Cornel
Boshof se Rooidak skool was beroemd en het leerlinge
gelok van oor die hele land en selfs vanuit die buurstate. Al het Kimberley
groter skole gehad as Boshof, was daar geen rede om Cornel se bywoning van ons
skool te bevraagteken nie. In elk geval stel skoolkinders nie in sulke sake
belang nie en as ‘n mens goed klaarkom met ‘n skoolmaat, dan is alles in orde.
Hy kon met smaak vertel van al die avontuurlike dinge wat in Kimberley gedoen
kon word en het vir Andries en vir my genooi om die naweek vir hom te gaan
kuier. Ons kon die Saterdagaand by sy broer in die stad slaap.
Andries
en ek het fietse gehad, maar Cornel moes ‘n fiets leen om die tog na Kimberley
aan te pak. Vir ‘n geoefende fietsryer was die 54 kilometer geen problem nie,
maar ons het nie rekening gehou met Cornel se gebrek aan uithouvermoë nie. Die
eerste paar kilometer het hy entosiasties voor gery. Na 10 kilometer het hy
langs ons gery en na 20 kilometer was sy
blus uit, toe moes ons hom om die beurt stoot! Die stotery het vir nog 10
kilometer aangehou en tot ons verligting hou daar toe ‘n ou tannie met haar
Ford by ons stil en vra of sy ons kon oplaai. Die fietse was ‘n ietwat ongewone
vrag vir ‘n motorkar, maar gelukkig het die 1935 modelle nog trappe langsaan
gehad waarop fietse kon staan as dit deur die oop venster vasgehou word.
Die
ou tannie het gesellig vertel van haar seuns, so ongeveer ons ouderdom en ons
genooi om by hulle te kuier, dan kon ons sommer daar slaap. Ons het haar
vriendelike aanbod nie aanvaar nie, want ons sou mos by Cornel se broer-hulle
oornag. Hy het aangeklop en toe sy broer die deur oopmaak, kry ons die skok van
ons lewens! Die volgende gesprek; sonder om te groet:-
Sy
broer:”Wat soek jy hier? Hoe het jy hier gekom?”
Cornel:”Met
‘n fiets.”
Sy
broer:”Seker weer gesteel! Maak dat jy wegkom!”
Ek het nie geweet die verhouding
tussen broers kon so wees nie!
Nou
het daar ‘n problem opgeduik! Cornel wat so seker was (?) dat ons by sy broer
kon gaan slaap, het toe geen oplossing vir ons penarie gehad nie! Die ergste is
dat ons nie vir die vriendelike tannie gevra het wat haar adres was nie! So ry
ons maar deur die donker strate van ‘n ongure buurt, toe dit skielik vir
Andries byval dat hulle bure se dogter in daardie omgewing woon. Die mense wat
ons op die swak verligte strate teegekom het, het ooglopend by die buurt gepas!
Dit was ‘n verligting toe ons die woonplek van die bure se dogter opgespoor het
en ‘n nog groter verligting toe sy ons redelik gasvry binnegenooi het, nadat sy
hulle bure se seun herken het. Of ons gasvrou getroud was, weet ek nie, maar sy
het ‘n kleuter met sulke snaakse skrefies oë op haar heup gedra. Sy het
beddegoed gebring en ons kon ‘n kermisbed in die sitkamer opmaak. Ek wonder of
Cornel saam met my bly was dat Andries goeie bure gehad het. Die volgende
oggend kon Cornel ons ‘n paar plekke wys wat op waaghalsige wyse ondersoek kon
word. Byvoorbeeld waar daar deur die draadheinings om die ou uitgewerkte
oopgroef myne gekruip kon word, om dan tot by die loodregte afgrond te kruip en
honderde voete in die afgrond af te kyk.
Van
die ‘ups and downs’ het hy geweet, maar dit was gou duidelik dat hy nie fietsry
daar beoefen het nie! Vir my en Andries was dit ‘n heerlike speelterrein, wat
bestaan het uit vier kleinerige mynhope waarvan die hoogtes gewissel het tussen
4 en 10 meter.Die kante was redelik steil en om die steiltes te bemeester met
‘n fiets, het nie net harde trap vereis nie, maar baie momentum wat verkry is
deur die afdaal van die vorige hoop. Die
duidelike fietspaadjies oor die mynhope was bewys van die aktiwiteite wat daar
beoefen word. Ons het die terrein bestudeer en besluit ons gaan dit probeer.
Andries en ek was suksesvol, maar Cornel kon die laaste opdraend nie voltooi
nie en is holder-ste-bolder met fiets en al terug. Daarna was hy ‘n toeskouer,
want hy het nie die moed gehad vir ‘n volgende probeerslag nie.
Vroeg
middag het ons die terugtog Boshof toe aangepak, want ons het Cornel se gebrek
aan fiksheid in gedagte gehou. Gelukkig het ons ‘n stuk tou raakgeloop waarmee
ons hom op sy fiets om die beurt kon sleep, want dit was baie makliker as om
hom te stoot. Gelukkig was die terugtog redelik maklik met behulp van die tou.
No comments:
Post a Comment