Voorwoord

Voorwoord (Lees asb eers, indien dit u eerste keer by hierdie blog is, anders kan u gerus met die blad afrol ondertoe om by die blog uit te kom)

Daar het ‘n gedagte in my opgekom toe ek nog redelik jonk was, dat alles wat geskryf of gedruk is nie die volle waarheid is nie. Later het ek besef dat alles wat gelees kan word, bestaan uit kaf en korrels. Nog later het ek besef dat niks in die materie volmaak is nie, daarom kan geen geskrif net uit korrels bestaan nie. Die geskrifte wat jy voor jou het, liewe leser, moet asseblief op dieselfde grondslag beoordeel word. Ek vra jou nie om alles wat jy lees te aanvaar nie, maar soek die korrels volgens jou begrip en gewete uit.
Ongeveer halfpad deur my lewe het ‘n argument, in ‘n baie goeie gees met ‘n goeie vriend van my plaasgevind. Die vriend is ‘n seviele ingenieur en ons het gepraat oor ‘n ontwerp van ‘n staalbalk wat verkry kan word deur ‘n bestaande I balk tandvormig te sny en dan die “tande” op mekaar vas te sweis om ‘n groter balkdiepte en dus ‘n groter dravermoë te verkry.

Fig. 1
‘n Solide I balk word tandgewys gesny en dan word die twee helftes teenoor mekaar geskuif en weer aan mekaar gesweis om weer ‘n dieper I balk te vorm.
Fig. 2
Die vergrote I balk wat meer as 3 keer die dravermoë van die oorspronklike balk sal hê, sonder dat die gewig vermeerder.

Hierdie mag vir die leek ‘n bietjie te tegnies wees, maar wees egter geduldig, ek probeer die verskil in siening verduidelik.
My argument was dat sweislas S nie te kort mag wees nie, want dit sal tot gevolg hê dat die las gaan skuifskeur (shear). Hy het gesê daar is nie daardie soort spanning in die middel van ‘n balk nie. Eintlik was ek met my matriek ‘n bietjie vermetel om met ‘n ingenieur te stry oor iets in sy vakgebied. Ons verskil het gekom omdat ons die voorwerp verskillend gesien het. Hy het Fig. 2 as ‘n eenheid gesien, wat dit werklik was! Daarteenoor het ek dit as twee aparte balke gesien, omdat as sweislas S korter word, beweeg dit nader na 0, wanneer dit werklik twee balke is. Op een of ander lengte van die sweislas sou dit skuifskeur. Die ingenieur het later toegegee dat ek reg was, maar dit is nie van belang nie. Wat ek probeer tuisbring is dat verskillende mense op verskillende maniere na ‘n geskrewe stuk kyk en ek gaan geensins ‘n leser kwalik neem indien hy of sy van my verskil nie.
Dat ek met die geskrifte op mense se tone gaan trap is onvermydelik, maar as dit nie die geval was nie; waarom skryf ek dan? Indien die leser net ‘n paar “korrels” ontdek, is ek verheug en weet ek dat dit die moeite werd was. Sien tog maar die teenstrydighede oor, soos wanneer ek bv. snedigheid veroordeel terwyl ek self dikwels snedige dinge skryf. Ek self is baie ver van volmaak af, sien tog maar die foute oor.
Ook is ek nie ‘n taalkundige nie en daar is beslis baie ruimte vir verbetering, om vloeiende leesgemak te verseker, maar ek vra tog dat verandering versigtig gedoen moet word, aangesien ‘n woord verandering ‘n bedoelde begrip verlore kan laat raak.

Thursday, February 11, 2016

Is ek



Is ek…..?

            (1) Is ek ‘n siel met ‘n liggaam? Of (2) Is ek ‘n liggaam met ‘n siel? Wat is vir my die belangrikste? Die siel of die liggaam?
            Hoeveel mense vra die vraag aan hulle self? Hierdie vraag is moeilik om te beantwoord, maar tog kan ‘n skatting gewaag word. Dis onwaarskynlik dat meer as 1% van die aarde se bewoners al die vraag gestel het.
            Voordat ek verder skryf wil ek net ‘n gedeelte aanhaal uit Lewenswaarhede soos aangeteken deur Bertha Dudde om die samestelling van die menslike wese duidelik te stel. 1874 lees soos volg: “Die opbouing van ‘n menslike wese vereis steeds dieselfde bestanddele naamlik liggaam, siel en Gees. Die liggaam, die uiterlike omhulsel, voer die funksies uit wat deur die siel bepaal word. Dus is die liggaam maar net die orgaan waardeur die wil tot uitvoering gebring word. Maar op die oomblik van die dood het die siel geen orgaan meer nodig wat hom so op aarde ten dienste hoef te staan nie, omdat hy sy blyplek verwissel het met ‘n gebied waarin niks uiterlik sigbaar gedoen hoef te word nie. Die liggaam het afgeval, omdat dit slegs die omhulsel was vir die aardse loopbaan, waarin die siel homself moes vorm tot draer van Goddelike Gees. En die Gees, die derde bestanddeel van die lewende wese, sluimer wel in elke mens, maar begin eers werk, wanneer die wil van die siel meer aandag aan die Gees skenk as aan die liggaam”.
            Nou die vraag: Wat is my preoriteit; siel of liggaam? Kom ons kyk na die behoeftes en ook na die genietinge van die liggaam. Waar hou behoeftes op en waar begin genietinge? Daardie punt kan op ‘n glyskaal geweldig varieer, want vir een persoon sal geniet begin net waar behoefte eindig, vlak bokant hongerly, terwyl ‘n ander persoon se ‘behoefte’ sal aanhou tot by die vlak van ‘n luukse lewe verby. Hoe dit ookal sy, as die liggaam my hoogste prioriteit is, dan val ek onder groep 2, nl. ‘n liggaam met ‘n siel.
            Die mens wat die onderskeid kan tref tussen behoefte en onnodige luukse is gelukkig, indien hy ook daarvolgens kan leef.
            Om behoefte te bepaal is bykans onmoontlik, veral as dit oor ‘n groot gebied gedoen word. Vir die Koi San eindig behoefte by die bok wat hy skiet, die karos wat hy dra en die water  in die volstruis eierdop wat hy saam met hom dra, terwyl die moderne stadsbewoner moet staatmaak op water wat uit ‘n kraan kom, want water uit ‘n dam of rivier is baie vêr. Ook vir  elektrisiteit is daar nie ‘n plaasvervanger nie, dus verskil behoeftes wêreldwyd, maar kom ons kyk na basiese behoeftes, soos deur ons hemelse Vader as voorbeeld gestel vir Sy volk na die uittog uit Egipte. In Ex. 16:13-15. “En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar ‘n doulaag rondom die laer. En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond. Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarop sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat JaHWeH julle gee om te eet”. Water wat deel van voeding is, is ook voortdurend voorsien.
            Deut. 8:4. “Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie”.
            Wanneer ‘n mens die geskiedenis lees van die Israeliete se uittog uit Egipte, is dit baie duidelik dat hulle nie tente of enige vorm van behuising op daardie stadium met hulle saamgeneem het nie, tog het Elohim beskutting voorsien in die vorm van die wolk- en vuurkolom. In ‘n woestyn kan dit gedurende die dag baie warm word, maar dan was hulle oordek met ‘n wolkkolom, terwyl dit snags bitter koud kan word, maar dan was die hitte van die vuurkolom sekerlik so versprei dat hulle nie deur die koue beïnvloed is nie.
            Ex. 15:26. “…...As jy getrou na die stem van JaHWeH jou Elohim luister en doen wat reg is in Sy oë, en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Elohim  wat jou gesond maak”. Hier kom gesondheid ter sprake wat baie belangrik is!
            Wat het Elohim as behoeftes van sy volk beskou? (1) Voeding. (2) Kleding. (3) Behuis-  ing. (4) Gesondheid. Hierdie vier items het betrekking op die liggaam, wat beteken dat ons hemelse Vader niemand sal straf wat binne perke, hierdie basiese behoeftes sal aanwend tot voordeel van sy liggaam nie. Voedsel het Hy vir 40 jaar voorsien. Wat kleding betref het Hy gesorg dat hulle altyd klere gehad het. Die wolkkolom was hulle behuising. Hulle hemelse Vader het gesorg dat hulle nie siek word nie, solank hulle aan Hom gehoorsaam gebly het.
            Indien ek my liggaam voorsien van die basiese behoeftes, kan ek ‘n siel wees met ‘n liggaam, met die voorwaarde dat ek, siel, wat ‘n vrye wil het, dit op die regte manier gebruik. Ek,  siel, neem die besluite en is verantwoordelik vir die optrede van die liggaam. Ook moet my siel bewus wees dat my hemelse Vader ‘n deeltjie van Hom in my geplaas het, om as Raadgewer op te tree, indien ek voor ‘n probleem te staan kom. Ek moet Elohim en Sy voorskrifte voorkeur in my lewe gee en Sy Gees erken en met die nodige respek behandel.
            Indien ek ‘n liggaam is met ‘n siel, sal my optrede waarskynlik soos volg wees: My liggaam kry voorkeur deur al die genietinge van die materiële wêreld aan te gryp, so vêr my finansiële posisie toelaat en indien daar ‘n tekort is, kan dit selfs tot oneerlikheid lei. Eintlik word my siel deur my liggaam op so ‘n wyse beheer dat die twee onlosmaaklik gekoppel word. My siel word ‘n slaaf van my liggaam en die Gees word as onsinnig afgeskryf. Waarom ek nog sê ek het ‘n siel, is maar net omdat die predikant daarvan praat. Indien ek aan ‘n sekere organisasie behoort, glo ek nie eers wat die predikant sê nie. Ek gaan alles vergaar waarop ek my hande kan lê, sodat my liggaam alles kan geniet wat die moderne samelewing kan bied.
            Wat gebeur deesdae in die wêreld, maar veral ook in Suid Afrika. Geld word by die miljarde gesteel. Daar is selfs ‘n geval waar R2,000,000 uit die fonds gesteel is, wat bedoel is om bejaardes en gestremde mense te ondersteun. Wat maak die dief met dit wat hy gesteel het? Hy gebruik dit om sy eie liggaam met alle luukshede toe te gooi. Daar is nou ‘n voorbeeld van ‘n mens waarvan die siel onlosmaaklik in die materie van die liggaam verstrengel is. Hy bekommer hom nie oor sy siel met ‘n ewigheid as lewensspan nie, maar net oor die liggaam wat ‘n lewensspan van hoogstens 100 jaar het!
            Is alle mense wat baie aardse besittings het verdoem? Is dit onmoontlik om ‘n siel met ‘n liggaam te wees as jy baie aardse besittings het? Geensins, Kyk wat sê Jahshua          aan ‘n Romein in D.N.O. Boek 3 14:9-11. “Dit word Salomo tog ook toegestaan, en selfs beveel, om hom met so ‘n prag te beklee soos wat geen koning vóór hom gedra het nie en na hom ook geen koning ooit weer sal dra nie. Solank hy geen domme, ydele vreugde daaraan verbind het nie, maar ‘n korrekte vreugde wat op wysheid berus was, was die vreugde verheffend vir sy siel en sy gees. Toe hy egter later vanweë die groot praal ydel word en die hoogmoed van hom meester word, verdwyn al sy praal voor Elohim en al die beter mense en hy verval in al die sonde van die wêreld van oorvloed en sy werke en dade word deur die beter mense gesien as dwaashede en voor die aangesig van Elohim was dit ware gruwels.
            Ek sê vir jou en ook aan alle ander, dat dit selfs goed en nuttig is vir die mens wanneer hy, as hy met ‘n ryp siel en gees reeds op hierdie aarde die prag van die hemele naboots en sy hart op die regte wyse daaraan verwarm. Want dit is lofliker om te bou as om te vernietig. Maar slegs mense wat heeltemal na siel en gees ryp is, sou so iets kan doen, sodat die onrypes kan uitvind  wat ‘n ryp mens alles tot stand kan bring.
            Maar wie vir eie eer en roem ‘n paleis vir homself bou en uiteindelik homself in sy prag op ‘n voetstuk plaas, begaan ‘n groot sonde teen sy eie siel en sy goddelike gees en hy bederf homself en al sy nakomelinge, wat hulle dan al vanaf die geboorte baie hoër ag as die ander mense”.
            Dit word algemeen aanvaar dat die kinders van ryk ouers baie gelukkig is, want hulle kan baie aardse goedere erf sodat hulle die lewe goed versorg kan begin. Uit die vorige paragraaf is dit duidelik dat daardie veronderstelling gladnie waar is nie. Eintlik begin die ryk mense se kinders met ‘n agterstand, want hulle is bederf met ‘n totale wanbegrip van wat behoeftes is. Die ou spreekwoord: “Erfgeld is swerfgeld” is in die meeste gevalle baie waar!

No comments:

Post a Comment