Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Twee verskillende beleggings



Twee verskillende beleggings

            Min mense het 'n oorvloedige oudag. Jy het jou lewe lank hard gewerk en uitgesien om 'n ontspanne en rustige oudag, sonder finansiële bekommernis te kan geniet. Vir minstens 90% van ons realiseer die verwagting glad nie. Waarom nie?
            Kyk na beleggings. Min mense is tussen 20 en 30 jarige leeftyd bekommerd oor 'n rustige oudag, want op daardie ouderdom lyk die oudag ver in die verskiet, maar daar is tog 'n paar wat deur 'n finansiële raadgewer oorreed word om te begin spaar vir aftrede.
            Voorbeeld: Ek is nou 80. 60 jaar gelede was ek oorreed om 'n lewenspolis uit te neem. Die maandelikse premie was, soos dit vandag lyk, baie laag, maar dit het 10% van my inkomste beloop. By afsterwe sou die polis R4,000 uitbetaal. [Dit het niks met aftrede te doen nie, maar ek wil die waardevermindering van geld uitwys] In 1952 kon 'n mens met 1 sent heelwat meer koop as wat jy vandag met R1 kan koop. Wat ek probeer sê, is dat ek waardevolle geld gebruik het om die premie te betaal. Die geld waarmee ek die premie betaal het, het ook geleidelik minder werd geword, maar die premies wat ek die eerste 3 jaar betaal het, was vergeleke met vandag R8,000 en hulle sou maar R4,000 betaal by afsterwe! Dit wil lyk asof inflasie my deeglik bygekom het! Dit is 'n probleem met enige belegging. Jy begin waardevolle geld belê en dan word waardelose geld aan jou terug betaal, waarop jy dan ook nog belasting moet betaal!
            'n Uiterste geval het in Zimbabwe aan die lig gekom. 'n Hoë amptenaar in die staatsdiens, se weduwee kon heel goed lewe van haar oorlede eggenoot se pensioen, maar na Robert Mugabe se geldskepmanie, wat 2,000,000% inflasie tot gevolg gehad het, kon sy met haar maandelikse pensioen slegs een brood koop.
            Wie beskerm jou belegging? Jou makelaar? Ek glo nie! Hulle beplan gewoonlik vir jou 'n portefeulje wat vir hulle die meeste kommissie in die sak bring. [Daardie kommissie is ook waardevolle geld]. Rente op 'n spaarrekening by 'n handelsbank, gedurende lae rentekoerse van die reserwe bank, is heeltemal onvoldoende en verg 'n reuse belegging om van te kan lewe.
            As belegger word jy nou oorval deur talle ‘aasvoëls’ met allerande skemas. Respektabele ondernemings se name word gebruik, maar as die beleggingsplan vou, is dit nooit hulle skuld nie. Piramide skemas staan soos paddastoele op en baie persone wat beheer oor hulle kapitaal het, val ten prooi van gladdebek bedriërs. Of die verskuiwing van jou geld uit nood, of uit gierigheid gebore is, maak geen verskil nie, almal sit uiteindelik sonder 'n sent.
            Versekerings polisse het dieselfde kwesbaarheid as beleggings wanneer die inflasie gogga sy honger stil, maar tydelike kontantvloei probleme laat baie mense hulle polisse afkoop, of selfs verval. Dit wil voorkom asof versekerings maatskappye dit lonend vind.
            Mense wat aftree kry gewoonlik 'n pakket en dit is waarskynlik die grootste enkele bedrag waaroor hulle ooit beheer gehad het. Ondernemende mense gebruik daardie geld om 'n besigheid te begin. Ooroptimisme en 'n gebrek aan ondervinding kan so 'n onderneming, wat juis aangepak word om inflasie hok te slaan, laat misluk. Feit is dat 90% van sulke ondernemings, volgens statistieke, nie suksesvol is nie!  [2016. Die regering beoog ‘n wet dat slegs 30% van die pensioen van ‘n werknemer met aftrede of bedanking uitbetaal mag word. Die res moet in annuïteite belê word. Goed of sleg? Goed, omdat dit die risiko van ‘n swak eie belegging verminder, maar hoe veilig is die ander 70% wat later uitbetaal sal word? Die amper 10% waardevermindering van geld maak dit amper onmoontlik om enige werklike vermeerdering van daardie kapitaal te verwag! ‘n Ander probleem is, dat deesdae groot somme geld dikwels net eenvoudig tussen neus en oë, uit die ‘veiligste bewaring’ verdwyn.]
            Jy wil tog 'n goeie oudag geniet, maar hoe? Om inflasie te klop kan jy belegging in goud probeer. Gedurende 1963 was die goudprys $39 per oz. en 'n dollar kon gekoop word vir R0-72, dus was die prys van goud R28 per oz. Ek kon goud koop vir R924 per kilogram. Ek het R10,500 beskikbaar gehad, as ek nie ‘n huis gebou het nie en kon dus 11kg goud koop, wat nou R4,500,000 werd sou wees. [12/01/2016 Die Rand se waarde het nou so gedaal dat die 11 kilogram goud nou R6,000,000 werd is]. Sou dit 'n goeie belegging wees? Wat kos 'n 300 vierkante meter huis vandag? Ek het darem die gebruik van die twee huise gehad!
            Die probleem met 'n belegging in goud is die bewaring daarvan. Selfs al sou 'n handelsbank dit bewaar is dit nog nie 100% veilig nie. Wanneer goud gekoop word moet al jou gegewens verskaf word en dit maak jou baie kwesbaar, want ongewenste persone kan die gegewens bekom.
            Belegging in eiendom lyk baie belowend as jy die eienaar is, maar daar is ook 'n probleem. ‘n Politieke leier het gaan kers opsteek by ‘n berugte staatspresident en hy glo nou vas 'n plaas word nie gekoop nie; dit word gevat! Die diefstal sal waarskynlik na alle eiendom uitgebrei word. In 'n beskaafde land sal dit waarskynlik nie gebeur nie, maar in Afrika is enigiets moontlik.
            Daar is nog 'n probleem. Mediese koste het geweldig toegeneem. Byna elke ekonomies aktiewe persoon het 'n mediese skema of 'n hospitaal plan. Die skemas word jaarliks duurder en dit skep probleme. Die mediese behandeling raak ook doeltreffender, in so 'n mate dat die lewensverwagting aansienlik verleng word en nou gaan jou langer lewe 'n bykomende las op jou aftree pakket plaas. Nou is jou aftree periode amper net so lank soos jou werkende periode waartydens jy doeltreffend voorsiening kon maak vir jou oudag! Daar is bereken, dat die helfte van dit, wat in totaal in jou lewe op medies gebaseerde koste bestee word, gedurende die laaste 6 maande van jou lewe uitgegee word!
             Gesien in die lig van al die probleme met voorsiening vir jou aftrede, was jy byna voortdurend besig met materiële dinge. Het jy tyd gehad vir die geestelike? Ek praat nie van die uur wat jy moontlik gedurende die Sondag oggend in die kerk deurgebring het nie, want selfs daar het jy moontlik die tyd verwyl deur te dink wat jy Maandag nog moet doen. Selfs dit wat jy, as lidmaat van die gemeente, so ywerig gedoen het, was tot 'n groot mate gerig op uitbreiding van die kerk. Was die bou van die kerksaal en die finansiering daarvan prioriteit nommer een? Dan was selfs jou godsdiens materie gebonde.
            Dit raak nou duidelik waarom jy langer wil lewe, want jy is nie seker wat aan die ‘ander kant’ op jou wag nie. Jou vrees maak die ontsettend duur mediese behandeling noodsaaklik! Die rustige oudag het nou onrustig geraak en is alles behalwe 'n plesier, want nou raak alles verteer waarvoor jy jou lewe lank gewerk het.
           
            Kom ons kyk na 'n ander belegging.
            Lees Matt 25:33-46 dan sal jy begryp waarom sommige mense so bang is vir die dood. Daar gaan 'n skeiding plaasvind!
            Net soos wat jy van jou inkomste opsy kon sit vir 'n belegging in 'n bank, bougenoodskap, of in watse onderneming ookal, kon jy dit ook gebruik het om jou naaste wat in nood verkeer te help. So 'n belegging kan nie gesteel word nie en kan ook nie in waarde verminder nie, want dit word onmiddelik ‘verreken’!
            Nou moet ons eers die twee ‘pensioenskemas’ vergelyk. Die bestaande skema, in die materialistiese wêreld, is slegs vir relatief ryk mense ontwerp. Die relatief arm mense het nie die geleentheid om voorsiening te maak vir hulle oudag nie. Die ryk mense het self geen waarborg dat hulle skema hulle nie in die steek gaan laat nie. Hulle skema stel eise ten opsigte van minimum premies, maar vir ongewaarborgde versorging vir hulle oudag, en kan hulle brandarm laat.
            Die alternatiewe ‘belegging’ stel geen eise ten opsigte van rand en sent nie, dit is vrywillig en daar is talle ‘betaalmiddele’ wat vir die ‘betaling van die premie’ gebruik kan word. Gevolglik sluit hierdie ‘pensioenskema’ niemand uit nie! Dit is beskikbaar vir almal – van die rykste tot die armste.
            Wat kan gebruik word om jou ‘premie’ te betaal? Omdat die hoofdoel van jou bestaan nie is om geld te versamel nie, sal jy waarskynlik nie in staat wees om die materialistiese pensioenskema te bekostig nie en sal jy tot jou geluk die alternatiewe ‘pensioenskema’ gebruik, indien jou geloof daartoe in staat is, dan het jy 'n wye keuse van ‘betaalmiddele’. Ons noem net 'n paar voorbeelde:
            Die was en stryk van 'n arm kind se skoolhempie.
            Die opmaak van 'n siek persoon se bed.
            Vervoer vir iemand wat nie oor vervoer beskik nie.
            'n Blinde oor 'n besige straat help.
            'n Verswakte oue by 'n trappie op help.
            'n Bemoedigende woord of aanraking.
            'n Gedeelde sny brood.
            'n Geselsie met 'n eensame.
            Selfs net deernis kan 'n premie betaal; dis aanvoelbaar.
Wanneer fisiese geld gebruik word kan in gedagte gehou word dat die een sent van die arm weduwee meer waarde het as die duisend Rand van die miljoener. Dis die gesindheid wat van belang is om die waarde te bepaal.
            Lank gelede het ek na 'n preek geluister, die predikant het gese; "jou bydrae moet jou seermaak". Ek weet nie wat sy motief was nie – alhoewel dit verdag klink – want 'n blymoedige gewer kry nie seer nie! Daar word nog talle maniere in die Woord genoem waarvolgens die ‘premies van die pensioenskema’ betaal kan word. Veral Matt. 25:35,36.
            Wie moet jy in sy nood help? Die antwoord is baie duidelik in Matt 25:40 "...: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het vir een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen." Joh 13:1 "..., en omdat Hy Sy eie mense in die wêreld liefgehad het..." Ons weet nou presies aan wie ons barmhartigheid moet bewys.
            Dit is te verstane dat mense, wat net ingestel is om geld te versamel bang sal wees vir die dood. Is dit dan nie beter om die alternatiewe belegging te probeer nie? Waar geen mot of roes bestaan nie!
            Hierdie belegging is ook nie so eenvoudig as wat dit op die oog af lyk nie! Dit moet volgens sekere reëls gedoen word. Lees Matt 6:1-4 "... Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde". Die manier waarop die meeste mense liefdadigheid beoefen kanselleer dit as 'n belegging. Mevr. ‘Goedheid’ gebruik haar vrye tyd om ander mense te oortuig om bydraes te gee vir 'n welsyns organisasie. Sy word geprys deur almal, wat van haar optrede bewus gemaak word deur koerante, radio en televisie. Sy geniet die blootstelling en verbeur die ‘belegging’, want "... sy het haar loon weg." Dikwels gebeur dit ook dat die bydraers se name gepubliseer word, met die bedrag daarnaas, hulle het ook hulle loon weg! Daardie loon word net so waardeloos soos die geld wat jou pensioenfonds of annuïteit aan jou uitbetaal!
            Om liefdadigheid te bewys, omdat barmhartigheid deel van jou leefwyse is, dan is die belofte soos beskryf in Matt 6:31-33 op jou van toepassing. Daardie belegging is nie net in die hiernamaals nie, maar baie duidelik ook 'n belegging vir jou oudag! Hoe wonderbaar is Sy genade! Daar word nie net vir jou gesorg gedurende jou oudag nie, maar ook aan die ‘ander kant’! Jy kan werklik rustig voortgaan en het nie nodig om so lank as moontlik aan die lewe gehou te word nie, want jy sal geen vrees hê vir wat na jou afsterwe sal wees nie!
            Is dit nie die beste belegging wat jy ooit in jou lewe kan doen nie?

No comments:

Post a Comment