geraamtes in die kas!"
            Dit laat 'n mens wonder. Wat is 'n geraamte in 'n kas? Dit moet seker iets verskriklik wees, want almal vrees dit! Waarom die onverbiddelike groot ‘slot’? Dit hou jou gyselaar, vandat jy die slot toegedruk het, tot jou dood of todat jy die kas oopsluit. Hierdie kas waarin die geraamtes toegesluit is, is nie ‘n gemeenskaplike kas nie; elke geraamte het sy eie kas en elke kas het sy eie slot, maar dit is meestal nie die gewone slotte wat met sleutels oopgesluit word nie, dit is syferslotte. Sommige slotte se kodes is bykans algemene kennis, maar ander se kodes verskil in mate van algemene kennis tot bykans hoogstens twee, of selfs een! Hoe meer mense die kodes ken, hoe groter die moontlikheid dat dit met verloop van tyd algemene kennis sal word. Daar is egter ‘n eienaardige tendens: Syferslot kodes wat in die streek so te sê algemene kennis is, word geheim gehou vir die vreemdeling vir wie dit eintlik die meeste raak!
            Maar wat is eintlik in die kas? Is dit nie bloot net die waarheid nie? Die waarheid word gevange gehou en jy is gyselaar! Jy en die waarheid is nou albei in die tronk. Tog loop jy met die kode om julle albei te bevry! Wil jy nie as vry mens die oorblywende tyd op aarde bewandel nie? Dink daaroor dat alle slotte sonder jou toestemming oopgemaak gaan word en dat alle ‘geraamtes’ van die huise se ‘dakke af verkondig gaan word’ voordat jy deur die poort gaan beweeg, want geen leuen mag daardie gebied binne gaan nie!
            ‘Geraamtes’ is gewoonlik woorde of dade wat andere benadeel of seer gemaak het of kan seer maak. Nou ontstaan die vraag: Teenoor wie moet die geraamte uit die kas gehaal word? Voor al die skinder-koerante en tydskrifte, sodat al die ander geraamte-toesluiters hulle daaraan kan verlustig? Is dit nie maar die rede waarom die kas toegesluit gehou word nie? Wat het die breë publiek met die aangeleentheid te doen? Die waarheid behoort slegs vrygelaat te word voor diegene wat seer gemaak of benadeel is. Dan is vergifnis ‘n reiniger, maar nie noodwendig ‘n pynstiller nie. Indien daardie persoon dit aan die groot klok hang, sal sy oordeel groter wees as joune, want as hy of sy nie na jou berou, jou kan vergewe nie, word niks vir hom of haar vergewe nie! Ongelukkig is dit so dat sekere mense net sit en wag op 'n bekentenis van die ander, om die eie misdryf te regverdig. Wat 'n bose wêreld!
            Wat gebeur nou wanneer 'n mens nie direk deur die misdryf geraak word nie, maar dat dit 'n oortreding teen Elohim is? Wanneer so 'n misdryf gepleeg is, word dit ‘aangeteken’ maar dit is geen geheim vir Hom nie, want Hy weet alles. Wanneer die skuldige in berou en ootmoed om vergifnis vra, word die ‘aantekening’ geheel uitgewis. Hy sê deur die mond van Sy profeet: "….. Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu….“. Sal daar dan iets van die huise se dakke af verkondig word?
           
           
           
           

        

No comments:

Post a Comment