Kwaaijong Streke
Soms dink ek terug aan die kwaaijong
streke wat die koshuiskinders aangevang het, paar in die 60 jaar gelede. Een
van die dinge, wat my nou byvoorbeeld skaam laat voel, was daardie tyd as baie
oulik beskou. Dit was hoe kinders ‘n jong man se siel versondig het deur vir sy
donkies te fluit, sodat hulle gaan staan en hy hulle met baie moeite weer aan
die loop moes kry. Hierdie span donkies het behoort aan ‘n jong ondernemer, vir
wie ek oor die jare al meer respek gekry het. Laat my die storie van Tiekieram
Tot vertel: Hy was seker so 3 of 4 jaar ouer as die gemiddelde matriekseun en
het saam met sy ouers in ‘n huisie in die laaste straat aan die Ooste kant van
die dorp gewoon. Sy ouers het ek nooit gesien nie, maar hy was welbekend in die
dorp. Die dorp het baie onderaardse water gehad en windpompe was relatief
goedkoop en die energiebron gratis. Kalkklip wêreld het goeie grond waar vrugte
goed aard, maar waar die kalkbanke bokant die grond uitsteek, moes goeie grond
ingery word. Dis waar Tiekieram ‘n geleentheid raakgesien het. Om tussen ‘n
ligsinnige klomp skoolkinders te sit en boekekennis opgaar was vir sy praktiese
brein nie aanvaarbaar nie. Hoe hy die span donkies en die wa bekom het, weet ek
nie, maar die donkies het in die weikamp reg voor hulle huisie snags onder sy
wakende oog deurgebring.
Vroegoggend het hy hulle ingespan en
die paar myl na die ander kant van die dorp stadig afgelê, tot by die terrein
waar die goeie tuingrond opgelaai kon word. Hy het altyd volop werk gehad, want
baie erwe het te veel kalkklip banke gehad.
Ongelukkig het die enigste pad na
die terrein, waar die tuingrond gelaai kon word, reg voor die seunskoshuis
verby geloop. Tiekieram het waarskynlik nie ‘n horlosie gehad nie, want dan sou
hy die skoliere se verkeer tussen skool en koshuis kon vermy. Die eerlike,
hardwerkende jong man het hom soms op dieselfde pad as die kwaaijongens bevind
en dan sal daar altyd een of twee wees wat vir die donkies fluit. Nodeloos om
te sê dat die ongewone geniepsigheid waarmee sy lang sweep oor die ribbes van
die donkies gegaan het, gebore is uit frustrasie. Hy het seker gewens hy kon
die voorslag om daardie seuns se ribbes laat krul.
Of die predikant hom aangetree het,
weet ek nie, maar ons het saam in die katkisasieklas beland. Moontlik het sy
minagting vir die skoolbanke ook na die kerkbanke oorgewaai, want hy het nie
veel erg aan die leerdery gehad nie. Hy het egter nie besigheid verloor op
Sondag nie, want die konserwatiewe gemeenskap sou hom nooit toelaat om op die ‘Sabbat’
grond af te lewer nie.
Die betrokke Sondag behandel Dominee
die Apostoliese Geloofsbelydenis en die katkisante moes gedeeltes daarvan
voordra. Tiekieram het by die gedeelte: “Opgevaar na die hemel en sit aan die
regterhand van God” vasgesteek. Dominee vra toe ‘n ander katkisant om dit voor
te dra: “Opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God”. Toe die
ander katkisant die gedeelte die tweede keer herhaal sonder dat Tiekieram dit
agterna kon sê, was Ds. se geduld op. Hy vra: “Waar is Hy nou?” Maar die
antwoord wil nie kom nie! Dominee sê: “Luister, as jy hiervandaan af ry na
Bloemfontein toe, waar is jy dan?” Op daardie oomblik het Tiekieram skielik
besef waaroor dit gaan en hy sê: “In die hemel Dominee”. Hoe erg kon lag word
as jy is waar jy nie mag lag nie!
My respek vir Tiekieram het net
groter geword nadat ek die arbeidstendens in die ontwikkelende wêreld gesien
het. Sy inkomste was sjieling en halfkroon gewys. Hy het nooit ‘n handlanger
gehad nie. Hy het self sy donkies ingespan en hulle alleen tussen die onnutsige
skoolkinders deur gedryf. Hy het alleen die tuingrond losgepik en gelaai en
weer afgelaai. Verseker sou hy nooit in ‘n finansiële verknorsing beland nie.
Ek wonder hoeveel van die verpestende skoolseuns kon dit aan die einde van
hulle lewens sê?
Tiekieram was nie die enigste wat
onder die onnutsigheid van die klomp werfgoeters moes deurloop nie. Die
plaaslike prokureur het ook sy beurt gekry. Heelwat van die woonhuise was met
roustene gebou of die messelklei en pleisterklei was eintlik net grond. Wat
mense sekere dinge laat doen is nie altyd duidelik nie, maar die prokureur het
sy huis se mure een na die ander afgebreek nadat hy die dakbalke gestut het.
Dan het hy bekisting gemaak en met beton gevul, laag vir laag tot die verlangde
hoogte bereik is. Moontlik wou hy seker maak sy huis sal nooit val nie. Daardie
bedrywigheid het vir maande lank saans plaasgevind. Dit kon sy ontspanning wees
na ‘n moeilike dag op kantoor, waar hy ander mense se gemors moes regstel, of
dalk ‘n verskoning om ‘n veeleisende slaapkamer te ontwyk. Op daardie stadium
in my lewe sou die laaste rede nie juis sin gemaak het nie, maar tog was sy
werkery tot na 10 uur in die aand eienaardig.
Daardie betrokke aand het so ‘n stuk
of vyf van ons in die straat af gedrentel toe ‘n baie onaangename reuk ons
begroet het. By nadere ondersoek vind ons ‘n bederfde skaapboud waarvan die
murgbeen redelik skoon was. Waarom ons die onwelriekende stuk vleis saam gedra
het, sal vir enige regdenkende mens nog onverstaanbaarder wees as wat die
prokureur se muurvervanging vir ons was. Die stuk vleis is saam gedra aan die
windaf kant. Toe ons by die prokureur se huis kom, hoor ons die geluid van ‘n
saag in werking en mense se stemme. Die buitemuur was reeds so twee en ‘n halwe
meter hoog gegiet met ‘n redelike opening bo. Wat die draer van die vrot vleis
besiel het weet ek nie, maar hy gooi dit oor die muur in die vertrek in!
Ons was darem slim genoeg om te
weet, dat al is daar net twee perdebye aan ‘n nes en jy maak hulle kwaad
genoeg, is dit tyd om spore te maak! Die veiligste terrein was die groentemark
tafels, want van daar af het vyf strate as ontsnappingsroetes gedien. Ons was
ook net betyds, want die volgende oomblik het twee figure teen onverwagte
snelheid om die hoek van die stadsaal gebars. Ons almal het ontkom, danksy die
vyf ontsnappingsroetes en die agtervolgers het nie geweet vir wie om te jaag
nie en jy kan nie die atleet in die nag uitken nie.
Daardie jare het die bewoners van
die dorpserwe nie slotte aan hulle hekke gehad nie, want die hekke was slegs
daar om jou eie hond in, of die buurman se hond uit te hou, as hulle honde
gehad het. Selfs vrugteboorde was nie altyd agter slot en grendel nie. Oom Kort
van Draad se hek het ook nie ‘n slot gehad nie en sy hond het die paar wit
kinders nie juis as ‘n bedreiging beskou nie, veral nie toe hy liefkosend agter
die oor gestreel is nie. Selfs toe die kwaai oom se rubberwielwaentjie by die
hek uitgestoot is, het die hond net belangstellend toegekyk, sonder om ‘hond se
gedagte’ te kry.
Oom Onskuld se erf het ‘n klipmuur
om gehad en die gedeelte agter die huis was nie van die hek af sigbaar nie en
dis nou net daar waar die rubberwielwaentjie geruisloos geparkeer is. Sondag
oggend merk oom Kort van Draad sy wa is weg. So iets het nog nooit gebeur nie!
Gedurende die Dominee se preek, bly oom Kort van Draad se gedagtes wegdwaal
agter sy gesteelde wa aan en wraakgedagtes stoot sy bloeddruk al hoër op.
Na kerk het oom Kort van Draad weer
omtrent die hele dorp deur geloop op soek na sy wa. Hy het by oom Onskuld se
huis verby geloop en niks verdags gemerk nie. Omdat oom Onskuld sy
wyksouderling en bowendien die leierouderling was, was daar geen rede om die
ommuurde erf noukeuriger te ondersoek nie.
Oom Onskuld was ‘n toegewyde
ouderling en hy het geglo dat die ‘Sabbat’ gewy moet word aan geestelike dinge.
Die Kerkbode en die Bybel het soveel van sy tyd in beslag geneem, dat hy nie
die wa agter sy huis bemerk het nie.
7 uur Maandag oggend staan oom Kort
van Draad in die aanklag kantoor en vertel verontwaardig aan die Sersant hoe
die dorp se bewoners versleg het, dat hulle sy wa gesteel het.
Sersant Humor is saam met oom Kort
na sy huis toe en by die derde erf van waar die misdaad gepleeg is, merk sy
kennersoog ‘n onduidelike motorband spoor op ‘n bietjie spoelsand voor oom
Onskuld se hek. Hy sê nie vir oom Kort wat hy gesien het nie, maar net dat
hulle by die ouderling moet aanklop. Sersant sê vir die ouderling hulle wil net
iets kyk in sy agterplaas. Oom Onskuld is stom van verbasing toe hy die wa
lewensgroot voor sy agterdeur sien, maar toe is die gort gaar!
Oom Kort van Draad se opgekropte
woede kook oor en hy skree: “Jy sit met jou skynheilige gesig in die voorste
gestoelte van die kerk, maar dan kom steel jy my wa in die nag!” Oom Onskuld
staan sprakeloos. Oom Kort wil nog verder afgaan maar Sersant maak hom stil en
sê hy moet huis toe gaan, want die gereg sal sy loop neem.
Sersant Humor het nie net die wet
geken nie, maar hy het agter in sy kop ‘n stoorplek vir al die misdaad, wat so
af en toe gepleeg is, gehad. Vir die kattekwaad van die koshuisseuns het hy ‘n
spesiale bêreplekkie gehad en na jare was sy argief redelik gevul met
humoristiese stories. Baie van die stories het hom bereik deur sy kinders, maar
hulle het geweet wanneer dit veilig was om ‘n storie vir hulle pa te vertel. Hy
was in werklikheid ‘n goeie vriend van die kwaaijongens.
Sersant het geweet waar om die ‘diewe’
van die wa te gaan soek, maar hy wou nie hê dat een van hulle met ‘n misdaad
rekord die lewe moes begin nie. Die wa het hy by die polisiestasie bewaar onder
die voorwendsel dat dit as bewysstuk moes dien, indien oom Kort van Draad ‘n
saak wil maak, wat hy nie aanbeveel nie. Gelukkig was oom Kort ook bietjie kort
van dink, maar die onmin tussen die twee kerklidmate was vir Sersant ‘n bron
van kommer en hy besluit om by Dominee te gaan raad vra.
Sersant: “Dominee, ek sit met ‘n
groot probleem, want oom Kort van Draad het vir ouderling Onskuld vreeslik
lelik beledig.” Dan word die episode met die wa vertel. Ook dat hy oortuig is
dat dit koshuisseuns is wat die ou mense ‘n poets wou bak. Indien hy vir oom
Kort sy sin gee sal daar ‘n klag gelê word en hy weet nie wat magistraat
Regverdig se siening sal wees indien hy die seuns skuldig bevind nie. Aan die
ander kant is daar nou onmin tussen die twee gemeentelede! Dis nou of die seuns
of oom Onskuld.
Dominee: “Sersant, hoe weet jy dis
die koshuisseuns?” Sersant: “Ek het gesien daar is ook ‘n paar kaalvoetspore in
die sand en ek weet wanneer hulle kattekwaad aanvang is hulle gewoonlik
kaalvoet. Bowendien kan dit nie van die mense van die lokasie wees nie, want as
die aandklok gelui het is hulle nie meer in die dorp nie, daarvoor sorg ek. As
hulle die wa wou steel sou hulle dit mos nie in die ander erf gelos het nie!”
Dominee: “Sersant, jy sê hulle loop
gewoonlik kaalvoet wanneer hulle kwaad doen? Nou word iets vir my duidelik. Toe
my pragtige Kakamas perskes verdwyn het, net toe hulle mooi ryp was, was daar
kaalvoetspore in die los grond onder die boom. Daar was nog ‘n gebeurtenis waar
kaalvoetspore duidelik te sien was. So ‘n maand gelede het die kannetjie melk
wat in die koeler gehou word, sommer een nag baie leër geword. Daar was vyf
paar spore in ‘n halfmaan, asook vyf sitvlak afdrukke. In my verbeelding het ek
gesien hoe die melkkannetjie op die ry af gegee is en elkeen sy beurt gekry het
om te drink, soos met die nagmaals beker. My lus vir my môrekoffie het verdwyn
na die verbeeldingsvlug, maar gelukkig het mevrou darem ‘n blikkie kondensmelk
oopgemaak nadat ek die melk, wat nog in die kannetjie oor was, vir die katte
gegee het.” Sersant skater van die lag en sê: “Dominee, weet jy wat? Die melk
wat nog in die kan oor was, was seker bedoel vir jou oggendkoffie en
ontbytpap.”
Dominee lag ook en sê: “Weet jy
Sersant, jy is 100% reg. Dit was nie so erg as wat ek gedink het nie. Dalk kon
ek maar die ‘nagmaal beker’ leeg gemaak het. Maar weet jy hoe lekker was die
kondensmelk in die koffie?”
Dominee is ‘n vindingryke man en hy
sê dat hy die melk-episode vir die twee wat kwaai vriende is moet gaan vertel,
dalk vind hulle dit ook komies en dit kan die ys breek, maar vir die wis en die
onwis moet Sersant saamgaan, want oom Kort van Draad het so effens meer respek
vir die gereg, terwyl oom Onskuld meer waarde heg aan wat Dominee sê.
Die vergadering is gehou by oom
Onskuld se huis, want dis waar die aantuiging gemaak is. Om oom Kort van Draad
by oom Onskuld se huis te kry was nie so maklik nie, maar toe Sersant sê: “Jy
het valse aantuigings gemaak en ons kan bewys dat oom Onskuld nie die wa uit
jou erf verwyder het nie. Hy kan jou dagvaar vir laster.” Dit het oom Kort laat
besluit om liewer saam te gaan!
Dominee het vir hulle die
melk-episode met smaak vertel en dit het toe die ys gebreek, maar oom Kort was
nog nie lus vir die verskoning vra nie en wou hê die wat die poets gebak het
moet verskoning vra. Sersant sê: “Dis nie hulle wat die aantuiging gemaak het
nie, maar jy. Hulle het ‘n ander ding om oor verskoning te vra, maar dis nie
oor die aantuiging nie.” Oom Kort het besef hy gaan hierdie geveg verloor en
het verskoning gevra. Oom Onskuld weer ken die Bybel en hy weet as hy nie
vergewe nie, sal sy geheime misstappies ook nie vergewe kan word nie en het dus
onvoorwaardelik vergewe.
Die drama het nie daar geëindig nie,
want oom Kort wou weet wie het sy wa weggestoot en hulle moes hom on verskoning
vra, anders gaan hy aan met die saak.
Daar is baie kennis oor kwaaijong
streke in Sersant se brein argief, maar gegewens oor detail wat gebeur het
sluit nie name in nie, omdat hy hulle nie vir goedige pret wou vervolg nie. Hy
wou ook nie name uit sy kinders wurg nie, want hy het net ‘n gevoel gehad dat
die een wat iemand dwing om ‘n leuen te vertel, net so skuldig is as die een
wat die leuen vertel.
Dominee en Sersant belowe dat die
saak opgelos sal word, net ‘n bietjie tyd word benodig. Na die vergadering sê
Dominee: “Sersant hou net daardie wa by die polisiestasie.”
Oom Kort gaan vra sy wa, maar
Sersant sê vir hom hy kan nie die wa afgee voordat oom Kort nie onderneem om
die saak te laat vaar nie, want dit is ‘n bewysstuk. Oom Kort sê: “Maar julle
het gesê die wat my wa weggestoot het sal my om vergifnis kom vra!”
Sersant sê: “Net nog ‘n bietjie
geduld.” Dominee het ook nie stil gesit nie en gaan sê vir oom Kort hy moet die
volgende Sondag oggend reg agter die ouderlinge gaan sit vanwaar hy en oom
Onskuld die koshuisseuns mooi kan dophou, want hulle sit oorkant die oop ruimte
in die linkervleuel van die kerk.
Daardie Sondag oggend het die diens
soos gewoonlik verloop, maar toe Dominee begin preek was dit baie duidelik dat
al sy aandag op die seuns gekonsentreer was. Hy het gepreek oor die vlerklose
muisvoëls wat die tuine plunder en die wat mense se melk uit die koelers steel.
Dominee sê toe vir hulle: “Daar is
baie vorme van diefstal en baie grade van diefstal. Daar is baie mense van wie
gesteel kan word, sonder dat hulle gaan gebrek ly, maar daar is armes wat gaan hongerly as van hulle gesteel
word. Ryk of arm maak nie nou saak nie want die bybel sê: “Jy mag nie steel
nie” en steel is steel. Daar is geen regverdiging vir die oortreding nie.” Tot
op daardie stadium het Dominee baie kwaai gelyk en die hele gemeente het na die
groep koshuisseuns gekyk.
Toe versag Dominee se blik en hy sê:
“Julle weet wie my perskes gesteel het en julle weet wie my melk gedrink het –
so terloops ek waardeer dit dat julle so konsidererend was om vir my ‘n bietjie
te laat vir oggendkoffie – maar ek gaan nie vra wie julle was nie, want ek het
julle reeds vergewe.
Hier het egter iets gebeur wat baie
ontstellend is. ‘n Poets wat julle vir twee mense gebak het, het veroorsaak dat
daar haat tussen twee goeie mense ontwikkel het. Die wet sê nie jy mag niemand
‘n poets bak nie, maar dit wat julle as ‘n grap bedoel het, het haat tot gevolg
gehad. Twee mense se hiernamaals is in gedrang, daarom vra ek julle om die wa,
wat julle uit ‘n erf verwyder het, by die polisiestasie te gaan haal en dit
terug te besorg aan die eienaar. Wanneer julle oor die hoofstraat gaan, kyk
mooi dat julle nie voor aankomende verkeer beland nie. Die eienaar van die wa
het onderneem om geen klag teen julle te lê nie, maar hy verwag ‘n verskoning
van julle.”
Ons het die wa Maandag middag gaan
haal en by oom Kort van Draad gaan aflewer. Ons het hom om verskoning gevra. Hy
was vriendelik, soos ons dit nie van hom verwag het nie, maar toe sy hond stert-swaaiend nader kom, sê
oom Kort van Draad: “Moenie die hond vryf nie; hy is reeds te lief vir julle en
my draad kan dalk baie kort raak!”
No comments:
Post a Comment